Daneel van der Walt: Nêrens, Noord-Kaap het my hierdie 3 geestesgesondheidslesse geleer

Nadat jy ’n episode van Nêrens, Noord-Kaap gekyk het, laat dit ’n mens met so ’n stille seer. Jy voel die karakters se pyn en wroeging wat net so vêr strek soos die droë vlaktes van die Noord-Kaap. Daneel van der Walt, wat ‘Suzette’ briljant en met soveel oortuiging vertolk, deel met ons watter geestesgesondheidslesse sy geleer het deur die roerende storielyn. En dit is so van pas op ons almal en ons elkedagse bestaan. Deur Suzanne Kotzé

Die drie geestesgesondheidslesse wat Nêrens, Noord-Kaap vir Daneel van der Walt geleer het

Daneel van der Walt, as Suzette, in Nêrens, Noord-Kaap

1. Jou trauma is jou werk.

Ons kan nie die goed wat ons lewens verander het, ignoreer nie, anders word dit gewoontes wat dié om ons seermaak.

Om jouself die slagoffer van jou verlede te maak, is om nie verantwoordelikheid vir jouself te neem nie.

Doen die werk. Raak heel. Gaan sien die sielkundige, doen die meditasie, haal asem. Jou verlede is nie jou toekoms nie. 

2. Niemand kan enige iemand anders red nie.

Die enigste persoon vir wie jy kan red is jouself. Ons elkeen het al ten minste een keer in ons lewe iemand probeer red. Wat ons moet besef is ons vind mense waar hulle hulself geplaas het.

Ons eindig op in plekke en situasies as gevolg van ons keuses en gewoontes.

As jy op ’n plek is waar jy nie wil wees nie, red jouself. Verander jou keuses.

3. Om te breek is nie ’n swakheid nie.

Moenie net bly lê nie. Daar is verskriklik baie klem op sukses in vandag se lewe. Jy moet sterk wees en sterk staan. Aanhouer wen. Jy hoef niks te wen nie. Val, gee op, breek. Gee jouself kans om langs die pad te sit. En staan dan op. Haal diep asem en staan dan op. Probeer weer.

Daneel se drie gunsteling goed omtrent Suzette

Loer hier wat Daneel deel

Meer oor Daneel van der Walt

Foto: Jono Wickwar

Daneel kom oorspronklik van Sasolburg en is een van drie kinders. Sy het in die Kaap kom studeer en toe gebly. “Want wie op dees aarde sal nie wil nie!” Sy bly aan die hang van Tafelberg, omring deur bome en die bure se katte. En sy deel haar huis met ’n moedswillige skilpaddopkat genaamd Finally.

Sy het eers op die ouderdom van 28 werklik as aktrise begin werk en meestal in die teater. “Dis is my eerste liefde en een van die beste plekke op aarde!”

“Ek is baie dankaar. Dit is ’n belangrike ding om van my te weet. Ek is dankbaar.”

Stokperdjies

“Ek geniet my werk baie, so ek fokus baie van my tyd hieraan. Musiek was nog altyd ’n baie sterk tweede gunsteling so ek probeer meer tyd hieraan spandeer. As jy die negende Desember in die Hoërskool Jan van Riebeek se omtrek is, kom kyk gerus hoe ek aan my stokperdjie werk.” Loer hier vir besonderhede.

Mees geliefde rolle

Dit is moeilik om te kies maar my drie gunstelinge is:

Magenta in The Rocky Horror Show; al 444 optredes wat ek gedoen het as sy.

Petruchio in die produksie Taming of the Shrew het my oë oopgemaak vir baie dinge

En Suzette. Nico Scheepers het so ’n mooi karakter geskryf. Ek is so lief vir haar. 

En dankbaar.

Lees hier oor Nêrens, Noord-Kaap seisoen 2

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Borskanker; van veg na oorgawe
error: Content is protected !!