sekspraatjie
sekspraatjie

Die sekspraatjie: Hoe praat ek met my kinders oor seks?

Om die sekspraatjie met jou kinders te hê is iets wat baie ouers vrees. Die blote gedagte daaraan om oor so ’n moeilike onderwerp met jou kinders te praat laat vele van ons bly uitstel. Navorsing wys egter hoe belangrik dit is om hierdie praatjie nie net een keer met jou kind te hê nie, maar dat dit ’n voortdurende lewenslange gesprek moet wees. Deur sielkundige Gerda Kriel

Vir eeue lank was die sekspraatjie eers gedurende vroeë adolessensie gedoen; soms deur ouers en ander kere deur ongemaklike onderwysers tydens skoolklasse. Navorsing wys egter hoe belangrik dit is om hierdie sekspraatjie eerder met ’n lewenslange gesprek te vervang. Die gesprek kan reeds gedurende kleutertyd begin. Om jou kinders se genitalië op hulle regte mediese name te noem, kan die begin wees van hierdie lewenslange sekspraatjie. Dit is iets wat jou kind kan help om liggaamsvertroue te ontwikkel, wat op sy beurt weer kan help dat hulle nie gedruk voel om aan sekere seksuele dade waaraan hulle nie wil deelneem nie, deelneem nie.

Onthou: kennis is mag. As jou kind se ouer kan jy die hekwagter wees van die kennis waartoe jou kind toegang het.

Om die onderstaande wenke te gebruik kan jou help om daarop te fokus om jou kind se bron van kennis te wees oor seks. Dit is iets wat hulle geweldig sal bemagtig in hierdie moeilike wêreld van seksuele kennis.

Vier wenke oor hoe om ’n lewenslange sekspraatjie met jou kind te hê

1. Begin jonk

10 (soms selfs vroeër) is die gemiddelde ouderdom waarop kinders aan aanlyn seksuele inhoud blootgestel word. Die goue reël oor wanneer om met jou kind te begin praat oor seks is “eight is too late.” Begin deur al gedurende die kleuterjare deur jou kinders se gentialieë op die korrekte anatomiese name te noem. As jy dit sommer maar só doen, sonder ongemak of skaamte, sal jou kinders ook nie ongemaklik of skaam wees om die woorde te gebruik nie. (Die ongemak is net jou eie!).

Jy kan al met jou kinders oor die basiese beginsels van seks begin praat voordat hulle primêre skool toe gaan. Byvoorbeeld om ’n baba te maak, moet mamma en pappa op ’n liefdevolle manier saamkom sodat pappa ’n klein saadjie in ’n eiertjie in mamma kan sit, waardeur ’n baba geskep word. Beantwoord enige vrae wat jou kind het net sonder ongemak. Soos jou kind ouer word, kan jy meer besonderhede gee. As jou kind eers die tienerjare betree, moet seks ’n gemaklike onderwerp wees. Dit is dan juis belangrik dat jou kind jóu as die gesag op die gebied sien sodat hulle jou raad kan vra.

2. Bly feiteliks medies

Hou emosie uit die gesprek. Verduidelik die biologiese meganismes en gebruik ’n neutrale stemtoon wanneer jy verduidelik wat is wat. Beantwoord jou kinders se vrae feiteliks en medies korrek. Moenie enige vrae afmaak nie. As jou kind iets vra wat jy nie dadelik kan beantwoord nie (byvoorbeeld as jou ouer kind uitvra oor orale seks voor jou kleuter) is die goue reël om vir jou kind te sê dat jy sy/haar vraag sal beantwoord sodra julle alleen is. En wees dan konsekwent en beantwoord die vraag sodra jy die geleentheid kry.

3. Fokus op julle band

Die band tussen jou en jou kind is wat hierdie gesprekke moontlik maak. Bou ’n sterk band met jou kind en maak seker dat jy eerlik en deursigtig (en natuurlik ook ouderdomsgepas) is. Dit help dat jou kind jóu vertrou en as die gesaghebbende wat jy in hul lewe is, sien.

4. Verduidelik toestemming

Verduidelik vir jou kind dat toestemming vir seks nie ’n louwarm instemming moet wees nie, maar lewendige entoesiasme. As jou dogter nie opgewonde is om seks te hê nie, is dit ’n nee. As ’n seun wil seks hê, en die meisie (of seun) nie entoesiasties instem nie of onseker is, moet die antwoord geïnterpreteer word as nee. Te veel tieners het seks omdat hulle skuldig en onder druk voel en word deur die ondervinding getraumatiseer.

Om toestemming te gee beteken om kennis te hê en self ’n besluit te neem. Beoefen ook hierdie toestemming in jou eie huis deur enige fisiese grense wat jou kind dalk het te respekteer. Selfs as jy hulle speels kielie en hulle sê nee of vra jou om te stop. Stop dadelik. Dit leer hulle dat hulle die ‘nee’ mag het.

Om kennis oor seks te hê kan bemagtigend wees, en dit is tyd dat ons ons kinders bemagtig. As hulle nie by ons van seks hoor nie, gaan hulle dit by hulle vriende uitvind. Ek weet nie van jou nie, maar ek sal eerder wil hê my kind moet die regte seks-opvoeding by my kry, as wat hulle dalk ’n verwronge perspektief daarvan kry by hulle vriende.

Jy, liefste ouer, is jou kind se grootste bondgenoot as dit by hulle seksuele kennis kom. Mag jy die rol met verantwoordelikheid, entoesiasme en grasie speel.

Gerda Kriel

Lees ook: Kry jou kind aan die gesels met die agt wenke


Gerda Kriel

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
avontuur lugballong
Drie redes waarom avontuur goed is vir jou
error: Content is protected !!