Ons hou nou al vir ’n ruk die mode en stylkenners fyn dop en daar is beslis ’n paar uitstaan wintermodeitems en uitrusting-idees wat ons graag wil aanpak. Van oorgroot oorvouserpe tot gestreepte opknoop truitjies. Hier is 7 gewilde wintermodeitems en uitrustings wat ons graag wil aanpak plus inspirasie fotos daarby. Deur Justine Kroes
14/06/2024
1. Oorgroot serpe wat ’n stelling maak
’n Serp wat byna kan dubbel as ’n kombers? Ja asseblief! Hierdie is ’n tendens waarna ons uitsien. Die idee is om ’n groot serp – helderkleurig of een met ’n interessante patroon – so om jou skouers te vou. Beslis ’n “layering” truuk waarvan ons hou.
Trek soggens jou warm serp om jou lyf en verwyder dit soos dit warmer raak deur die loop van die dag. Of vervang saans jou bonkige jas met ’n modieuse kombersserp wat jy maklik om jou een arm kan vou wanneer jy ’n restaurant binnetree.
2. Leer of kunsleer (pleather)
Leer of die meer bekostigbare kunsleer (pleather) is op die oomblik ’n gewilde keuse onder mode aanhangers. Kunsleer (of leer) hemde, broeke, rompe, jasse en selfs bykomstighede in die vorm van strikke is in!
Wenk: Jy hoef nie a la Matrix ook ’n swart kunsleer soldatejas wat tot op die grond hang, te dra nie. kunsleer is in verskeie skakerings en kledingstukke beskikbaar.
Van bruin tot room en selfs helder skakerings. As jy ’n kunsleer (of leer) kledingstuk op jou winterkooplysie het, onthou om ’n kledingstuk te kies waarin jy
1. Gemaklik voel en in kan beweeg.
2. Nie te veel raas as jy beweeg nie (pas aan en doen die “stap” of “sit en opstaan” toets).
3. Kies ’n leer/kunsleer kledingstuk wat jy ook sou dra selfs al was die item nie kunsleer nie – byvoorbeeld, dra jy eerder rokke, rompe of broeke?
4. Kies jou kunsleeritem in ’n skakering wat by jou stylpersoonlikheid asook by die res van jou klerekas gaan pas.
5. Dra dit met selfvertroue, as jy nie iets met selfvertroue kan dra nie, gaan jy net ongemaklik voel daarin en dit gaan wys.
3. “Cropped Trench”
Hierdie is ’n kledingstuk wat ons graag wil probeer – die kort of “cropped” trench coat/ soldatejas. Kyk ons sal nie maklik ons langer trenchjasse kan afskryf nie, maar iets omtrent hierdie trendy korter weergawe het ons opgewonde. Dit lyk modern, vars en ons weet dit gaan ewe mooi lyk by ons denims asook by ons maksirompe met plooie en selfs bo oor rokke.
Wenk: Kies ’n korter weergawe wat om jou middel (die kleinste deel om jou middel) eindig om proporsies te balanseer in ’n uitrusting. Of kies ’n effense langer weergawe (van die cropped trench) as jy nie ’n aanhanger is van onder die knie trenchstyl jasse nie.
4. Gestreepte trui (cardigan)
Die gesstreepte trui voorkoms is ’n kledingstuk wat oorvloei van die “old money aesthetic” aantrekstyl. Waar die doel is om soos “ou-geld” aan te trek met tydlose items wat duur lyk. Die gestreepte opknooptruitjie is veral hierdie winterseisoen ’n moet-hê volgens modekenners wat dit oraloor dra.
Die resep vir die seisoen se moet hê truitjie: wit en swart strepe, met goue knoop afwerkings.
’n Veelsydige kopie wat vir nog lang jare ’n tydlose item in jou klerekas sal wees. Dra dit by denims, winterrompe en selfs vir somer oor jou gunsteling wit, swart of helderkleurige somersrokkie.
5. Slouchy stewels
Koue weer bring ook pragtige skoene en ons kan nie wag om die slouchy stewel trend te probeer nie. Die sagte stewel met voue het die mode-wêreld opgewonde vir jas en stewelweer.
Wees op die uitkyk vir een wat jy weet jy sal dra of waag ’n slag en kies iets buitengewoons!
Nog meer oor trendy winterskoen hier: https://stylvol.co.za/winterskoenstyle-op-ons-kooplysie/
6. Dierepatrone
Van sebra tot luiperdmotief, albei is dierepatrone wat op die oomblik trend.
Items soos sebrapatrone is dalk vir die wat eerder ’n wit en swart kleupalet verkies, terwyl luipermotief by baie klerekas items sal werk vir iemand wat graag bruin dra.
Ons het vlugtig in ’n vorige artikel genoem hoe om rooi en luiperdmotief saam te stileer, ’n gewilde uitrusting onder modekenners op die oomblik. Die idee is om luiperdmotief te kombineer by ’n rooi kledingstuk, skoen of bykomstigheid.
Die luipermotief broek of denim is veral ’n topverkoper op die oomblik. As patroon broeke nie vir jou is nie, probeer gerus ’n rok of romp.
Wenk: Gaan loer eers wat jy reeds het, jy sal dalk verbaas wees hoe baie rooi, luipermotief of selfs swart en wit sebrastreep kledingstukke jy reeds in jou klerekas het (ons was!).
7. Balletskoene
Danksy die “balletcore” modetrend is balletskoene steeds ’n gewilde skoen opsie vir die winter. Van helderkleurige, balletskoene met juwele en strikke en selfs mesh/ deursigtige gaas is veral gewild op die oomblik.
Weer ’n veelsydige kopie wat by werk, naweek en selfs meer gemaklike uitrustings gedra kan word. Dit werk saam met denims, ’n T-hemp en blazer en net so goed by ’n tulle romp vir ’n volle “balletcore” voorkoms.
Wenk: moet nie oorhaastig wees met jou balletskoen kopie nie. Soek totdat jy ’n paar kry waarvan jy regtig baie hou. Daardie paar wat jy weet by als in jou klerekas sal pas.