As jy salon toe gaan vir blonde ligstrepies en met pienk hare daar uitstap, weet jy Charles Junior Louw is jou haarkapper. Oorweeg jy pienk hare? Neem eers hierdie in ag. Deur Suzanne Kotzé.
Pienk hare; dit moet jy weet
1. Jou hare moet lig wees
As jy donker hare het, sal jy eers jou hare moet bleik vir die pienk om te wys. Jy hoef egter nie al jou hare te bleik nie, en kan dalk net rondspeel met een strokie gebleikte/pienk hare.
2. Dit is pret en was taamlik vinnig uit
Die meeste blondines is óf hulle lewe lank al blond (met behulp van kleur of ligstrepies soos ons ouer word) of het baie geld betaal om hul blonde kleur reg te kry. ’n Mens is geneig om blond te bly en nie te waag met ander kleur nie, omdat dit duur is om jou blond reg te kry en jy nie jou kleur wil opmors nie.
Uitwas pastelskakerings, soos pienk, maak dit egter baie maklik, want dit was vinnig weer uit. Die kleur wat jy in die salon laat doen (soos myne) hou gewoonlik so twaalf wasse. Van die tuisdoen kleur was egter al na een of twee wasse uit. Ideaal as jy dit net vir die naweek wil probeer.
3. Jy gaan dink dit is te pienk
Ek skrik gewoonlik as ek myself sien en dink dadelik ‘dis te pienk’ en dan na so twee of selfs drie wasse is die kleur op sy mooiste.
4. Wees gereed vir koraal skakerings ook
Soos die pienk uitwas sal jou hare dalk effense koraal skakerings hê. Dit is so ’n kruis tussen ligpienk en ’n koraal skynsel. Dit is baie subtiel en ek hou nogal daarvan.
5. Jy gaan meer grimering nodig hê
Pienk hare laat my altyd meer uitgewas lyk. Waar ek gewoonlik ’n baie natuurlike voorkoms verkies en meestal net getinte sonskerm of -room en maskara dra, het ek nou meer grimering nodig. Die pienk kleur beklemtoon wel my bruin oogkleur mooi.
6. Enige rooi in jou gesig gaan meer sigbaar wees
As jy (soos ek) geneig is om te bloos of rooierig te raak, sal jy ’n onderlaag wat meer dekking gee benodig, anders sal dit enige rooiheid beklemtoon.
7. Jou grys gaan pienker lyk
Nie dat ek sal weet nie, want ek het natuurlik geen grys hare nie (knip-oog), maar dit is asof die pienk beter vat op grys hare, so oral waar jy grys hare het, sal dit helderder lyk as die res. Dit skep natuurlike kleurdiepte en ligstrepies.

8. Dit is ’n goedkoper manier om jou kleur te rek
Soos baie mense gedurende inperking agtergekom het, kamoefleer pienk of ander uitwas pastelskakerings jou uitgroeikleur. So dit is goed om tussenin kleur of ligstrepies te laat doen en is goedkoper (veral as jy dit self doen).
9. Toets altyd eers
As jy van plan is om self jou hare pienk te kleur, toets eers die kleur! Hierdie ekstra 10 minute kan jou baie tyd en moeite spaar. Jy gaan dan óf sien die kleur is te lig, óf te donker. As die kleur te donker is, sit ek eers opknapper aan en dan die kleur. As die kleur te lig is, maak ek my hare eers effens droog voordat ek die kleur aanwend. Jy kan ook die kleur langer aanlos, maar dit word nie altyd noodwendig donkerder nie.
Charles Junior Louw het Wella Professional Color Fresh Create in Vintage Blush en Nu-dist Pink op my hare gebruik.
Lees ook: Pastel hare