Waar moet jy jou blosser aanwend, en wat van jou gesigvorm? Wat is die verskil tussen roomblosser en poeier? ’n Grimeerkunstenaar beantwoord ons blosservrae. Deur Suzanne Kotzé
Blosseraanwending: opwaarts en uitwaarts
Die tegniek van blosser opwaarts en uitwaarts aanwend is al vir ’n hele ruk lank díe manier. “Hierdie tegniek is steeds in. Dit help dat jy die blosser op die regte plek plaas, en glad (en goed gemeng) aanwend en dit gee natuurlik ook daardie ‘geligte’ effek waarna almal op soek is,” deel Revlon se nasionale grimeerkunstenaar Lucoh Mhlongo met ons.
Poeier versus roomblosser
“Hierdie hang af van die voorkoms wat jy wil skep,” sê Lucoh. “Roomblossers het meer pigment en kan ’n sterker/helderder voorkoms skep, terwyl poeier ’n sagter voorkoms skep. Met poeier het jy ook meer beheer as dit by plasing en aanwending kom. Poeierblosser is ideaal vir diegene met olierige velle. Roomblosser werk weer goed om normale tot droë velle te hidreer.”


Blosser en jou gesigvorm
“Onthou blosseraanwending is subjektief; hierdie is bloot riglyne vir verskillende gesigvorms,” sê Lucoh.
As jy onseker is oor jou gesigvorm, span gerus AI se hulp in. Maak seker jou hare is uit jou gesig, neem ‘n foto en vra vir ChatGTP “Idenity this face shape.” Ons stel voor jy probeer verskillende foto’s, en kyk watter antwoorde die meeste gegee word.
Ovaalvormig

Plaas jou borsel net bokant jou wangbene. Dit sal ’n verfrissende geligte effek skep, en jou ’n natuurlik blos gee.
Hartjievormig

Fokus op jou slape en meng jou blosser in ’n C-vorm na jou wangbene toe. Dit sal warmte aan jou gesig gee.
Ronde gesigvorm

Hier wil ons blosser gebruik om die illusie van wangbene te skep. Meng die blosser na jou wange toe. Dink amper daaraan as dat die blosser vir jou wange ’n drukkie gee.
Vierkantig

Met ’n vierkantige gesigvorm is die doelwit om die hoekige kenmerke te versag. Wend jou blosser net langs jou wangbene en slape aan (nie op nie). Dit sal jou gesig ’n gesonde glans gee.
Langwerpige gesigvorm

Fokus op die onderste gedeelte van jou gesig. Meng jou blosser van jou wangbene na jou ore om jou ken te versag.
Kan jy poeier- en roomblosser saam gebruik?
“Jy kan beslis poeier- en roomblosser saam gebruik, maar jy moet weet watter tipe voorkoms jy wil skep. Jy kan dit bo-oor mekaar gebruik (room met poeier bo-oor). Of jy kan die room en poeier op verskillede dele van jou wangbene gebruik. Jy wil dalk glans op jou wangbene hê, en dit is waar jy room sal gebruik, of die mat gevoel van poeier op ’n ander deel.
Minder is meer
Veral as dit by roomblosser kom. (Revlon se roomblossers het veral baie pigment,” sê Lucoh.) “Begin eerder met (te) min en wend nog aan, eerder as om baie tyd te moet spandeer om blosser wat te helder lyk te moet meng en sagter te laat lyk.
Truuk: Gebruik grimeersproei of mis, om roomblosser makliker te laat meng.
(Baie roomblossers bly waar jy hulle aanwend en meng nie so maklik soos poeierblosser nie.)




