Die “everything shower”: Jou alles-in-een kop-tot-toon skoonheidsritueel

Daar is gewone stortsessies, jy weet, die vinnige een waar jy jou hare was, jou lyf was en en binne vyf minute weer aangetrek is, en dan … kry jy die everything shower.

In ’n wêreld waar ons voortdurig besig is, het die “everything shower” meer geword as net ’n TikTok-neiging. Dit is ’n uitnodiging om vir ’n uur stadiger te leef en die week se stres met sorg en intensie weg te was.

Hier’s ons top wenke en handige stappe om jou eie kop-tot-toon everything shower te bemeester (en geniet!). Deur Justine Kroes

Wat is die “everything shower?”

Hierdie gewilde selfversorgings-trend is soos jou gewone stort sessie, maar op ’n heel ander vlak: ’n langer, voller en meer intensionele skoonheidsritueel waar jy tyd maak vir alles waarvoor daar gewoonlik nie tyd is nie. Dink aan: jou hare dubbelreinig, lyfskropsessies, skeer, voetvyl en maskers bo-op maskers!

Dit hoef beslis nie ’n vier-uur lange stortsessie te wees nie. Die idee is eerder om een keer per week ’n bietjie langer tyd vir jouself te maak, en jou roetine aan te pas by dit wat jou vel, hare en lyf werklik nodig het.

9 Wenke vir jou beste kop-tot-toon everything shower:

1. Voor jy die kraan oopdraai…

Die beste alles-in-een-stort begin eintlik voordat jy die kraan oopdraai. Neem ’n oomblik en dink gerus wat jou lyf nou nodig het. Indien jou hare droog of beskadig is, kan jy ’n haarolie of voorwasbehandeling aanwend en dit vir ’n rukkie laat intrek. Jy kan ook jou gesig vooraf met ’n reinigingsolie skoonmaak indien jy graag  grimering of SPF dra.

Nog idees:

Masseer ’n kopvelserum in jou kopvel in.

Indien jou kopvel moet afskilfer – wend voor jy was ’n kopvel afskilferaar aan.

Maak gebruik van ’n droë borsel (dry brushing) om bloedsirkulasie en limfdreineiring te stimuleer.

Dink aan jou badkamer as ’n mini-spa, eerder as net nog ’n vertrek in jou huis.

Stylvol wenk: Gebruik hierdie tyd om jou handdoek, slaapklere en al jou produkte te vind en reg te sit. So sal jy seker maak jy stap nie halfnat deur die huis op soek na jou bevogtiger nie.

2. Was jou hare deeglik

Begin met jou hare, veral as jy ’n haarmasker of ’n intensiewe opknapper gebruik. Dubbel reinig jou hare (dit beteken jy was jou hare twee keer) om jou kopvel deeglik skoon te maak en die opbou van enige produkte wat opbou te verwyder.

Wend jou opknapper of haarmasker van jou mid-lengtes tot die punte van jou hare aan.  

Laat die behandeling deeglik werk en intrek terwyl jy met die res van jou roetine aangaan.

3. Was jou lyf van kop tot tone

Nadat jy jou hare versorg het is dit nou tyd vir lyfwas.

Gebruik ’n sagte reiniger en gee aandag aan areas wat maklik vergeet word.

Spoel jou hare deeglik af sodat geen oortollige sjampoe, opknapper- of haarmasker op jou vel en kopvel agterbly nie.

4. Skilfer jou lyf af

Dis nou tyd om van al jou dooie velselle ontslae te raak. Maak gebruik van ’n sagte afskilferende handskoen, gebruik ’n fisiese afskilferaar (wees versigtig hiermee) of gebruik ’n chemiese of ensiem afskilferaar. Die keuse hier is ’n persoonlike voorkeur en sal ook afhang van jou veltipe.

Maak seker jy fokus veral op droë areas soos jou elmboë, knieë en hakke.

Psst … onthou jy hoef nie jou vel hard te skrop om dit glad te laat voel nie, te veel/ te hard afskilfering kan jou vel se sperfunksie steur.  Gebruik eerder ’n sagte enisiem afskilferaar, ons los sommer ons Dermalogica microfoliant in die stort en gerbuik dit op gesigte maar partykeer ook ons lywe wanneer dit ’n goeie afskilfer benodig.

5. Gee jou voete ekstra liefde

Ons voete kry gewoonlik die minste aandag wanneer dit dol gejaag is! Gebruik hierdie alles-in-een storttyd as ’n geleentheid om jou voete te pamperlang.

Nadat jou voete lekker sag geraak het van die warm water in die stort, maak gebruik van ’n sagte skrop om droë en dooie velle te verwyder. Vir growwer areas soos jou hakke kan jy ’n puimsteen of voetvyl liggies gebruik, wees versigtig om nie te hard te krop nie.

Spoel jou voete goed af en, wanneer jy uit die stort klim, smeer ’n bevogtigende voetroom aan. Vir ekstra sagte voete kan jy ’n spesiale voetroom aansmeer en ’n paar katoensokkies aantrek voordat jy gaan slaap.

6. Skeer

Dermatoloë beveel aan dat jy jou skeer laat tot nadat jy jou lyf gewas het. ’n Rukkie in die warm water help om jou hare en vel sagter te maak wat die skeerproses sal vergemaklik. Dit kan help om die risiko van skeermesbrand, ingegroeide hare en velirritasie te verminder.

Gebruik ’n bevogtigende skeerroom eerder as gewone seep. Hierdie laat jou skeermes makliker oor jou vel gly en met minder wrywing.

7. Moet nie van jou gesig vergeet nie

Volg nou met ’n sagte gesigsreiniger en herhaal jou daaglikse velsorgroetine wanneer jy uit die stort klim. ‘n Aanblygesigmasker vir ’n ekstra hupstoot hidrasie is altyd ’n goeie idee.

8. Die belangrikste stap: bevogtiger

Moenie wag totdat jou vel heeltemal droog is voordat jy bevogtiger aanwend nie. Maak jou vel liggies met ’n handdoek droog en smeer dan jou lyfroom aan terwyl jou vel nog effens klam is. Hierdie truuk help om vog in die vel te behou.

As jy ’n besonderse droë vel het, wend ’n hidrerende lyfolie bo-oor jou room aan vir ’n ekstra hidrerende laag.

Onthou ook van jou elmboë, knieë, voete, nek en décolleté.

9. Maak dit ’n ware ritueel

Die alles-in-een “everything shower” gaan eintlik nie net oor lyfwas of die produkte wat jy gebruik nie, maar eerder om stadiger te leef en tyd vir jouself te maak. Maak dit vir jouself lekker en steek ’n paar kerse aan, hang vars bloekomtakke aan die stortkop vir ’n ontspannende gevoel en kalmerende geur.

Speel jou gunsteling musiek en hou ’n sagte, donsige handdoek gereed, trek jou gunsteling warm kamerjas aan wanneer jy klaar is. Geniet daarna ’n koppie kruietee terwyl jy ontspan.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
parfuumwenke
10 Beste parfuumwenke
error: Content is protected !!