Met die warmer weer en dié dat ons steeds maskers dra (urgh!) sukkel ons vreeslik om ons grimering te laat aanbly – teen middagete is als afgesweet of teen ons maskers afgesmeer. Ons het drie talentvolle grimeerkunstenaars gevra om hul topwenke vir aanblygrimering met ons te deel. Alicia Buckle, Renee De Wit en Cheryl Parker deel graag hul raad. Deur Justine Kroes
8 Wenke vir aanblygrimering
1. Skilfer af
“Die heel belangrikste is dat jy ’n ensiemafskilferaar op jou vel moet gebruik, want hoe meer dooie velletjies op jou gesig is, hoe meer gaan jou grimering aan daardie dooie velletjies vasklou.
Alicia Buckle
As ’n ensiem-afkilferaar nie tans in jou begroting pas nie, gebruik 50/50 gesigwas en koeksoda om jou vel lekker te laat afskilfer. Dit sal al die dooie velletjies verwyder. ’n Afgeskilferde vel laat grimering langer aanbly en sorg dat jou grimering nie so maklik rondbeweeg nie” sê grimeerkunstenaar Alicia Buckle
2. Berei jou vel goed voor
Grimeerkunstenaar Renee De Wit glo “Dit is baie belangrik om altyd ’n voorbereidingslagie (primer) te gebruik voor jy jou onderlaag aanwend” Dit sal die houkrag van jou onderlaag verseker.
Grimeerkunstenaar Cheryl Parker stem saam – “Moet nooit jou vogroom vergeet nie, selfs al voel jy dit laat jou grimering ‘beweeg’. As jy nie te veel lae produkte op jou gesig wil gebruik nie, kies ’n 2-in-1 voorbereidingslagie, een wat ’n SBF ook bevat. Só wend jy een minder lagie aan. As jy nie ’n voorbereidingslagie het nie, gebruik ’n getinte bevogtiger en pers los poeier op jou vel aan om dit op sy plek te hou.”
3. Wag ’n paar minute na jou velsorgroetine
“Moet nie te gou na jou oggend velroetine jou grimering aanwend nie. Gee dit minstens tien minute om jou vel goed binne te dring sodat jy nie te veel produkte bo-op mekaar aanwend nie. Dit kan moontlik veroorsaak dat jou grimering maklik deur die loop van die dag ‘afglip’” sê Alicia.
4. Kies die regte onderlaag
Renee sê – “Dit is belangrik om te weet wat jou veltipe is en jou onderlaag tipe daarby aan te pas om seker te maak jou grimering bly op sy plek”.
Alicia stem hiermee saam “Pasop vir onderlaag wat te olierig is, veral as jy ’n olierige- of kombinasie-veltipe het. Kies eerder ’n onderlaag met beskrywende terme soos ‘longwear’ of ‘long-lasting’. As jy ouer is en jou vel is taamlik droog, gebruik eers ’n gesigolie onder jou onderlaag en ’n ‘long lasting’ onderlaag bo-oor, sodat die onderlaag nog lekker sit en jou vel steeds effens glansend laat lyk.”
5. Werk slim met blosser en verhelderaar
“Vermy dewy or romerige blosser of verhelderaar as jy graag wil hê jou grimering moet langer hou omdat hierdie tipe produkte maklik aan jou masker sal afsmeer. Kies ‘longwear’ of mat produkte en skep glans met verbronser en mineraalpoeierprodukte in plaas van romerige produkte”.
Cheryl Parker
Alicia se wenk “Vir blosser, gebruik jou long-lasting matte lipstiffie op jou wange, my gunsteling kleur is Maybelline se Poet in 60. Ek gebruik ook graag The Body Shop se Lip and Cheek Tint – nog ’n produk wat bly sit op wange en lippe, ek gebruik dit soms ook vir oë vir ’n titseltjie kleur.”
6. Grimeer in lagies
Alicia sê “Doen jou grimering in lagies, byvoorbeeld doen jou eerste onderlaag lagie en poets dit goed in voordat jy begin met die volgende lagie – hier gebruik ons graag die term ‘blend- blend, blend, blend!’ Hoe meer (dun!) lagies grimering jy opbou, hoe langer sal dit hou. Onthou altyd, hoe vinniger jy jou grimering gaan aansit, hoe korter gaan dit hou”.
7. Gebruik ’n grimeersponsie of borseltjie
“As jy graag wil hê jou grimering moet regtig lank aanbly, spuit ’n bietjie “make-up setting spray” aan jou grimeersponsie, en stippel dan daarmee jou onderlaag op jou vel aan”.
Renee de Wit
“Ek verkies dit om ’n grimeerkwas te gebruik om onderlaag aan te wend, dit werk stukke beter as om dit met jou hande te doen en die resultaat is meer natuurlik en hou boonop langer” sê Alicia.
8. Poeier – maar kies ’n deursigtige een
“Ek is versigtig om poeier te gebruik omdat dit in elke plooitjie kan gaan sit en jou maklik ouer kan laat lyk as wat jy werklik is, kies eerder ’n “loose” of “translucent” (deursigtige) poeier – Laura Mercier se Translucent Powder is my heel gunsteling.” Alicia
Renee sê “’n Deursigtige poeier en ’n “setting spray” is die finale stappe wat jy kan gebruik om seker te maak jou grimering ‘beweeg’ nie deur die dag nie”
Lees ook: Blonde Rolanda Marais en haar haarstilis se wenke vir blondwees