Stylvolle braaikamer
Stylvolle braaikamer

9 Wenke vir  ’n stylvolle braaikamer

’n Braaikamer is nou maar een maal ’n Suid-Afrikaanse instelling, maar dit hoef nie wynvate en siersteenmure te hê nie. Danielle en GD Franken wys hulle mooi braaikamer en hier is wenke hoe jy jou braaikamer stylvol kan laat lyk. Deur Suzanne Kotzé.

26/05/2023

Die Frankens oor hulle nuwe, stylvolle braaikamer

“Ons bly al 11 jaar lank in ons huis en die braaikamer was die sesde fase van veranderinge wat ons so met die jare aangebring het. Die vertrek is lekker ruim  (100m2) met ’n groot braai/kaggel. Ons het die mooiste uitsig en gebruik die vertrek so baie,” vertel Danielle.

Die glas oopskuifdeure is van Smart Solutions

Van die dinge wat ek die meeste geniet van ons braaikamer is koffie met ’n uitsig soggens en winterkuiers met rugby en ’n glas rooiwyn.

Wenke vir ’n stylvolle braaikamer

Kalinka Lombard van The Home Collective wat met die dekor gehelp het, gee raad.

1. Hou die kleurpalet van jou huis in gedagte

’n Braaikamer is ’n uitbreiding van jou huis. Dit is slim om dit in dieselfde kleurpalet te hou, sodat daar goeie vloei is van die braaikamer na die res van jou huis. Maar natuurlik is dit ook ’n area waar ’n mens ’n bietjie pret kan hê met kleur en meubels as dit jou smaak is.

2. Glasdeure skep ’n binne/buitegevoel

Glasdeure is wonderlik om die vertrek oop en lig te laat voel, en is ideaal gedurende die somermaande. “In die somer maak ons al die deure oop, dan is dit soos ’n buitevertrek, en in die wintermaande raak dit lekker warm met ’n kaggel,” vertel Danielle.

3. Slim bêreplek/sodat geen braaigoed rondlê nie:

  • Kry ’n  paar mooi mandjies om hout in te stoor.
  • Hang hake langs die braai, sodat die gereedskap daar netjies hang.
  • ’n Tipe van ’n kis of ottoman met pakplek binne help om buitemeubels se kussings of komberse uit die oog te bêre.

Byskrif: Die Frankens het hierdie oulike kassies langs die braai laat inbou. “GD stoor sy elektriese spitbraai en ander braaigoed hier, en in die een kas bêre ons al ons bordspeletjies.”

4. Versterk die binne/buite gevoel met plante

Dit is ’n area wat lieflik lyk as ’n mens die buitekant binne toe bring met mooi plante. Dink aan plante of blomme wat hou van lig en nie in direkte wind of weer wil wees nie.

5. Banke vir lekker kuier

’n Stel banke is ’n goeie plan vir lekker kuier. Skuif ’n ouer bank uit jou woonkamer na die braaikamer en kry iets meer formeels vir binne. Onthou, meubels in jou braaikamer moet hard wearing wees. Dit staan nou wel nie buite in die wind en weer nie, maar jy wil lekker kan ontspan, jou voete kan optrek, en moontlik is daar nat klein lyfies wat ook op die banke kom sit.

6. ’n Duur buitetafel is nie nodig nie

Buitetafels is baie duur omdat dit elemente moet kan weerstaan. Met ’n braaikamer wat onderdak is, kan jy enige tafel daar gebruik.

7. Kies stoele wat maklik skoonvee

Vermy gestoffeerde stoele rondom jou eettafel. Hier wil jy lekker kan kuier en nie te gespanne wees oor mors nie. Kies eerder stoele wat jy maklik kan afvee. ’n Mens kry deesdae selfs mooi plastiekstoele.

8. ’n Mat laat die spasie gesellig voel

’n Mat met tekstuur help om die spasie warm en gesellig te laat voel. Vermy ’n ligte mat wat vinnig sal vuiltrap. Hou ingedagte dat mense van binne na buite sal kom.

9. Kies jou dekorelemente met sorg

Dit kan gerus ook funksioneel wees vir die spasie.

’n Gras skinkbord met ’n beker en glase.

’n Groot tafellamp vir sagte lig saans.

Lees ook: 6 Wenke vir die bou van ‘n buite-onthaalarea; argitekte gee raad

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
kas regpak bérehouers
Wegpakwenke en bêrehouers vir jou wintersklere
error: Content is protected !!