8 grootste modefoute volgens kenners

Ons het vyf kundige voorkomskonsultante gevra wat die grootste modefoute is wat hul gereeld vroue en kliёnte sien maak. Vanaf klere wat te groot is tot nalaat om klere aan te pas voordat  jy koop, die kenners stem saam dat hierdie die 8 grootste modefoute is – maak jy dalk een van hulle? Deur Justine Kroes

10/02/2023

1. Jy koop nie die regte grootte klere nie

Hier het 5 uit die 5 stylkenners saamgestem, die fout wat hulle meeste vroue sien maak is “jy koop klere wat te groot of te klein is vir jou lyf”.

Voorkomskonsultant Susra Matthee (@susra_matthee_image_consulting) verduidelik “omtrent 80% van vrouens wie se kasbeplanning ek al gedoen het, se klere was te groot vir hulle. Ons koop dikwels klere wat te groot is en dink ons kan iets daarmee wegsteek, en eintlik is al wat jy doen om jou groter te laat lyk. Baie vroue dink ook hulle is groter as wat hulle werklik is – ons is soms ons grootste kritici.”

Simone Lombaard (@simlobard_image) stem hiermee saam: “Baie vroue probeer die grootste deel van hulle liggaam met meer materiaal en patrone verbloem. Dit trek net meer aandag en doen eintlik die teenoorgestelde.”

“Laat gaan items wat te klein of te groot is. Dit gaan nie oor die grootte of dat jy altyd net in ’n sekere grootte moet inpas nie. Dit gaan eerder oor kledingstukke wat jou perfek pas en jou liggaamsvorm die beste laat lyk.”

Lizanne Anderson (@hellobeautiful_imageandstyle)

2. Jy balanseer nie jou proporsies nie

“Om iets weg te steek dra die meeste vroue ’n los broek by ’n los hemp. Ongelukkig lyk omtrent niemand goed in ’n lospassende uitrusting van kop tot tone nie” verduidelik Susra. “Dra dan eerder iets wat jou proporsies balanseer, byvoorbeeld stywe klere bo en los onder, of lospassende klere bo en noupassende klere onder.”

Simone se raad: “Wanneer jy iets groots en bonkigs dra, stileer dit saam met ’n item wat ’n noupassende silhoeët het, bv ’n oorgroot baadjie en ’n paar skinny jeans.  Probeer om balans te skep met jou silhoeët. So as jou bolyf langer as jou onderlyf is, kies eerder ‘high rise’-broeke, hakke en wys jou enkels. Indien jou bolyf korter is (soos die meeste vroue) kan jy dalk ’n bostuk met ‘n lae hals kies, en die voorpunt van jou hemp by jou broek insteek. Dit sal help om die illusie van balans tussen jou bo- en onderlyf te skep.”

3. Jy neem nie jou stylpersoonlikheid in ag nie

Jy bewonder iemand se styl, want sy lyk so mooi in daardie rok, jy probeer dan dieselfde maar dit pas net glad nie by jou nie – sy kan regkom met neutrale skakerings, maar jy het dalk bont skakerings in jou klerekas nodig – die rede? Julle het verskillende stylpersoonlikhede. 

“Wanneer jy dra waarvan jy hou en wat by jou lyf, leefstyl en stylpersoonlikheid pas, dra jy daardie uitrusting met selfvertroue en lyk sommer tops”.

Susra Matthee

Lizanne moedig kliёnte aan om hul stylpersoonlikheid te omhels. “Bly getrou aan jou modesin; as jy aangetrokke is tot ’n romantiese styl, omhels dit. Of as die meer gemaklike en ontspanne styl meer soos jy klink, verken dit meer. Dit is belangrik om getrou te bly aan jou persoonlike styl (en nie jou skoonsussie s’n of jou beste vriendin s’n nie) joune! 

Lees meer hier oor stylpersoonlikhede as jy dalk nie seker is watter een die meeste jy is nie:

4. Jy koop nie items volgens jou lyfvorm nie

Van uurglas tot A/driehoek (peer) of omgekeerde driehoek, elk van ons het ’n spesifieke lyfvorm wat ons in gedagte moet hou wanneer ons kledingstukke kies.

Susra vertel “Het hierdie dalk al met jou gebeur? Jou vriendin het die mooiste rok aan en jy gaan koop dieselfde een, maar dit lyk nie so mooi aan jou nie. Jy dink dan julle is dieselfde grootte, maar dalk is sy net maerder. Nee, jy het net eenvoudig ’n ander tipe lyf as sy! En daar is ’n ander rok waarin jy beter gaan lyk.

As jy onseker is oor jou lyftipe, loer dalk hier of kontak ’n voorkomskonsultant wat vir jou in die regte rigting sal help:

5. Jy dra die verkeerde kleure/ skakerings

Lizanne verduidelik: “Om die verkeerde kleure te dra of te koop, kan dadelik ’n demper op jou hele voorkoms plaas en jou ouer, uitgewas, vaal en moeg laat lyk.  Ken jou kleure – wat JOU perfek pas.  Die regte kleure sal dadelik jou hare, oë en vel laat skitter en blink, jou gesig jonger laat vertoon en jou natuurlike skoonheid en selfvertroue verbeter. 

Voorkomskonsultant Ronel le Roux (@ronel_leroux) is dit eens “So baie vroue dra slegs neutrale kleure of swart. Daar is so baie kleur beskikbaar in die winkels op die oomblik wat jou vel, oë en hare so mooi kan komplementeer. Wees waaghalsig en probeer om bietjie kleur tot jou klerekas toe te voeg, al is dit net in bykomstighede. Die lewe is vaal genoeg, kies kleur!”

Gesels met ’n voorkomskonsultant vir ’n volle kleuranalise as jy onseker voel oor die regte skakerings vir jou veltoon.

6. Jy pas nie klere aan voor jy koop nie

Stylkenner Hanli Saunderson (@hanlisaunderson) sê die grootste fout wat sy vroue sien maak is om nooit klere aan te pas voor hul koop nie. “Pas altyd in ’n goedbeligte aanpaskamer aan, en kyk jou prentjie van voor EN AGTER”. As iets nie pas nie, hang dit terug op die rak en neem ’n groter of kleiner nommer.

7. Jy kies modes bo styl

Ronel sê: “Een van die grootste modefoute wat my elke keer vang, is wanneer klёnte mode kies bo styl. Jy kan duidelik sien wanneer iemand iets dra omdat dit tans hoogmode is, maar hul voel glad nie tuis daarin nie.

As jy nie gemaklik voel of ’n item met selfvertroue kan dra nie, moet dit dan eerder nie koop nie. Belê in items wat jou stylpersoonlikheid en liggaamsbou pas, jy sal altyd tuis voel daarin en dit met selfvertroue kan dra. Daar is niks mooier as ’n vrou wat haar klere met selfvertroue dra nie.

Ronel le Roux

Hanli verduidelik “jy hoef nie ’n slaaf te wees van al die modes daarbuite nie. As jy in winkels kom en oorval word met die hordes opsies om jou, koop altyd met die volgende in gedagte: Koop liewer ’n bykomstigheid in ’n nuwe modetrend of kleur as byvoorbeeld ’n duur kledingstuk wat nie jou liggaamsbou vlei nie. Dit gaan dan in jou kas gaan eindig en nooit gedra gaan word nie. Vra jouself altyd eerste af: pas hier modetrend/kleur/item by my liggaamsbou, my velskakering, my ouderdom, my leefstyl by my huidige klerekas?

8. Jy dink ’n voorkomskonsultant is ’n duur en onnodige uitstappie

Ronel deel “Mense het ’n wanpersepsie van die kostes van dienste van ’n voorkomskonsultant en hoe jy as kliёnt werklik daarby kan baat. Dit is werklik iets wat elke vrou ten minste een keer in haar lewe vir haarself moet doen. Dit sal jou wêreld verander wanneer dit kom by jou liggaam, hoe jy klere kies asook kleurskakerings waaraan jy nooit sou dink nie.

Om gereeld die verkeerde klere te koop wat dan net in jou klerekas hang mag jou dalk veel duurder uitwerk as ’n voorkomskonsultant se raad wat jy vir jare lank sal onthou en gebruik.

Die Stylkenners:

Simoné Lombard – kontak haar by simlombardimage@gmail.com en volg haar op sosiale media hier.
Hanli Saunderson – Kontak vir Hanli hier; hanlisaunderson@gmail.com en volg haar op sosiale media hier.
Ronel le Roux –  kontak haar by hello@ronelleroux.com en volg haar op sosiale media hier.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Vyf modegiere van die 80’s en 90’s is nou groot nuus
error: Content is protected !!