Die Italianers se Dolce Far Niente is een van die jaar se top welwees-trends. En dit is geen wonder nie, want die saligheid van niksdoen (sonder om skuldig te voel) is juis waarna baie van ons met nimmereindige besige skedules smag. Deur Suzanne Kotzé
Die Italianers se Dolce far Niente
As jy dalk wonder hoe om Dolcé far Niente uit te spreek: Daltshy vaar nie enty. Of luister gerus hier
Die Italianers is bekend daarvoor dat hulle die eenvoudige plesiertjies in die lewe geniet (’n luilekker espresso in die son) en ’n meer gebalanseerde leefstyl het.

In die fliek Eat, Pray, Love sit Julia Roberts (wat Elizabeth Gilbert vertolk) in ’n manssalon (barber) terwyl sy vertel dat sy skuldig voel omdat sy net eet en ’n paar woorde Italiaans leer.
’n Italiaanse vriend sê dan: “Jy voel skuldig omdat jy Amerikaans is.
Julle weet nie hoe om julle self te geniet nie. Julle werk te hard en brand uit. Julle kom huis toe en spandeer die hele naweek in julle pajamas voor die TV.”
Hy veruidelik dat terwyl Amerikaners wag vir iemand om vir hulle te sê jy verdien dit om jouself te geniet, Italianers niemand nodig het om vir hulle te sê om die lewe te geniet nie.
Nog ’n Italianer verduidelik:
“We call it Dolcé far Niente, the sweetness of doing nothing.”
Hierdie is iets wat my tot vandag toe bybly, al het ek hoe lank gelede die fliek gekyk (en die boek gelees).
Kyk gerus na die uittreksel (slegs ’n minuut lank) hier
Met hierdie kultuur van hulself geniet, om bewustelik in die oomblik te wees (sonder om skuldig te voel) is dit dalk geen wonder dat Italië ’n blou sone (dele waar mense langer leef) is nie.
Niksen, Shunyata, Boketto en f-ol doen.
Die Italianers is egter nie die enigste nasie met hierdie konsep nie.
Die Nederlandse het natuurlik Niksen. Jy het dalk al Niksen op Stylvol raakgelees. (As jy nog nie het nie, lees gerus hier) Niksen verwys daarna om niks te doen nie en net te wees.
Dan is daar ‘shunyata’ wat in Zen Boedhisme voorkom en daarna verwys om jou brein/denke leeg te maak.
Die Japannese gebruik weer die term en filsofie van Boketto.
Boketto beteken om in die niet te staar sonder om aan enigiets spesifiek te dink.
En dan is daar natuurlik die Afrikaanse woord, f#k@ol doen of leeglê. Maar hierdie frases het natuurlik ’n negatiewe konnotasie, wat gewoonlik neerhalend uitgespreek word, of met skuldgevoelens gepaard gaan. Met vele van ons wat Calvinistiese wortels het, is die kuns van niksoen, of die saligheid van niksdoen, dalk nie iets wat ons onsself toelaat nie. Hoeveel van ons hoor nie die denkbeeldige “Vele hande maak ligte werk” en “Die son trek al water” in ouma se stem, die oomblik as jy dink daaraan om bietjie niks te doen nie.
Die voordele van Dolce Far Niente

1. Stimuleer kreatiwiteit
Ek het lank gelede ’n praatjie van die sjef en El Bulli eienaar Ferran Adria bygewoon. Die Spaanse restaurant (wat ongelukkig nie meer bestaan nie) was eens die bekendste restaurant ter wêreld. Die restaurant was net vir ses maande van die jaar oop, want Ferran het geglo dat ’n mens tyd af nodig het om nie net jou battery te herlaai nie, maar ook jou kreatiwiteit te stimuleer. Die passie waarmee hy oor hierdie aftyd en die belangrikheid daarvan gepraat het, is iets wat my tot vandag toe bybly.
2. Help met probleemoplossing
As jy oormoeg is, is dit moeilik om probleme op te los en logies te dink. Om jou battery te herlaai deur niks te doen nie, kan met probleemoplossing help.
3. Verbeterde produktiwiteit
Niksdoen en produktiwiteit voel dalk soos teenoorgesteldes, maar navorsing wys gereeld breke verbeter konsentrasie en aandag. Gereelde mikro-breke (van rek en strek tot dagdroom of gesels met kollegas) het ’n positiewe effek op deelnemers se werk gehad.
4. Beter luim
Om niksdoen te geniet en die oomblik te waardeer help om jou brein ’n blaaskans te gee en help ook om jou emosies te reguleer.
Pas Dolce Far Niente so toe
1. Gun jouself Dolce Far Niente
Hou op skuldig voel. Jy het nie nodig vir iemand om jou toestemming te gee of vir jou te sê jy verdien ’n breek nie.
2. Prop uit
Foontyd en sosiale media kan jou so maklik insluk, en as jy weer sien is ’n halfuur verby waar jy net doelloos ‘scroll’ en dalk TikToks of Insta reels kyk, sonder dat dit iets beteken. Neem tyd weg van jou foon. Jy het het nodig om weer bietjie verveeld te wees.
3. Verminder vraatkyk
Kyk hierdie is beslis ’n plesiertjie, veral na ’n lang week. Maar dink aan die Eat, Pray, Love storie van vroeër. Gaan dit nog ’n skermtyd, pajama-naweek wees, waar alles later net ‘blur’? Of gaan jy tyd maak om oomblikke te geniet en jou sintuie in te span.
4. Vind ’n gemaklike spasie
Rig vir jou ’n niksdoenhoekie in. Hetsy dit ’n gemakstoel in jou kamer is, waar jy in die oggendson ’n koffie of tee kan geniet, of ’n bankie in jou tuin. Maak seker jy sit gemaklik, sodat jy ’n tydjie lank kan bly sit.
5. Span jou sintuie in
Sien die bome raak terwyl jy voor jy uitstaar, voel die sonlig op jou vel, hoor die voëltjies, ruik die koffie en proe die geure.