Na twee jaar van veg teen borskanker, leef Stylvol-vriendin Marli du Toit nou met oorgawe. Sy beywer haarself vir die borskankerbewusmaking. En dit is amper asof borskanker ’n nuwe doelwit aan haar lewe gegee het. Saamgestel Suzanne Kotzé.
20/10/2023
Gedurende 2020 is Marli du Toit gedurende inperking en net na haar egskeiding met fase twee lobulêre borskanker gediagnoseer. Sy skryf vir ons wat intussen in haar lewe gebeur het.
Lees Marli se vorige stories hier:
’n Borskanker-diagnose en nuwe perspektief
Borskanker-diagnose en meer opinies
Borskanker, pienk hare, geen hare, die ‘rooi duiwel’ en woedegloede
Die ‘geen bewys van borskanker’ nuus
Op 3 Augustus 2022 het ek die eerste keer die nuus gekry dat toetse ‘geen bewyse van kanker’ gevind het nie. Dit was na twee en ’n half jaar se hormoonterapie, ’n dubbelmastektomie, ’n hersieningsoperasie, 15 sessies radiasie en ses maande se chemoterapie.
Om eerlik te wees kan ek nie eens daardie dag onthou nie. Tussen die trauma, die brein-dofheid en die nagevolge van kankerbehandeling was ek na alles in ’n redelike dwaal.
Die depressie daarna
Ek het ook (soos baie oorwinnaars) werklik depressief geraak nadat die groot, aktiewe geveg verby was. So daardie tyd was maar swaar. Jy weet jy moet nou dankbaar wees en aanbeweeg, maar jou liggaam en siel was maande of jare lank in veg-of-vlug reaksie, so alles het eers vir my so ’n bietjie in duie gestort.
Ek het toe uiteindelik met antidepressante begin en stelselmatig beter en meer energiek begin voel.
Die een jaar later diagnose
’n Jaar later, op 19 Julie 2023 stap ek weer by Cancercare in, sonder om te veel daaroor te dink. Ek moes my onkoloog gaan spreek ná bloedtoetse en skanderings die vorige week.
‘n Halfuur later stap ek daar uit en bars in dankbare trane uit. Ek is een jaar lank al klaar met chemoterapie en ek is steeds kankervry!
Ek is ‘n optimis en verwag altyd die beste, daarom het die oorspronklike diagnose my so byna platgeslaan.
Nou praat al my borskanker oorwinnaars van ‘scanxiety’ wanneer hul ingaan vir toetse en die vrees vir die terugkeer van kanker beleef.
Ek het dit wel seker net onderdruk. Dit was ’n oorweldigende gevoel van verligting toe ek WEET – my doodsvonnis is vir eers nog ‘n bietjie opgehef.
Meer veerkragtig as ooit vantevore
Skielik is die lug toe vreeslik blou, die wolke pragtig, en sonder om te veel te oordryf, kon bitter min van toe af my té veel ontstel.
Alles voel soos dit hoort, my lewe is op spoor. I don’t sweat the small stuff. Ek voel doelgerig en gemotiveerd. Dis ’n ongelooflike seëning en natuurlik voel nie almal altyd of noodwendig so nie, maar ek dink die kombinasie van my egskeiding, Covid, werk verloor en toe kanker, het my waarlik veerkragtig gemaak! Nog ’n miljoen keer meer as vantevore!
Hoogtepunte
My pad met kanker het my gelei na Reach for Recovery, vir wie ek handelsnaam-verteenwoordiger is. Deur my fondsinsamelingswerk, saam met hul media koördineerder Kayang Gagiano, het ons toe ingeskakel by Kamers/MAKERS en verskeie kreatiewe projekte geloods, wat my absoluut vervul en my strek en my dae vul met wonder.
Ek doen so baie dinge wat ek nog altyd wou doen, produseer fotosessies en modeparades, werk as ’n model en ’n verteenwoordiger en praat op die radio en op podgooie.
Die dryfkrag is altyd ander kankerpasiënte en oorwinnaars en VERAL die jonger vrou, om haar in te lig en te bemagtig om nie bang te wees vir hierdie ding nie, maar hom eerder by die horings te takel.
Punch for Pink
Ons werk in die veld het ons daartoe gelei om ’n reklame- en bemarkingsagentskap met ’n fokus op liefdadigheid en sosiale impak en verskuiwing, te stig.
Onder die agentskap bou ons nou ook aan Punch for Pink, ’n uitvloeisel van verlede jaar se KAMERS/Makers waar ons 30 oorwinnaars as modelle gevier het.
Een van my trotsste oomblikke was die finalé van die skou, toe 30 oorwinnaars saam dans, met al die grimeerkunstenaars en haarkappers en administratiewe helpers: 60 mense wat hul tyd en talente aan ons geskenk het om R200,000 in te samel vir Reach for Recovery.
Nou doen ons dit weer, en groter! Punch for Pink groei as ’n plek waar almal wat ’n behae het in vroue se gesondheid en welstand bymekaar kan kom en dinge kan opskud. Ons vra vir meer aandag, meer tyd, meer sorg om ’n daadwerklike verskil in ELKE vrou se lewe te maak. Ons begin nou met borskanker, en werk heerlik saam met ander organisasies. CheckKnowPrevent, Project Flamingo, I LOVE BOOBIES om mee te begin, met groot planne vir die toekoms.
Ek is een van die gelukkiges. Wat vroegtydig gediagnoseer is, goeie behandeling kon ontvang en nou met hernude krag en rigting my lessies kan toepas om die wêreld ’n klein bietjie sagter, ligter, meer vreugdevol en PIENKER te verf!!
Kom kuier asseblief saam met ons by Punch For Pink Survivors Fashion Show by KAMERS/Makers, Blaauwklippen op Donderdag 26 Oktober 2023! Klik hier om jou kaartjie te koop.