Daneel van der Walt oor Suzette en Nêrens, Noord-Kaap Deel II

Nêrens, Noord-Kaap Deel II is hier en ons gesels met Daneel van der Walt oor haar rol as Suzette, en die grootste uitdagings en lekkertes tydens die verfilming. Deur Suzanne Kotzé.

Nêrens, Noord-Kaap Deel II

Nêrens, Noord-Kaap was een van die trefferreekse van 2021, en die laaste episode is skaars uitgesaai toe begin die meeste van ons al wonder wanneer kom daar nog. KykNet deel dat kykers gesmeek het: Vertel asseblief verder aan die storie van die Adendorffs van Nêrens, die familieplaas in die Noord-Kaap.

En ook by Stylvol het ons gereeld navrae gekry oor wanneer die tweede reeks nou begin. Die afgelope twee jaar het soveel van julle ons artikel Hoera, vir Nêrens,Noord-Kaap Seisoen 2 gelees dat ons gereeld vir kykNET moes kontak om te hoor, wanneer kom dit dan nou. Ons en ons lesers wil weet!   Die tyd het eindelik aangebreek! Op 17 September 2024 is die lang wag verby wanneer Nêrens, Noord-Kaap Deel II om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin. Dié reeks van 13 episodes begin waar die eerste 13 episodes geëindig het. Al die hoofspelers van Deel 1 is in Deel II te sien, en dieselfde produksiespan was agter die skerms doenig.

Waaroor gaan Nêrens, Noord-Kaap Deel II?

kykNET deel: Ná afloop van die wankelrige reis terug na hul ouerplaas, Nêrens, probeer drie broers en hulle pa mekaar ná jare van vervreemding opnuut leer ken. Maar hoe leer jy liefhê as die dolk van ’n ma se dood steeds diep in almal se harte steek? Soos met Deel I, is daar tonele in die hede asook in die verlede toe die drie broers nog jonk was, wat help om die legkaart te bou van hoe hulle beland het waar hulle vandag is.

Daneel van der Walt oor Suzette

Ons was gaande oor Daneel se vertolking as Suzette en móés net weer met haar gesels aangesien ons ook met haar gesels het na afloop van deel 1. Lees gerus die artikel: Daneel van der Walt: Nêrens, Noord-Kaap het my hierdie 3 geestesgesondheidslesse geleer.

Die grootste lekkertes om weer Suzette te word

“Die lekkerste, by verre, was die mense. Dit was so ’n wonderlike geleentheid om weer op daardie stel te kon stap. Baie van die mense wat agter die skerms gewerk het met die eerste deel, was weer daar vir die tweede. Dis so ’n lieflike reünie wanneer ’n mens weer met wonderlike mense soos Nagvlug films (die vervaardigers) kan werk. En dan natuurlik om weer elke dag vir Albert (Pretorius, wat Ronnie vertolk) en Arnold (Swart,wat Lourens vertolk) te kan sien,” deel Daneel. 

Die verfiliming het weer in Niewoudtville plaasgevind.  “Niewoudtville het weer glad nie teleurgestel nie. Daar was ’n hitte wat net ons Karoo kan besorg. So ons almal het lekker gesweet. Maar daar is moeiliker dinge in die lewe as net warm kry.” Behalwe vir die warm kry, was die Daneel net  dankbaar om weer in die Adendorf draaikolk te klim.

En was dit nie moeilik om weer deel te wees van al die swaar emosies en verhoudings nie? “Moeilik is mos eintlik ’n seën,” sê Daneel.

Daneel oor Suzette en Lourens (Arnold Swart) se spesiale verhouding:

Die spesiale band en verhouding tussen Suzette en Lourens was opvallend tydens deel een. (Daai toneel op die strand bly ons nou nog by!) En die manier hoe hierdie twee nie veel woorde nodig gehad het om te kommunikeer nie.

Hoe het dit gevoel om weer vir Arnold te sien en teenoor hom te kon speel? “Ons was albei so opgewonde om weer saam te kon speel. Ek kon nie glo hoe groot hy geword het nie! Ek weet ons volwassenes is altyd geskok oor hoe vinnig kinders groei. En dit was net so verskriklik lekker om nog te kon speel en kuier. Arnold is ’n besonderse mens. Ek het net respek en liefde vir die jong man. Ek sal altyd dankbaar wees dat ons ontmoet het.” Daneel. 

Suzette en Ronnie se verhouding

Ons het mooi gevra, maar Daneel mag niks verklap oor hul verhouding in deel 2 nie! “Ek het in my kontrak belowe. Geduld maar!”

Daneel deel dat sy wel baie by Albert Pretorius (Ronnie) leer as akteur. “Wat ek by hulle verhouding geleer het, is maar net geduld, eerlikheid en genade met mekaar. Elke verhouding leer ons iets. Of dit nou oor onsself of oor mense is.

Ek sien Ronnie nie as sukkelaar nie. Ronnie se hart is gebreek. Dis al. Party mense staan moeiliker op as ander. Dis nie ’n kompetisie nie. Mag ons almal daar kom aan die einde.”

Toneelspel bly ’n leerproses

“Een van die redes hoekom ek so lief is vir hierdie werk, is die feit dat ’n mens altyd leer. Of oor die werk, of oor jouself. Elke liewe keer. En ek is elke liewe keer dankbaar daarvoor.”

Meer oor Daneel van der Walt

Foto: Zaheer Banderker.  

Daneel beskryf haarself as ’n vervelige mens. “Stories en musiek is die interessantste ding omtrent my. Ek mediteer en oefen in die oggend en dan probeer ek werk vind, soos almal maar.”

Daneel is lief vir lees, en lees tans The Handmaid’s Tale van Margaret Atwood en Sapiens van Yuval Noah Hararri (vir die tweede keer, dis baie informasie).  Daar’s maar altyd ’n paar boeke gelyk aan die kook. 

Daneel sien moeilike rolle as ’n geskenk. “As iemand vir jou iets moeiliks gee om te doen is dit altyd net ’n geskenk. Want jy gaan groei. Hoe mooi is dit?

Soos ek ouer word leer ek dat die kwaliteit van jou lewe bepaal word deur die kwaliteit van jou gedagtes. Leer jou gedagtes ken. Dis moeilik. Maar as jy dit regkry, kan jy enige rol speel en dit agter laat.

Asemhaling, joga en lekker stap by ’n bult op het niemand al ooit sleg gedoen nie. 

Die tipe rolle wat Daneel graag wil vertolk

“Ek sal dankbaar wees as ek rolle kan speel wat gesien word as sterk vrouens. Want ons is sterk. Om ’n vrou te wees is om sterk te wees. Ek was nog nooit mal oor ’n ingenue nie. “An ignorant or naive girl”. Ek vind nog altyd daardie rolle afbrekend aan ’n narratief waaraan vroue wat baie meer indrukwkkend as baie van ons is, hard aan gewerk het. Ek’t ‘n broertjie dood aan hoe vroue dom en mooi moet speel. Veral jong meisies.

Almal hoop eintlik net vir rolle wat goed geskryf is (soos Suzette). Vrouekarakters wat nie net daar is om ’n dogter, vrou of ma te speel nie. Vrouekarakters wat hulle menswees eerste wys. Daardie rolle maak my opgewonde.

Veral noudat ek in my veertigs is, want dis mos wanneer ons verdwyn, of veronderstel is om te verdwyn. Ek sê nee dankie. Ons is hier. Ons is nodig. Ons is wys. Ons gaan nie meer stilbly nie. Wie’s saam met my?

Daneel is ook ’n bekwame sangeres. Hier vertolk sy die rol van Vera. Vera, ’n regte diva, is die stem in ’n skaam meisie se kop in die kortfilm Deuntjie. Vera en haar twee flambojante agtergrondsangers tree op en saai amok in Deuntjie se kop. Deuntjie begin later sukkel om te onderskei tussen die realiteit en die stemme in haar kop en dan begin die poppe dans.
Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
gesels met jou kind
Kry jou kind aan die gesels met hierdie agt wenke
error: Content is protected !!