Vergeet van ysige platinum blonde kleure wat groot stellings maak en ook onderhoud eis. Dink eerder aan sagte, natuurlike blonde kleure wat moeiteloos duur lyk eerder as ooglopend gekleur. Deur Suzanne Kotzé
Kaapse haarkapper Charles Junior Louw wat vanaf Excentric on Kloof werk sê: “Al hoe meer van my blonde kliënte begin vra vir meer natuurlike blonde kleure. Hier is die vier blonde skakerings waarna almal in die salon vra.”
1. “Ou geld” blond

Baie van my kliënte vra vir ‘old money blonde’, want hulle wil nie meer so heeltemal blond wees soos platinum en asblond nie.

Met “ou geld” blond lyk die kleur soomloos, met subtiele dimensies wat met fyn ligstrepies en donkerder strepies (low lights) beweging skep. “’n Mens moet wel versigtig wees om nie te bruin te gaan nie, en eerder donkerblond of die ligste bruin vir die donker strepies te gebruik, want anders word jou kleur meer ‘bronde’ (vermenging van blonde en bruin). Daar moet ook absoluut geen harde lyne sigbaar wees nie.”
Die kleur moet ongeërgd lyk, asof jou hare maar net so lyk. Songesoende kleur wat gesond en blink lyk, sonder dat jy te hard probeer.
Gesels gerus met jou haarkapper oor ’n glansbehandeling of kleur.
2. “Hamptons blonde”

Ook bekende as ‘coastal blonde’. Die naam kom natuurlik van die Hamptons aan die Ooskus van New York, waar die rykes somershuise het.

Hamptons Blonde is die toonbeeld van moeitelose rykdom. Hierdie ingeleefde blond meng sagte beige, sanderige en heuningtone met fyn ligstrepies rondom die gesig.
Die wortels se kleur is effens dieper, wat ’n ontspanne, lae-onderhoud voorkoms skep wat pragtig uitgroei terwyl dit steeds onberispelik versorg lyk.
3. Sjampanjeblond


Junior beskryf die kleur as ’n oranje-geel blond. “Dink aan die kleur van sjampanje in jou glas met oranje, geel en pienk ondertone.” Natuurlik lyk die multi-dimensionele kleur ook luuks en blink, amper sprankelend sonder dat dit yserig of te geel lyk. “
Die 2000’s fliek White Chicks met die Wilsons susters in, is ’n goeie illustrasie van die kleur,” sê Junior.

4. Sampioenblond

As jy meer van koeler skakerings hou, is “Mushroom Blonde” ’n goeie keuse.

“Hierdie moderne skakering kombineer asblond met sagte taupe en ligbruin ondertone om ’n rokerige, aardse kleur te skep. Die gedempte elegansie maak dit ideaal vir enigiemand wat ’n verfynde blonde kleur wil hê wat kontemporêr, gesofistikeerd en maklik om te onderhou voel.
Die Stil Luukse (Quite Luxury) formule
Wat hierdie skakerings in gemeen het, is hul klem op natuurlike dimensie, gesonde glans en soomlose vermenging. In plaas van dramatiese kontras of helder platinum tone, fokus vandag se luukse blondines op sagte oorgange, duur glans en kleure wat jou gelaatstrekke komplementeer eerder as om dit te oorweldig.
Die resultaat is tydlose hare wat moeiteloos sjiek lyk en nie asof jy ure in die salon deurgebring het nie.
Gelukkig verg hierdie blonde skakerings minder instandhouding, en jy sal inderdaad minder tyd in die salon hoef deur te bring as wanneer jy byvoorbeeld ’n meer platinumkleur het.
“As jou hare wel ligter is, moet jy in ag neem dat jy dalk vir jou eerste afspraak langer tyd in die salon sal wees, aangesien daar ligter en donkerder strepies ingesit moet word. Daarna behoort jou opvolgafsprake vinnig te wees,” sê Junior.





