Van geplooi of deursigtig, denim tot selfs leer, hierdie is die rompe wat modebewustes nóu in hulle kaste wil hê. Deur Suzanne Kotzé
Hierdie rompe is nou in
1. Geplooi
Hetsy dit ’n meer vroulike vertikale silhoeët of plat ‘skoolmeisie’ plooie is, voue en geplooide rompe kan sjiek, gesofistikeerd en selfs speels lyk. Afwaartse geplooide rompe lyk grasieus, terwyl die plat, groter plooie ’n meer ‘preppy’ voorkoms skep.
Monokromaties in swart. As jy gereeld Stylvol lees, weet jy teen hierdie tyd dat ons mal is oor die monokromatiese voorkoms. Die swart romp en baadjie is tydloos en klassiek, sonder om vervelig te lyk.

Die plat plooie met die seisoen se gewilde Paris (of enige ander stad of landnaam) bostuk, en plat skoene skep ’n koel, informele voorkoms. Kyk net hoe lekker werk die onverwagse diervelmotiefsak hierby.

Die korter platplooi skoolmeisie-tipe romp, is ideaal vir die winter wanneer jy dit saam met sykouse kan dra (veral as jy nie graag bene wys nie). Die lang sokkies en balletstylskoene werk goed hierby.







2. Borrelromp
Hoe poffer, hoe beter is al vanaf laasjaar die gesegde as dit by borrelrompe kom. Van mini’s tot midi’s (die makliker opsie om te dra); borrelrompe is (steeds) terug.
Onthou om jou bostuk styfpassend te hou, aangesien die romp reeds besig en vol volume is.



3. Deursigtig
Deursigtige rompe is al vir ’n tydjie lank groot nuus, veral op die rooi tapyt en loopplanke. Hierdie seisoen word dit egter meer informeel gedra, dink aan tekkies, oorgroot T-hemde, oopknoop hemde en baadjies. En nee jou onderklere hoef nie (noodwendig) te wys nie. Dra gerus ’n kort onderrok hierby (sommige rompe het selfs onderrokke by) of dra ’n ekstra lang T-hemp, hemp of baadjie bo-oor.





4. Denim
Denimrompe is al vir ’n paar jaar in. Van mini’s tot maksi A-lyne, regaf, midi of onder die knie. Grys, blou, swart en selfs wit bly populêr.






5. Potloodromp
Selfs die eens vervelige kantoorpotloodromp; kompleet in grys of swart, is weer in. Potloodromp weergawes in helder kleure, leer en in verskillende lengtes, van oor die knie tot maksi, is oral te sien.
Wenk: Omdat potloodrompe styfpassend is, kan jy ’n effense losser hemp of bostuk saam met dit dra, veral as jy dalk ’n effense magie wil wegsteek.




6. Leer
Leer is lankal nie net meer vir rebelle en motorfietsryers nie, maar dit is deesdae stapelitems in modebewustes se klerekaste. Leerrompe is al vir ’n ruk lank nuus en alhoewel swart altyd ’n staatmaker is, is kleure soos veral bruin en selfs wynrooi modekleure om nou te dra.


Leerrompe lyk dalk intimiderend, maar ’n A-lyn plooitjiesromp is ’n maklike manier om dit te dra.





7. Polkakolle
Polkakolle gaan veral weer groot nuus wees vir die lente en somer. En nee, jy hoef nie vir die ‘retro pin-up girl’ of Julia Roberts in Pretty Women voorkoms te gaan as jy wil pokakolle dra nie.

Jy kan dit op ’n meer-is-meer maksimalistiese manier dra soos hierdie voorkoms van Carolina Herrera waar die bostuk groter polkakolle het en selfs die skoene in polkakolle is. Jy kan selfs verskillende kleure polkakolle meng.
Die makliker en meer minimalistiese manier is saam met bv. ’n wit T-hemp en ’n denimhemp of baadjie dra.
Polkakolle werk saam met díe kleur van die oomblik, bottergeel ook.

Hou dit minimalisties met swart en wit.





8. Die Midaksi romp
Tussen-in die maksi en die midi romp. So net bo die enkels, langer as die midi (wat gewoonlik in die helfte van jou kuit hang) en korter as die vloerlengte maksi, is op die oomblik ’n maklik om te dra lengte. As jy kort is, en maksirompe gewoonlik op die grond sleep, sal die midaksi-lengte waarskynlik soos ’n maksiromp hang. Vir lang meisies hang maksi-romp dalk weer soos ’n midaksi lengte. Die lengte kan moeiteloos lyk, saam met sandale en ’n T-hemp of frokkie vir die somer, of meer elegant saam met stewels of hakke en ’n baadjie.
















