Net soos ons die lae klere minder maak soos dit warmer word, so ook word ons grimering ook ligter en varser om by die nuwe seisoen te pas. Hier is glansende, natuurlike grimeerwenke vir elke dag. Deur Suzanne Kotzé.
Grimeerwenke vir ’n glansende, natuurlike elke dag voorkoms
1. Velsorg is die beginpunt
Onthou grimering is nie daar om jou vel weg te steek nie. Gereelde afskilfering is deesdae makliker as ooit, met ’n wye verskeidenheid afkilferingslappies waarmee jy slegs jou vel hoef af te vee. Hoe minder dooie (dowwe) vel, hoe gladder sal jou grimering aanwend.
2. Sonskerm voor jou onderlaag
Kies ’n sonskerm wat dun en loperig voel. As jy geneig is om puisies te kry, kyk vir die woorde ‘non-comedogenic’ op die verpakking.
3. Kies ’n ligte onderlaag
Onthou jou onderlaag is nie veronderstel om jou vel weg te steek nie. Gebruik eerder verbloemer om merkies te verdoesel en onderlaag om jou veltoon en tekstuur meer eweredig te laat lyk.
4. Voeg ’n tikkie glans by jou onderlaag

Meng ’n produk wat glans gee soos Revlon ColorStay Face + Body Glow Lotion by jou onderlaag in vir ekstra glans.

5. Skep lig met beklemtoner
Oral waar lig natuurlik sal val, soos onder jou wenkbrou, op jou slape, bokant jou bo-lip, en op jou sleutelbeen.

6. Room/vloeibare blosser
Vir ekstra glans bly ’n room of vloeibare blosser ons gunsteling. Blosser is beslis nie ’n stap wat jy moet uitlaat nie; dit sit kleur (wat weggehaal is met jou onderlaag) terug en gee ’n jeugdige glans. Onthou, tik jou blosser aan op jou wangappels en meng uitwaarts na jou slape vir die gesig-lig metode wat steeds super vleiend is vir vroue van alle ouderdomme.
Lees gerus ons blosser gids hier.
7. Beklemtoon jou oë met natuurlike skakerings
Hou by natuurlike skakerings (met ’n subtiele tikkie brons of goud by as jy verkies) vir jou elkedag-natuurlike grimeervoorkoms. Onthou ook ‘blend is your friend’. Daar moenie duidelike lyne wees tussen die verskillende skakerings nie. Gebruik ’n sagte oogpotlood op jou boonste wimpers wat jy effens smeer sodat dit nie ’n harde lyn vorm nie. Tydens die lente wanneer baie van ons dalk sukkel met allergië en oë wat traan, is ’n waterdigte maskara ook ’n goeie keuse.
8. ’n Lekker lippie

’n Natuurlike pienkerige kleur (kyk gerus na die binnekant van jou mond vir jou ideale natuurlike pienk) is ’n goeie staatmakerkleur en hoort in elke vrou se lipstiffie-versameling.
So ook ’n mooi rooi. (Wenk as jy nie lus /of selfvertroue het vir ’n vol rooi lip nie, tik die rooi kleur met jou ringvinger op jou lippe en smeer dit in vir ’n meer subtiele voorkoms.) Revlon Super Lustrous Glass Shine Balm is tans een van ons gunstelinge. Die glansende kleur is super hidrerend en lekker om aan te smeer.





