welwees-konsepte
welwees-konsepte

7 welwees-konsepte van regoor oor die wêreld wat jy gerus kan toepas

Ons kan beslis leer by hierdie welwees-konsepte, van Japan tot Denemarke, Nederland, Noorweë en Swede. Wees gereed om ’n paar nuwe woorde te leer (en hopelik te gebruik ook). Deur Suzanne Kotzé

Welwees-konsepte van reg-oor die wêreld

Een van die beste dinge van reis, is om meer te leer oor ander lande se kulture en gebruike. En om net meer te lees van hierdie konsepte, maak ons ook sommer lus om meer te reis en te sien hoe dit toegepas word. Hetsy dit is om in ’n Japanese woud te staan en die natuurskoon te waardeer of om ’n tydsame koffie in Swede te drink of om ‘gezellig’ te verkeer in Nederland.

1. Fika

Afkomstig van: Swede

Spreek dit uit: fee-ka

Wat beteken dit: koffie-en-koek-breek

Maar dit is soveel meer as net dit. Dit word as ’n denkwyse en houding gesien wat ’n belangrike deel vorm van die Sweedse kultuur.

Die Sweedse manier van ’n breek by die werk neem, is gewoonlik deur te ‘Fika’.’n Konsep wat so gewild geword het dat daar selfs boeke oor geskryf is; Fika: The Art of The Swedish Coffee Break deur Anna Brones en Johanna Kindval.

Die twee-daaglikse sosiale koffiebreuk is ’n geliefde Sweedse gewoonte. En saam met die koffie word daar gewoonlik iets soets ook geniet! Fika kan alleen geneem word of in groepe, solank jy afskakel. Geen e-posse en werksoproepe terwyl jy Fika nie. En beslis ook nie alleen by jou lessenaar by jou rekenaar nie.

“Die geheim is om op te hou met wat jy doen en jou tyd te neem om die eenvoudige dinge in die lewe te geniet.”

Baie studies wys dat so ’n gereelde (en werklike) afskakel juis goed is vir produktiwiteit.

So pas jy dit toe

Maak tyd om ’n koppie koffie (of tee as jy nie koffie drink nie) te geniet, hetsy dit alleen, saam met vriende of kollegas is. Sit jou foon sommer op ‘airplane mode’ vir daardie 10 minute, en geniet dit wat jy eet en drink en die geselskap. Maak dit ’n daaglikse instelling.

2. Friluftsliv

Afkomstig van: Noorweë

Spreek dit  uit: free-looft-sliv

Wat beteken dit? Dit kan nie direk vertaal word nie, maar losweg beteken dit ‘buitelug lewe’.

In ’n land met lang, donker winters het die Noorweërs geleer om die meeste van hul tyd in die natuur te maak, selfs al is dit hoe koud.  ’n Noorweegse digter het die term vir die eerste keer in 1850 gebruik om te beskryf hoe buitelugtyd jou spirituele en geestelike welwees kan verbeter. Vandag is dit deel van Noorweegse kultuur en word vir enigiets van ’n buitelug stap tot tyd in die sauna na ’n see-swem gebruik.  Dit gaan daaroor om vars lug in te asem, die eenvoud van die natuur te geniet en waardeer en stil te word.

As Suid-Afrikaners met lang somers, is die meeste van ons geneig om baie tyd in die buitelug deur te bring, maar gedurende ons winter hiberneer baie van ons net tuis. Ons winter-temperature voel dalk nog ‘somers’ vir die Noorweërs.

Pas Friluftsliv so toe.

Sit ’n mus en ’n serp aan en gaan stap in die natuur. Verruil die gimnasium vir ’n buitemuurse oefenklas (jy word in elk geval vinnig warm) of gaan swem in die see as jy aan die kus bly.

3. Hygge

Afkomstig van: Denemarke

Spreek dit uit: hoe-guh

Wat beteken dit: Daar is geen direkte vertaling nie, maar ‘snoesig’ word oor die algemeen gebruik om dit te beskryf.

Hygge verwys na daardie gevoel van genoegdoening wat jy kry as jy snoesig binnesmuurs ontspan en die klein, alledaagse dinge in die lewe geniet. Van kerse aansteek, ’n heerlike gebak eet, op jou bank opkrul onder ’n gebreide kombers en ’n warm koppie koffie drink. En dit gaan nie oor alleen wees nie, jy kan alleen hygge in ’n kombers toegedraai, maar dink ook aan die gesellige gevoel van vriende wat om ’n kaggelvuur ontspan.

Daar is ’n groot dekor-element ook rondom die term. Om jou huis te ‘hygge’ beteken om dit meer snoesig te laat voel. Dikwels deur meer tekstuur in te bring, kerslig ens. As dit egter by welwees kom, verwys hygge ook na die gevoel van genoegdoening, ontspanning en tevredenheid. (Die prentjie van ’n kat wat purr van lekkerte, dalk voor ’n kaggel lê. Hygge is so deel van die kultuur dat dit as ’n werkwoord of byvoeglike naamwoord gebruik kan word. Dokters beveel glo selfs tee en hygge aan vir verkoue.

Die konsep het wêreldwyd so populêr geword dat daar in 2017 sewe boeke hieroor geskryf is en dit selfs op die kortlys was vir Oxford woordeboek se woord van die jaar.

So pas jy Hygge toe

Steek ’n lekkerruik kers aan, draai jouself toe in ’n kombers, brei voor die kaggelvuur terwyl jy met vriende gesels. Solank jy genoegsaam en kalm voel en ’n breek neem van jou besige lewe deur dinge teen ’n rustiger pas aan te pak.

4. Gezellig

Afkomstig van: Nederland

Spreek dit uit: Gezellig

Wat beteken dit: ‘gezel’ verwys na metgesel en dus ook geselskap.

Hierdie laat ons amper aan Hygge dink, maar die gevoel van en die atmosfeer van genoegdoening wat jy kry as jy saam met goeie geselskap is. Styvol-vriendin Vickie de Beer wat in Nederland bly, verduidelik. “Omdat ons die woord in Afrikaans ook het dink mens dit is soos om gesellig te kuier, maar dit is soveel meer hier in Nederland om gezellig te wees. Dit gaan oor samesyn en waardering vir jou mense en die tyd wat jy deurbring saam met mense te geniet.

Die Nederlanders word baie keer gesien as van die gelukkigste nasies ter wêreld en een van hierdie is hulle sosiale omgang met mense. Hulle is besige, aktiewe mense en altyd besig om goed te reël. Dit is vir hulle belangrik om hulle tyd goed te gebruik. Gezellig en samesyn gaan vir my baie saam. As jy vir jou baas in Nederland sê jy gaan stap in jou middag-etes, of jy wil vroeg waai by die werk om na jou kind se Kers-konsert te gaan kyk, word daan geen vrae gevra nie, familie en vriende kom eerste. Dit is baie anders as in Suid-Afrika, waar mens soms gevoel het of jy dit wil wegsteek as jy iets vir jou familie moes doen in werkstyd, is dit hoogste prioriteit hier.

Toe ons pas Nederland toe getrek het gedurende Covid, was dit donker en koud. En toe vries die gragte en ewe skielik is almal buite langs die gevriesde gragte en daar is samesyn en dit voel gesellig. Met musiek wat speel en Covid of te nie, almal was daar. Dit was so ’n magical moment en seker die eerste keer wat ons daardie geselligheid en samesyn ervaar het.”

So pas jy dit toe

Geniet die tyd wat jy saam met vriende en familie deurbring en maak die meeste daarvan. Sonder of moeg of geirriteerd te wees. Jy kan later niksen (lees verder onder ‘Niksen’)

5. Lagom

Afkomstig van: Swede

Spreek dit uit: lah-khom

Wat beteken dit: nie te veel nie en ook nie nie min nie

Die eintlike oorsprong van ‘lagom’ is glo vanaf die Viking-era wanneer kos rondgestuur is onder almal (laget om onder die span) en almal net geneem het wat hulle toekom. Nie te veel nie en ook nie te min nie. En dit is ’n beginsel waarby Swede tot vandag toe nog leef.

Dit gaan oor matigheid, gelykheid en balans. Dit is ’n filosofie om ’n gebalanseerde lewe te lei (van werk tot ontspanning, familie en kos).

“‘Lagom’ is die ‘Sweedste’ woord wat daar is,” vertel Lina Skandevall, Sweedse entrepeneur, koskenner en reisskrywer toe ek haar uitvra na die term.  “Dit is verseker ’n sterk deel van ons kultuur.

Dit het ’n negatiewe en positiewe gevoel. Die negatiewe is: ‘moenie te veel wees nie’ waar die positiewe is ‘leef meer gebalanseerd. En wees goed vir jouself. Jy hoef nie die vinnigste marathon atleet te wees, of die beste motor te hê of die gesondste joga ghoeroe te wees nie. 

“Jy kan balans vind deur net genoeg te doen. Doen lagom.”

So pas jy dit toe

Wees bewustelik as jy inkopies doen, en koop net dit wat jy werklik nodig het. Pas werk-lewe balans toe (die Swede is bekend vir hulle kort werksdae). Organiseer jou huis en raak ontslae van alles wat jy nie nodig het nie.

6. Niksen

Afkomstig van:  Nederland

Spreek dit uit: Niksen

Wat beteken dit: om niks te doen nie en net te wees.

“Net om te wees is ’n baie groot ding. Kinders word nie besig gehou, soos ons met allerhande klassies en aktiwiteite nie. Van jongs af doen kinders net ‘niksen’ sondat dat ouers hulle hoef te vermaak of aktiwiteit te reël. Om kinders net te laat wees. Aan die een kant is Nederlanders baie besig, maar aan die ander kant is hulle ook baie goed om net in die oomblik te wees. As jy in die straat stap, sal jy iemand alleen op hul stoep sien sit, net besig om die sonlig te geniet. En dit is mense wat werk het, hulle het nie niks om te doen nie. In die somer lê mense weer langs die gragte en geniet die sonlig,” vertel Vickie de Beer, wat tans in Nederland woon.

Dit is dus belangrik om tyd te maak om af te skakel (veral in ’n tyd waar ons gedurig besig is om werks e-posse na-ure te beantwoord of op sosiale media te wees) en die oomblik te waardeer en te geniet.

So pas jy dit toe

Bêre jou foon en neem tyd om klein dingetjies te waardeer, soos om te baai in die wintersonnetjie wat deur jou kamervenster val, of vir die kaggelvuur te sit en staar. Wees ‘mindful’ en geniet die oomblik.

7.  Shinrin-yoku

Afkomstig van: Japan

Spreek dit uit: shin-rin-jo-ku

Wat beteken dit: letterlik vertaal om ‘in groen te bad’

Die ‘bad’ beteken egter nie ’n letterlike bad nie, maar eerder om jou sintuie te baai in die natuur. Dit is ’n manier om emosioneel te herstel en genesing te bewerkstellig terwyl jy tyd in die natuur deurbring. En nie deur oefening te doen nie, maar bloot in die natuur te wees en jou sintuie te gebruik.

So pas jy dit toe

Spandeer tyd in die natuur (of selfs jou tuin) en neem alle afleidings weg Laat jou vrese, bepeinsinge en gedagtes eenkant. Klim binne in die teenwoordige tyd in. Anker jouself; skoene uit. Staan kaalvoet op die grond of groen gras. Fokus op die gevoel van die swaartekrag wat jou na die aarde trek, die sensasie van Moeder Natuur onder jou voete. Luister na minstens drie geluide van die natuur om jou. Sien raak. Merk minstens twee visuele elemente op waaraan jy jou kan anker. Die kleur van blomme of iets wat uitstaan. Selfs die verskillende kleure groen rondom jou. Voel. Fokus op een fisieke sensasie; die son op jou vel, die wind in jou hare of enigiets wat jou tassintuig prikkel. Haal diep asem. Fokus op die oomblik en teug die groen rondom jou in.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Trix Viviers
Trix Vivier gesels oor die liefdesdriehoek van aktrise-, ma- en jouselfwees
error: Content is protected !!