haarfoute
haarfoute

9 grootste haarfoute wat jy maak

Ons is beslis skuldig aan van hierdie haarfoute! Van kleur tot was en sorg. Deur Suzanne Kotzé

Watter van die haarfoute maak jy?

Haarstilis Charles Junior Louw verklap wat die grootste haarfoute is wat hy vroue sien maak.

1. Blondines wat hul hare al hoe witter wil hê

As jy van die salon af kom en jou hare is geel, moenie teruggaan en nog bleikmiddel daarop sit nie. Soveel keer sien ek nuwe kliënte wie se hare al afgebrand het omdat sy haar hare wou witter hê en aangedring het dat haar haasrstilis haar hare witter moet bleik. Of die stilis het dalk self gedink nog bleikmiddel sal die truuk doen.

As jou hare geel is na ligstrepies of kleur is dit beter om ’n toner aan te wend om die geel te neutraliseer as om dit verder te bleik.

2. Jy kies ’n haarkapper wat nie in blonde kleure spesialiseer nie

haarfoute blonde kleur
Een van die grootste haarfoute wat blondines maak, is om na ‘n haarkapper te gaan wat nie in blonde spesialieseer nie.

Maak seker jy gaan na ’n haarkapper wat weet hoe om blond te hanteer, want om ’n mooi blonde kleur te kry is nie maklik nie. Maar hoe weet jy of ’n haarkapper goed is met blonde kleur? Junior se raad: “As jy iemand met mooi blonde hare raaksien (al is dit op straat) vra hulle: ‘Wie doen jou kleur?’

3. Jy wil soos ’n prentjie lyk

Een van die grootste haarfoute wat vroue maak is om soos ’n prentjie te wil lyk. Baie vroue kom met prentjies by die salon aan en vra bv. “ek wil soos Jennifer Aniston lyk,” maar ondervinding het my geleer dat baie vroue soos die vrou in die prentjie wil lyk en nie noodwendig haar haarstyl of kleur wil hê nie.

As jy die gesig op die prentjie toehou en jy hou nog steeds van haar haarkleur of haarstyl, dan is jy tot die hare aangetrokke, maar as jy nie meer daarvan hou nie, wou jy dalk net lyk soos Jennifer Aniston of Kim Kardashian of wie ookal op jou prentjie is.

Ek het nou onlangs ’n kliënt gehad wat aangedring het op kleur soos op haar prentjie, en al het ek haar ’n paar keer aangeraai om dit nie te doen nie, wou sy. En sy het die kleur gehaat! Luister dus eerder na jou haarkapper se raad! 

4. Jy wil blond wees, maar besef nie dat jy nie die instandhouding kan volhou nie. 

Jy het duur betaal vir jou blonde kleur, maar dan was jy nie jou hare met professionele sjampoe nie.

Dit is soos om ’n Ferrari te ry, maar jy kan nie bekostig om die Ferrari te laat diens nie.

Voordat jy dus jou hare blond laat kleur, kyk na jou begroting en maak seker jy kan dit bekostig om nie net te kleur nie, maar ook om die kleur en toestand van jou hare in stand te hou. Jy het sjampoe en opknapper nodig wat vog terugsit in jou hare en ’n pers sjampoe of behandeling wat jy nou en dan moet gebruik om geel te neutraliseer.  

Pers sjampoe is egter geneig om jou hare uit te droog, was dus jou hare met jou pers sjampoe om jou kleur reg te kry, en was dan daarna met jou gewone bevogtigende sjampoe.  

5. Jy wend boks-kleur bo-oor al jou hare aan

Baie mense kan nie bekostig om hulle hare die heeltyd in die salon te laat doen nie, en as ’n haarkapper verstaan ek dit. Die grootste fout wat jy egter kan maak met boks-kleur as jy jou hare wil donker kleur, is om die kleur op een slag oor al jou hare aan te wend. Wend dit eerder net op jou paadjie aan waar jou kleur uitgroei en kam dit dalk dan slegs die laaste vyf minute tot op jou punte deur. As jy elke keer jou kleur oraloor aanwend, word jou punte later pikswart en jou wortels lyk rooierig. 

6. Jy wend opknapper aan sopnat hare aan

Moenie die haarfout maak om opknapper aan sopnat hare te wend nie. Druk eers jou hare effens droog.

Jy moet eers jou hare droogdruk met ’n handdoek voordat jy opknapper aanwend. As jou hare sopnat is, kan die opknapper nie binnedring nie, want jou hare is reeds ‘vol’ water. Jou opknapper kan dan nie behoorlik sy werk doen nie. Jy hoef ook nie jou opknapper lank aan te los nie, jy kan dit aanwend, deurkam en dan weer afspoel. 

7. Jy dink as jy jou masker vir langer aan jou hare los gaan dit beter werk

Baie keer dink ons as ons die masker vir ’n uur aanhou, of daarmee slap, dat dit beter gaan werk. Jou haarskag is egter net so groot en net ’n sekere hoeveelheid produk kan dit penetreer.

Dink aan ’n bottel water wat klaar vol is, maar jy los die kraan oop en die water loop net oor, want die bottel kan nie voller raak nie.

Dit is dieselfde met ’n masker. As jy jou masker aanlos vir langer of oornag omdat jy nie tyd het om dit na vyf minute weer af te spoel nie, doen dit darem geen skade nie. 

8. Jy ken nie jou gesigvorm nie.

  • As die wydte van jou wangbene breër is as jou gesig se lengte, of dieselfde is, is jou gesig waarskynlik rond of vierkantig
  • As jou wangbene nouer is as jou gesig se lengte, het jy ’n langer gesigvorm. 
  • As jou kakebeen breër is as jou voorkop, het jy ’n meer driehoekige gesigvorm.
  • As jou voorkop wyer is as jou wangbene het jy ’n hartvormige gesig.

As jy jou gesigvorm ken, kan jy begin google watter style by jou gesigvorm pas. Dan kan jy ook ’n meer realistiese prentjie kry en saambring salon toe. As jy bv. ’n hartvormige gesig het, kyk na iemand soos Reese Witherspoon. 

9. Jy laat sny glad nie jou hare wanneer jy dit wil laat groei nie

haarsny
Jou hare groei gemiddeld 1.25 cm per maand, so moenie dat gesplete punte een van die grootste haarfoute wees wat jy maak nie.

Jou hare sal nooit gesond wees en lyk as jy dit nie knip nie. Jy sal gesplete punte kry en dit kan selfs tot op die haarwortel skeur. Daarom is dit belangrik dat jy jou hare elke twee tot drie maande moet sny. Jy moet dan ten minste een sentimeter afsny. Onthou die gemiddelde haargroei is 1.25 cm per maand, so jy sal steeds lengte bykry. 

Charles Junior Louw se salon Hashtag Colour Lounge is in Seepunt, Kaapstad geleë. Red my hare, Junior is te sien om 18.30, Dinsdag op VIA.

Lees ook: 20 Beste wenke vir fyn hare

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
grimeertrends
2021 grimeer-trends waarmee ons nou wil speel
error: Content is protected !!