Wat is my veltipe? En gebruik ek die regte produkte?

Normaal, droog, olierig of kombinasie veltipes? En wat beteken dit? Ook wat is die verskil tussen ’n droë vel en ’n gedehidreerde vel en hoe identifiseer ek dit? Velfoendi Sonette Donker deel 6 veltipe-feite, plus watter tipe produkte elke veltipe behoort te gebruik asook produkte om te vermy. Saamgestel deur Justine Kroes

31/05/2024

Veltipe-feite:

Sonette Donker, velkenner en stigter van www.skinfundi.com, verduidelik die volgende interessante feite oor veltipes:

  1. Jou veltipe is geneties, en jy word daarmee gebore.
  2. Jou veltipe kan verander namate jy ouer raak en die meeste mense se veltipe word hier droër.
  3. Hormone wat verander weens puberteit, swangerskap en menopouse kan veroorsaak dat jou veltipe vir daardie tydperk verander.
  4. Velsorgprodukte kan help om jou veltipe te balanseer, maar dit kan nooit jou genetiese veltipe permanent verander nie.
  5. Alle veltipes mag iewers ’n velkondisie ervaar wat van tyd tot tyd kan toeneem. Velkondisies sluit die volgende in: gedehidreerde vel, sensitisering (wat velsensitiwiteit veroorsaak), breakouts, en hiperpigmentasie, byvoorbeeld.
  6. Jou vel kan meer as een veltipe wees, byvoorbeeld jy het ’n olierige t-sone en ’n normale veltipe op jou wang-area.

Dit is belangrik om ’n velkenner of terapeut vir ’n veltipe-analise te raadpleeg indien jy onseker is oor jou veltipe.

Verskillende veltipes

Sonette verduidelik die verskillende veltipes, hoe om elkeen te identifiseer en watter tipe produkte elk van die veltipes behoort te gebruik, asook vermy.

Normale veltipe

Sonette verduidelik: “As jy na jou vel in die spieël kyk, behoort ’n normale veltipe na een te lyk wat nie ’n olierige, blink skynsel toon nie. Daar is geen droogheid sigbaar nie asook geen vergrote porieë nie”.

Sonette se raad:

Gebruik die volgende:

Hialuroonsuur, jojoba olie, salisielsuur, bentonietklei en kaolienklei. Gebruik ook ’n afskilferende skuimende gesigwas, ’n ligte hidrerende bevogtiger, ’n suiwerende kleimasker, ’n hidrerende jel-masker, ’n oogroom ontwikkel vir teenveroudering, ’n hidrerende serum en sonroom.

Dermalogica Special Cleansing Gel (R849 vir 250ml)
Avène Hydrance Boost Serum (R455 Dermastore)
Sothys Hydra Plumping Mask (R795 vir 50ml)
CeraVe Facial Moisturising Lotion (R260 Dermastore)

Vermy die volgende:

Ryk oliegebaseerde bevogtigers, tonikum wat die vel uitdroog en olie-gebaseerde maskers. Vermy ook produkte wat die volgende bestanddele bevat: lanolien, alkohol, kunsmatige kleursel en harde skoonmaakmiddels.

Olierige veltipe

Sonette verduidelik ’n olierige veltipe as een wat ’n duidelike olierige skynsel en blink vel het. Veral teen die middae is die “blink” op jou vel ekstra opsigtelik. Jy het ook duidelike vergrote porieë.

Gebruik die volgende:

’n Ligte hidrerende vloeiroom (lotion) as ’n bevogtiger, gebruik ook ’n afskilferende skuimende gesigwas, ’n suiwerende kleimasker, ’n oogroom spesiaal ontwikkel vir teenveroudering, ’n purifying (suiwerende) serum en olie-vry sonroom.

NeoStrata® Mandelic Clarifying Cleanser (R670 Dermastore)
Avène Cleanance Mask (R295 Dermastore)
NeoStrata® Oily Skin Solution (R645 Dermastore)
Heliocare 360° Gel Oil-free SPF 50 (R490 Dermastore)

Vermy die volgende:

Ryk, oliegebaseerde rome, olies, seep, tonikum wat vel uitdroog en ryk gesigmaskers. Lanolien en mineraalolies moet ook vermy word. Vermy ook produkte wat enige olies as die basis van ’n velsorgproduk gebruik. Vermy produkte wat alkohol bevat, kunsmatige kleursel en harde skoonmaakmiddels.

Droë veltipe

“Jou vel voel styf, en voel ook maklik branderig wanneer jy produkte aanwend. Jou porieë is byna onopsigtilik. Jou vel word vinnig rooi. Jy ontwikkel van vroeg af fyn lyne en plooie, verduidelik Sonette

Gebruik die volgende:

Sonette stel voor dat jy produkte gebruik wat die volgende bestanddele bevat: Hialuroonsuur, Galambotter (shea butter), Urea. Panthenol, Vitamien K, Seramiedes, Kamille en Laventel.

Gebruik ’n sagte romerige reiniger of gesigwas, ’n bevogtigende gesigroom en ’n gesigmasker wat vel desensitiseer, ’n teenverouderings-oogroom en ’n olie-gebaseerde serum. Moet nie van jou sonskerm vergeet nie.

Gatineau Gentle Silk Cleanser (R850)
NOVEXPERT SOS Ultra-Nourishing Mask (R650 Skin Miles)
NOVEXPERT 5 Omega Booster Oil (R1150 Skin Miles)
Avene Xeracalm Nutrition Moisturizing Balm (R369,95 500ml)

Vermy:

Produkte wat seep bevat, tonikum wat uitdroog en baie aktiewe produkformulasies.

Vermy bestanddele soos alkohol, mineraal-olies, kunsmatige geur en kleur as ook enige harde skoonmaakmiddels.

Kombinasie veltipe

Die vel op jou voorkop, neus en ken (t-sone) wys duidelik vergrote porieë met ’n olierige blink vel. Die vel op jou wange en nek lyk soortgelyk aan iemand met ’n normale veltipe, geen duidelike porieë of olierige blink vel nie.

Sonette stel die volgende voor: ’n kombinasie veltipe is basies twee veltipes in een. Behandel dus die olierige areas as ’n olierige veltipe en die normale areas as ’n normale veltipe. Jy kan dieselfde reiniger, gesigroom, sonskerm en afskilferaar gebruik as dit vir jou makliker is. Hoewel dit belangrik is om twee verskillende tipes serums en gesigmaskers te gebruik op die droë en normale vel-areas om die vel te balanseer.

Wat is die verskil tussen’n droë vel en ’n gedehidreerde vel?

Sonette verduidelik dit so:

’n Droë vel het minder of nie genoeg olie nie, terwyl ’n gedehidreerde vel ’n tekort het aan vog.

Sonette Donker

’n Droë vel word geklassifiseer as ’n veltipe, terwyl ’n gedehidreerde vel gesien word as ’n velkondisie. Enige veltipe kan gedehidreerd word.

Hoe identifiseer ek die verskil?

Beide ’n droë vel en ’n gedehidreerde vel lyk amper dieselfde op die oog af, verduidelik Sonette. Hoewel ’n droë vel kleiner (amper onsigbare) porieë sal hê. Boonop is ’n droë vel iets waarmee jy al die meerderheid van jou lewe sukkel, terwyl ’n gedehidreerde vel een is waar die dehidrasie kom en gaan.

’n Droë vel benodig ryk en swaar rome as bevogtigers, terwyl ’n gedehidreerde vel ligte hidrerende produkte soos ’n jel, serum of ligte lotion (vloeiroom) behoort te gebruik.

Produkte vir gedehidreerde vel:

Avene Cicalfate Intensive Skin Recovery Serum (R459.95 vir 30ml)
Environ Vtia Complex Super Moisturiser (RR590 vir 50ml)

Meer oor velkenner Sonette Donker:

Sonette Donker is ‘n spesialis velsorgkundige, met meer as 25 jaar ondervinding. Sy het al saam met verskeie plaaslike en internasionale skoonheidshuise gewerk om produkte bekend te stel.

Besoek gerus haar webstuiste www.skinfundi.com en insiggewende informasie op sosiale media hier.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
wenke vir aandgrimering
7 maklike aandgrimeringwenke
error: Content is protected !!