Net soos die grou winterkleure besig is om te verdwyn saam met die kort dae en lang nagte, so maak vrolike lentekleure al draaiende en swaaiende hul opwagting. Ons gesels met stilis Heloise Louw van The Home Collective oor watter mooi lentekleure jy kan gebruik om jou huis op te vrolik. Deur Suzanne Kotze
02/09/2022
’n Maklike manier om kleur en veral die nuwe lentekleure in jou huis te gebruik:
Net omdat ’n kleur in die mode is, beteken dit nie jy moet jou dekor heeltemal verander nie. En onthou met modekleure, is dit belangrik om dit net te gebruik of te kies as jy werklik daarvan hou. Jy moet elke dag daarmee saamleef en dit help nie jy kies ’n kleur omdat dit in die mode is, maar jy moet jouself oortuig om daarvan te hou nie.
Heloise Louw van The Home Collective sê: “Ek dink ’n maklike manier om van die kleure te gebruik is met
- sagter afwerkings (soos kussings of kombersies)
- keramiekware
- kerse
- en blompotte.
As jy meer van ’n kleurstelling wil maak in ’n neutrale vertrek, verf ’n kassie in ’n helder kleur en sit mooi goue handvatsels aan.”
Van ons gunsteling lentekleure vir jou huis:
Heloise verduidelik hoe en waar jy hierdie lentekleure kan gebruik.
Koringblomblou
Koringblomblou is ’n baie kalmerende kleur wat baie komplementerend saam met wit werk. Dis ’n goeie kleurkeuse vir ’n slaapkamer. Dit kan ook baie goed werk om aksentkleure op jou patio in te bring.




Saliegroen
Saliegroen is oral in dekor te sien in 2022. Dit is nie net gewild in kleiner dekorelemente nie, maar dit maak dit ook ’n opwagting in shakerstyl kombuiskaste saam met koperhandvatsels en dit werk ook goed in badkamers om die gevoel van die natuur in jou badkamer in te bring.




Kleipienk
Kleipienk is op die oomblikke ’n baie gewilde kleur om in babakamers te gebruik in plaas van sagter pastelpienk. Dit lyk veral mooi en prettig as jy die helfte van die muur in ’n geskarrelde (scalloped) kleipienk verf. Dit is ook lieflik om dit saam met warm neutrale kleure en ook saliegroen te gebruik in jou slaapkamer. Beddegoed in die kleur is lieflik.




Sagte pienk
Hierdie kleur lyk dalk girly, maar dit kan ewe mooi lyk saam met ’n meer vroulike styl (dink aan blomme en sagte teksture) as wat dit saam met swart of grys kan lyk vir ’n meer minimalistiese, skoon gevoel.




Oker
Die geel skakerings is ’n verwelkomende kleur wat ’n lekker spatsel kleur gee. ’n Stoel wat ’n stelling maak of ’n groot bos geel blomme in ’n oker pot lyk lieflik.



