Die nuwe blonde Rolanda Marais en haar haarstilis Wessel Gerber van Vat Dit Kop Toe gee wenke oor hoe om jou hare blond te kleur. As jy dit oorweeg om van donker na blond oor te gaan, lees gerus verder. Deur Suzanne Kotzé
Die blonde Rolanda Marais
“Ek was ses jaar gelede ook blond vir ’n rol en ek was MAL daaroor”, vertel Rolanda. Rolanda moes haar donker hare blond kleur vir ’n nuwe rol as ’n internasionale mode-ontwerper in ’n nuwe reeks.
Jy moet jou modekleure en grimering aanpas
Modekleure
Rolanda is nie iemand wat haar veel aan enige modereëls of voorskrifte steur nie, maar sê tog sy vermy oranje en geel vandat sy blond is. “Ek hou veral daarvan om donker kleure, en veral swart en ook pastelskakerings, te dra as ek blond is,” vertel sy.
Grimering
“Ek hou baie daarvan om donker ooggrimering (’n smokey eye) te dra as ek blond is,” vertel Rolanda. Die donker oë lyk vir my baie mooi. ’n Helderkleurige lipstiffie werk natuurlik ook goed.”
Wessel verduidelik die blondword-proses en wat jy moet onthou voordat jy blond word (tyd en geld!)
1. Maak seker jy kan dit bekostig
“Daar is ongelukkig nie ’n goedkoop manier om van donker na blond te beweeg nie. Tensy jy natuurlike, virgin, donker hare het. As jy dit goedkoop probeer doen, kan ek jou waarborg dat a.) jou hare gaan verniel en b.) jou blonde kleur vuilblond gaan lyk.
Dit is werklik belangrik om jou begroting in ag te neem, want dit is nie net duur om jou hare blond te kleur nie, maar die tuissorg en voor- en nasorg is ook duur.
2. Die regte voorbereiding is belangrik
Begin ses weke voordat jy jou eindresultaat wil hê reeds met die proses. Dit is belangrik dat jou hare sterk en in ’n goeie toestand is. Hidrerende tuissorgprodukte vooraf is ’n móét.
3. Dit neem lank
As jy te haastig is om blond te word, gaan jy nie net net jou hare beskadig nie, maar kan jy ook met geel strepe in jou hare bly sit (colour banding). Ek sou aanbeveel dat jy dit in drie stappe (salonbesoeke) doen wat minstens 48 uur uitmekaar is. Ons noem hierdie proses “one step back, two steps blonde.”
4. As jou hare een kleur is is voordat jy kleur, sal jou eindresultaat meer egalig wees
“Daarom kleur ek altyd eers die uitgroeiwortels dieselfde as die res van die hare. Daarna kom jy na ’n minimum van twee dae (48 uur) en ’n maksimum van vier dae (92 uur) weer terug salon toe. Dan begin ons met die proses daarvan om jou jou haarkleur te lig.
5. Kanariegeel vir ’n paar dae is jou voorland
Wees egter gewaarsku, na jou eerse sessie gaan jou hare kanariegeel wees, bring dus ’n hoed saam. Jy gaan dan weer vir so twee dae met die kanariegeel moet saamleef.
6. Die finale proses
’n Lae volume ontwikkelaar en bleikmiddel met binding, ’n volkop ‘foils’ en ‘root shadow’ is deel van die finale proses. Daarna word ‘toner’ en ’n suurbindings-behandeling gedoen om jou haarvliesies te herstel. Wessel stel ook voor dat jy ’n suurbindingsjampoe en -opknapper (soos Redken Acidic Concentrate Bonding Shampoo) tuis moet gebruik en eerder salon toe te kom vir nog ’n behandeling sodra jou hare geel begin lyk. Hy beveel aan dat jy pers sjampoe slegs begin gebruik wanneer jou hare geel begin lyk teen die einde van jou kleur
Ons eie Justine Kroes oor blond wees
Ja, Justine was ook al blond! Hier is wat sy sê oor blondwees
“Om te gaan van swart na blonde hare was ’n taamlike proses. Haarstilis en kleurkenner Shelene Shaer het baie mooi na die toestand van my hare omgesien om seker te maak dit bly gesond. Dit het maklik vier maande geneem om van swart na platinumblond en toe ’n grysblond te verander.
Dit het blondwees my geleer:
- my hare het ekstra hidrasie, behandelings, en opknapper-haarmaskers benodig.
- ek kon my hare minder gereeld was, omdat die blonde hare meer droog was en dit het nie maklik gewys as dit vuil was nie.
- ek moes gewoond raak om effens meer grimering te dra (selfs net helder lipstiffie) anders het ek vaal gelyk.
- my (krultang) krulle het langer gehou! Ek neem aan omdat die hare droër was.
- ek kon nie meer enige skakering dra nie, geel en oranje het nie meer so goed gewerk nie. As ek pienk gedra het, het ek gevoel ek lyk nogal soos ’n poppie!
- ek het nuwe respek vir blonde vroue geleer, want blonde hare is duur (kleur elke 4 tot 6 weke), behandelings en goeie haarprodukte is ’n moet.
Dit is harde werk maar definitief die moeite werd!
Ek dink beslis “blondes have more fun” en sal dit graag eendag weer wil doen!