winterdepressie
winterdepressie

Vyf dinge wat jy oor winterdepressie moet weet:

As die winternag vir jou langer as gewoonlik voel, en die kilheid verby jou beendere strek tot binne in jou siel, is dit moontlik dat jy aan winterdepressie (seisoenale affektiewe steuring) lei. Deur sielkundige Gerda Kriel.

02/06/2022

Hier is vyf dinge wat jy oor winterdepressie/Seisoenale Affektiewe Steuring moet weet:

1. Dis seisoenaal

“O koud is die windjie

en skraal.

En blink in die dof-lig

en kaal,”

Seisoenale Affektiewe Steuring (SAS) kom gewoonlik voor tydens die winter. Dit kan individue vanaf die begin van die seisoen raak, en duur gewoonlik regdeur, tot vroeg in die lente.

In sommige gevalle vind dit plaas in die somer, maar as gevolg van die hoë voorkoms in die winter, word dit ook winterdepressie genoem.

2. Dit LYK soos gewone depressie (of Major Depressie soos dit klinies bekend is)

“so wyd as die Heer se genade,

lê die velde in sterlig en skade.”

Die simptome van SAS lyk net soos gewone Major Depressie, maar in stede van slegs twee weke, kan die simptome maande lank duur. Dit sluit in ’n lae gemoed, verlaagde selfwaarde, lae energie, lae libido en anhedonie (tekort aan plesier) in. Daar is egter spesifieke kenmerke wat dit onderskei van Major Depressie:

-Hipersomnia (slaap meer as gewoonlik) gepaard met erge moegheid.

-Verhoogde eetlus (spesifiek vir koolhidraatryke kos)

-Gewigstoename

-Sosiale isolasie

-SAS kom ook elke jaar op min of meer dieselfde tyd voor, en is dus nie net ’n enkele gebeurtenis nie

3. Lang donker winters vererger dit

“En hoog in die rande,

versprei in die brande,

is die grassaad aan roere

soos winkende hande.”

SAS kan in enige land voorkom, maar die insidensie is die hoogste in lande wat ver Noord lê, en wat deur baie lang, donker winters gekenmerk word. Hoewel lande soos Suid-Afrika nie lang winters het nie, kan SAS egter steeds hier voorkom, veral wanneer ’n mens binnenshuis werk en nie gereeld tydens die winter in die son kom nie. Daar word vermoed dat SAS veroorsaak word deur ’n gebrekkige blootstelling aan die son, wat Vitamiene D metabolisme in die liggaam veroorsaak. Vitamine D is ’n noodsaaklike komponent van Serotonien en Melatonien, twee neuro-oordragstowwe wat onderskeidelik ons gemoed en slaap reguleer. As persone dus nie genoeg daaglikse sonblootstelling kry nie, kan dit Depressie veroorsaak.

4. Vroue is meer geneig daartoe

“O treurig die wysie

op die ooswind se maat,

soos die lied van ‘n meisie

in haar liefde verlaat.”

Vroue word meer dikwels as mans met SAS gediagnoseer, maar dit kan enige geslag raak. Mense wat ’n bestaande diagnose van depressie het, is meer vatbaar daarvoor, en mense wat ly aan die Bipolêre vorm daarvan het selfs ’n groter risiko om SAS te ontwikkel. Wanneer iemand vir twee jaar in ’n ry op dieselfde tyd van die jaar depressie ervaar, en dit in die langdurige graad wat met SAS gepaardgaan, is hulle depressie waarskynlik SAS.

5. Daar is hoop.

“In elk’grashalm se vou

blink ’n druppel dou,

en vinnig verbleek dit

tot ryp in die kou!”

Die goeie nuus is tweeledig: eerstens dat SAS hoogs behandelbaar is, en tweedens dat die simptome van verbygaande aard is. SAS behandeling sluit ’n kombinasie van psigoterapie, medikasie en foto-terapie in. Foto-terapie is behandeling uniek aan SAS. Dit behels dat die pasiënt daagliks in ‘n kas sit met skerp ligte aan, vir 30-45 minute op ’n slag. Die ligte is helderder as gewone binnenshuise lig, en die UV strale word uitblokkeer wat dit veiliger maak.  Hierdie terapie word reeds sedert die 1980’s met sukses gebruik in die behandeling van SAS. Individue wat SAS ervaar, kan ook jaarliks voortydig met behandeling begin, veral praat-terapie of medikasie, om die impak van SAS op hulle lewens te buffer.


As jy vermoed dat jy of ’n geliefde aan Seisoenale Affektiewe Steuring ly, maak asseblief kontak met ’n plaaslike Sielkundige, Psigiater of Mediese dokter om jou behandelinsgopsies te bespreek. Besoek gerus ook www.sadag.org.za vir hulpbronne om jou by te staan.

(Hierdie artikel is opgedra aan Eugene Marais, skrywer van die gedig “Winternag”, iemand wat die koudheid van die winternag self maar té goed geken het).

Gerda Kriel

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Leandie du Randt
‘n Voorsmakie uit Leandie du Randt se ‘My hacks vir die lewe’
error: Content is protected !!