Japandi
Japandi

Alles wat jy wil weet oor die Japandi dekortrend

So stilstil is die dekorwêreld aan die gons oor die Japandi dekortrend; maar wat is Japandi en hoe gebruik jy dit in jou spasie? Hier is alles wat jy wil weet oor die trend (wat glo eintlik eerder ’n leefstyl-filosofie is). Deur Suzanne Kotzé

Wat is Japandi

Japandi (uitgespreek jah-pahn-dee soos die Engelse ‘Japan sê’) is ’n vermenging van die Skandinawiese dekorstyl (‘scandi’-styl soos baie van ons dit ken) en Japannese minimalisme. 

“Skandinawiese eenvoud en funksionaliteit word vermeng met Japannese warmte en minimalisme om ’n elegante, dog gemaklike leefruimte te skep. 

Erica Schalkwyk, Form Interior

Die beginsel van Japandi is:  ’n rustige, holistiese en funksionele binnenshuise spasie wat ’n gesonde en betekenisvolle leefstyl beklemtoon.” Erica Schalkwyk, eienaar van Form Interior.

Japandi is nie net ’n dekortrend nie, maar ’n leefstyl-filosofie

Japandi word ook beskryf as die samesmelting van die Deense Hygge (om ’n warm, koesterende atmosfeer tuis te skep) en die Japannese se Wabi-Sabi (aanvaarding en waardering vir onperfekthede). 

“Japandi is die perfekte vermenging van hierdie twee konsepte. Dit gaan daaroor om die eenvoudige plesiertjies te geniet in ’n warm, verwelkomende atmosfeer (Hygge) en om mooi in die onperfektheid te vind en natuurlike lewensiklusse te omhels (Wabi-Sabi),” verduidelik Erica. 

Lees gerus meer hier oor die konsepte: 7 Welwees-konsepte van regoor die wêreld wat jy gerus kan toepas

Sy glo ook dat Japandi nie net ’n dekorstyl is nie, maar eerder ’n filosofie van hoe jy jou lewe wil leef. “Hoe wil jy mooi vind in onperfekthede, hoe wil jy ’n dieper konneksie met die aarde hê en die eenvoudige plesiertjies (soos die warmte, gemak en veiligheid) van jou eie huis geniet?

Japannese en Skandinawiese styl

Wie sou nou dink dat twee lande wat nie net geografies wyd van mekaar verwyder is nie, maar ook baie kultuurverskille het, saamgegooi sou word en ’n dekorstyl word?

As mens egter kyk na hulle hoof ontwerpbeginsels sien jy ooreenkomste.

Beide het

  • waardering vir funksionaliteit en eenvoud en
  • uiterste respek vir vakmanskap en die natuur
  • subtiele kleurgebruik
  • natuurlike elemente om lig en donker (skadu) te skep

Die Japannese- en Skandi-style gebruik altwee natuurlike en minimalistiese ontwerpbeginsels wat ’n gemaklike gevoel skep en juis daarom so goed saamwerk. 

Kenmerke van Japannese dekor

  • Meubels wat laag op die vloer is (om so na as moontlik aan die aarde/natuur te wees)
  • Aanvaarding van onperfekthede (Wabi-Sabi)
  • Organiese materiale soos hout en bamboes
  • Neutrale, aardse warm kleurpalet wat ook donkerder kleure soos swart insluit. 

Kenmerke van Skadinawiese dekor

  • Meubels met eenvoudige, minimalistiese lyne en vorms
  • Warm, gemaklike, koesterende atmosfeer (Hygge)
  • Sagte en koue pastel kleurpalet
  • Fokus op die rustieke

Japandi so

1. Pak reg, weg en ontklotter

Moenie net goed hou om dit te hou nie. Hou goed wat ’n doel het of wat waarlik van waarde is vir jou. Pak alles wat jy wil hou ook saam uit en kyk hoe dit saam lyk sodat jy jou items uitstal (‘curate’). 

2. Kyk nuut na ou goed

Jy hoef beslis nie alles uit te gooi en nuut te gaan koop nie. Dis is juis teen die meer volhoubare etos van Japandi. Soos jy meer bewus raak van die Japandi styl, kom jy dalk agter dat jy ou goed het (wat dalk iewers weggepak is) wat by die Japandi styl inpas. Jy kan selfs ’n antieke item gebruik en dit op ’n Japandi-manier uitstal. Japandi gaan juis ook oor waardering vir vakmanskap. Dalk het jy ’n ou swart- of kleipot, met ’n effense kraak in. Gebruik dit op sy eie, met ’n eenvoudige paar takke in. 

3. Kies kwaliteit eerder as kwantiteit

Vergeet daarvan om goed wat jy nie regtig nodig het nie te koop omdat dit op uitverkoping is. Dan kom jy by die huis en kom agter jy het dit nie eintlik nodig nie, en stal dit dan maar iewers uit, want jy het dit dan nou gekoop. Spaar eerder vir iets wat goed gemaak is en lank gaan hou. (Soms kry jy natuurlik ware winskopies ook so tussendeur)

4. Hou dit eenvoudig

Nie net in die hoeveelheid goed in jou spasie nie, maar ook die ontwerp, vorms en lyne. As jy twyfel of jy nog iets moet bysit, neem eerder iets weg. Minder is meer as dit by Japandi kom. 

5. Binne-buite vloei

Veld Architects het binne-buite ruimtes (Biophilic Architecture), ook in ’n 2022 artikel vir Stylvol genoem as een van die grootste huistrends. Dit sluit in 

  • groot, oopmaakbare vensters en deure na buite
  • gebruik van landskapelemente in binneruimtes
  • maksimum konneksies met die natuur (sensoriese sintuie)
  • genoegsame kruisventilasie
  • oopplan uitleg in die hoof leefruimtes

Dink ook aan vertikale tuinmure op ’n buite (of selfs balkonmuur) wat dit laat voel asof die ‘buite’ binne is. As jy geen buite-area het nie, kan jy natuurlik plante binnenshuis gebruik. “Om ’n vreedsame kamer vol plante en groen te skep, is ook iets wat jy op enige begroting kan doen.” Erica

6. Kies natuurlike materiale

  • Hout
  • Bamboes
  • Papier
  • Rottang
  • Wol
  • Linne
  • Katoen
  • Hennep
  • Kleipotte

8. Lae meubels

Meubels wat laag op die grond is, skep ’n gemaklike atmosfeer en om na aan die aarde te wees, help ook met vreedsaamheid (volgens die Japannese beginsels). Selfs vloerkussings om op te sit is gewild. 

9. Houtmeubels met skoon lyne 

Vermy swaar gestoffeerde meubels met te veel detail (bal en klou meubels!) Tradisioneel word ligter hout in Skandi-ontwerp gebruik en donkerder hout in Japannese ontwerp. Jy kan die twee meng, maar hou by twee tot drie skakerings)

10. Neutrale kleurpallet

Die koel Skandi-kleurpalet werk veral goed in die Skandinawiese lande, waar daar min lig is en die kouer kleurpalet veral goed werk om lig te weerkaats. In Suid-Afrika waar ons sonlig skerp is, mag ’n yswit egter te skerp wees. Die warmer wit skakerings van die Japannese palet werk dan net beter. Jy kan enige van die Japannese of Skandi-kleurpalete gebruik, solank jy nie te veel kleure saam gebruik nie. 

As jy iemand is wat van spatsels helder kleur hou, is die Dopamiendekor dalk eerder vir jou. Indien jy wel ’n spatsel kleur wil inbring, doen dit met items wat eenvoudige skoon lyne het. Wat die Japandi styl beklemtoom. 

Oor die algemeen werk ’n minimalistiese kleurpalet die beste. 

11. Gebruik soliede kleure, en kies patrone met sorg

Soliede minimalistiese kleure werk die beste. Die volgende patrone kan die Japandi-styl komplementeer. Matte, kussings of kunswerk-aksente in die patrone kan werk. Let wel hierdie is voorbeelde van die patrone, nie kleure nie.

Kyk gerus hier vir nog patrone.


Asanoha (Hennepblare)
Hishi (diamant)
Same Komon (haaivel) 

  • Kōjitsunagi (oorvleuelende Kō letters) 
  • Yabane / Yagasuri (pylvere) 
  • Seigaiha (blou branders) 
  • Shippō (sewe skatte) 
  • Kikkō (skilpaddop)
  • Ichimatsu (geruit)
  • Tachi / Tatewaki (stoom)
  • Karakusa (plant wat opkrul)
  • Kanoko (varing)
  • Uroko (skubbe) 

12. Swart aksentkleure

Swart is ’n gewilde aksentkleur in Japandi dekor. Hetsy dit ’n swart kraan, blompot of Japannese inkskets is. 

13. Houtsparretjie mure

Dun gesnyde houtsparretjies teen mure of om spasies te skei, is ook deel van die Japandi-styl. Dit is iets wat jy maklik self kan doen (as jy van Doen Dit Self hou)

14. Jy hoef nie jou hele huis te Japandi nie

Jy kan altyd by jou skaapkamer of tuiskantoor begin – spasies waar jy oor die algemeen minder meubels en klotter het en waar jy veral baat vind uit ’n rustige atmosfeer. 

Japandi kopies

Ceramic Ikebana Vase (R750, Babylonstoren)
Milk Bench Rattan (R11 050, Houtlander)
Hanoi Laundry Basket (R2 100, Hertex Haus)
Ceramic Japandi Bubble Vase (R399, elevenpast
Present Time Swirls organic vase (R799, Superbalist)
All timber set of drawers (R12 000, Pedersen & Lennard)
Black Cast Iron Teapot (R400, Carmien Tea)
Nicolson Russell Kintsugi Dinner Plates (R1 269, yuppiechef.com)
@home  praia occasional chair fibreguard (R 9 999, bash.com)
Skinny la Minx Cushion Cover – Breeze Sand (R615-R700)
 
4 Tier Bookshelf (R7 250, Houtlander)
@home Stockholm pedestal natural (R7299, bash.com)
@home Pale 2 Seater Couach (R16 999, bash.com)
Ofelia Ottoman Maya Cream (R3499, Sofacompany)
Flank Shelving system 5 Tier (vanaf R7 600, Pedersen & Lennard)

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
9 Wenke vir jou ingangsportaal
error: Content is protected !!