Mag hierdie introvertgids jou help om die sosiale seisoen, wat besiger as ooit voel, te oorleef. Hier is kundige raad. Deur Suzanne Kotzé.
01/12/2022
Maar eers, wat beteken die term introvert?
Sielkundige Carl Jung het gedurende die 1920’s met die introverte en ekstroverte teorie na vore gekom. “Kortliks kom dit daarop neer dat introverte hulle eie ‘kopspasie’ nodig het en tyd alleen om te herlaai, terwyl ekstroverte mense en konneksie met ander nodig het om te herlaai,” verduidelik Elize Blerk van Therapy Now. Carl Jung het ook wel geglo dat mense nie 100% net ekstroverties of introverties is nie, maar ’n mengsel van die twee, maar tog meer neig na die een of die ander.
“Ekstroverte en introverte se breine werk verskillend. Navorsing het bewys dat introverte se bloed meer na die frontale lob vloei as die van ekstroverte. Hierdie deel van die brein help ’n mens goed onthou, probleemoplossing doen en vooruit beplan.”
Daar is natuurlik baie verskillende soorte introverte en niemand is dieselfde nie. As introvert is dit wel belangrik om jou self te eer deur tyd met jouself deur te bring om jou energievlakke op te bou.
Daar is baie verskillende soorte introverte en daar is nie ’n one size fits all approach nie. Dit is belangrik as jy ’n introvert is om te weet dat jy jouself mag eer betoon om tyd met jouself deur te bring om energievlakke op te bou.”
Die introvertgids; 10 wenke om die sosiale seisoen te oorleef.
Elize Blerk, eienaar van Therapy Now gee raad.
1. Kies ‘maklike’ uitstappies
Weet jy is nie alleen nie en baie mense voel soos jy. 99,9% van die tyd gaan jy dit nie wil doen nie. Dit is wel belangrik om jouself uit te daag en ‘maklike’ uitstappies te doen eerder as een groot, uitputtende uitstappie.
2. Sny tyd uit eerder op in korter, beheerbare tye
Neem jou eie voertuig sodat jy kan gaan wanneer jy genoeg gehad het. Dit is belangrik om nie een minuut langer te bly as wat jy gewoonlik sou nie. Om toe te gee onder druk om ‘net nog ’n bietjie langer te bly’, kan jou net meer angstig laat voel.
3. Kies die tyd van die dag goed
As jy dit makliker vind om in die oggend uit te gaan as in die aand, ‘don’t set yourself up for failure’ deur ja te sê vir ’n klomp aand-aktiwiteite. Stel eerder die oggend, of gedurende die dag voor as alternatief.
4. Stel jou gasheer/vrou vooraf in kennis dat jy nie lank kan bly nie
As jy byvoorbeeld ’n belangrike funksie of ’n Kersete moet bywoon, laat jou gasheer/vrou vooraf weet dat jy nie lank gaan kan bly nie. So kan jy die druk om lank te moet bly, van jou afhaal en die funksie/ete verlaat wanneer jy genoeg gehad het.
5. Vra vir ondersteuning
Die teenoorgestelde van isolasie is konnekise. Jy sal verbaas wees hoeveel empatie mense dalk het as jy eerlik en weerloos is oor hoe jy voel, eerder as om ’n leuen te vertel oor hoekom jy nie ‘kan kom nie’ of ‘moet gaan’.
6. Sê nee
Daar is niks fout mee om ‘nee’ te sê vir ’n uitnodiging nie. Dit is belangrik om jou outentieke self te omhels en nee te sê as jy voel dat jy nie kan nie.
7. Neem ’n asemhalingsbreuk tydens sosiale geleenthede
Hierdie tyd van die jaar is die meeste mense uitgebrand en moeg. Ons wil nie almal sit en ‘small talk’ maak nie. As jy by ’n funksie is en moeg en oorweldig voel, gaan buitentoe en skep vars lug. ‘Box breathing’ werk baie goed om jou angsvlakke af te bring en om konneksie met jouself te skep.
Doen ‘box breathing’ so
- Asem in terwyl jy stadig tot by vier tel. Voel hoe die lug jou longe binnevloei.
- Hou jou asem vir vier tellings (sekondes) en probeer om nie in of uit te asem nie.
- Asem deur jou mond uit vir vier tellings (sekondes).
- Herhaal stap 1-3 tot jy beter voel
8. Vra vir ’n drukkie
Jy sal dit dalk nie glo nie, maar daar drukkies het wonderlike gesondheidsvoordele en navorsing bewys dit ook. As jy oorweldig voel, vra iemand wat jy ken en vertrou vir ’n drukkie. Dit kan spanning en angstigheid verminder en endorfiene vrystel en ook die goedvoel hormoon oksitosien afskei.
9. Drink genoeg water
Deur gehidreerd te bly, kan dit jou help om minder moeg te voel. As jy alkohol drink, wissel gerus jou alkoholiese drankie af met ’n glas water.
10. Slaap genoeg en werk sagkens met jouself
Maak seker jy kry genoeg slaap, sodat jy minder moeg voel. Moet ook nie te hard op jouself wees nie. Onthou familiegeleenthede is nie soos in flieks nie. In die werklike lewe kom almal nie altyd oor die weg nie, en daar is niks fout daarmee om anders te voel as die mense om jou nie.
Lees ook: Sewe wenke om af te skakel voor slaaptyd
Onthou egter daar is nie ’n perfekte resep vir hierdie dol tyd van die jaar nie en ons almal doen dit anders.