Christi Panagio deel met ons die waardes oor vrouwees wat sy graag vir haar twee dogters, Evah en Shay, sal wil leer. Deur Suzanne Kotzé
12/08/2022
Hierdie vrouwees-waardes wil Christi Panagio vir haar dogters leer

Let wel, Christi lê klem daarop dat hierdie bloot iets is waarna mens kan streef, want geen mens kan alles net so regkry nie.
1. Ken die verskil tussen vol selfvertroue wees en arrogant wees
Daar is ’n fyn lyn of balans om vol selfvertroue net JOUSELF te wees en om arrogant te wees oor jou vermoëns, voorkoms ens. Dit is pragtig (en bemagtigend) as ’n vrou die verskil ken!
2. Slim, wys en gelukkig is altyd mooier as ‘perfek’
Ons leef in ’n wêreld waar (valse) perfekte digitale prentjies by ons keelgate afgedwing word. Ons moet onsself herinner om nie ons slegste (regte lewe) self met iemand anders se beste (‘edited’) self te vergelyk nie!
3. Streef om ‘significant’, en nie ‘magnificent’ te wees nie
Dit gaan nie daaroor om ’n heerskappy te bou nie, maar eerder om ’n nalatenskap agter te laat wat veel verder strek as jou laaste optrede. Om onthou te word om ’n verskil in mense se lewens te maak, eerder as om die wêreld te probeer beïndruk. (Wat in elk geval onmoontlik is).
4. Wees kritiese, onafhanklike denkers
Moenie alles glo wat vir jou gesê word nie. Doen intensiewe navorsing voordat jy goed net glo. Ons moet ons intuïsie vertrou eerder as om net meegesleur te word. Dit kan ons dalk in die moeilikheid laat beland, of daaruit hou, op die lange duur.
5. Moenie aanpas by die samelewing se idee van hoe ’n vrou behoort te lyk nie
Om jouself te wees is jou superpower en al wat jy werklik het. Almal van ons weet van goed waarvan ons hou en nie hou nie, omtrent onsself. Moenie dat die goed waarvan jy nie hou nie, jou terughou nie, maar vier eerder die dinge waarvan jy wel hou (op ’n nederige wyse).
6. Omhels jou vroulikheid en omgeekant as die superpower wat dit is, eerder as om te bewys hoe taf jy is.
In ons samelewing moet vroue dikwels te hard probeer om hulself te bewys. En dan bly wat ons uniek maak dikwels vergete. Ons sensitiwiteit, om bewys te wees van ons emosies en om empatie te hê; herdie is pragtige kwaliteite wat gevier moet word en wat ons tot ons voordeel kan gebruik.
7. Aanvaar jou foute, maar aanvaar ook die uitdaging en verantwoordelikheid om altyd die beste weergawe van jouself te probeer wees.
Ons moet na onsself kyk; gesond eet, oefen, rus, ’n goeie velsorgroetine hê, water drink, goeie verhoudings hê, eerlik wees, beter doen as ons van beter weet. Al hierdie sodat ons die voorreg kan hê om ons beste self te wees. Ons moet verander hoe ons dink; van ‘ek MOET alles doen’ tot “ek KAN al hierdie doen’. Sodat ons hierdie reis van ons daaglikse lewens kan geniet.
Lees





