Ons het veels te veel truie verloor deur die verkeerde was, ophang en stoormetodes te volg. Genoeg is genoeg – ons het die kenners ingeroep om hul beste truisorg, was en stoorwenke met ons te deel. Lees gerus hier indien jy ook nie nog ’n trui wil verloor nie! Deur Justine Kroes
09/08/2024
6 Truisorg wenke voor jou volgende was
1. Was jou trui reg
Die beste is om altyd eerder jou trui sagkens met die hand te was. Maar indien jou skedule (nes ons s’n) jou nie toelaat om ure lank te staan en truie was nie, is die tweede beste opsie om jou truie in ’n spesiale was-sakkie in die wasmasjien te was, is Amanda Kamhoot, eienaar en ontwerper van Just Cruizin se raad.
Die geseëlde wassakkie sal keer dat jou trui se moue in die was- en tuimelproses nie lank en uitgerek word nie. Dit sal ook sorg vir minder wolletjies op die trui omdat wrywing teen ander klere-items nie plaasvind nie.
Op die proef gestel “Ek was nou net my truie in ’n spesiale wassakkie (wat ek eintlik vir my bra’s gebruik) en my truie kom keer op keer foutloos uit die was uit” Justine.
Die temperatuur van die wassiklus is net so belangrik, moet liefs nie bo 30˚C jou trui was nie. Hoë hitte kan die wol beskadig en laat krimp.
Kies natuurlik altyd ’n “gentle” siklus op die wasmasjien wanneer jy delikate kledingstukke soos truie was om enige moontlike skade en wrywing te verminder, is Amanda se raad.
2. Doen hierdie dadelik na ’n was
Haal dadelik na ’n was jou trui uit die spesiale wassakkie en plaas dit plat neer. “reshape” nou die kraag, moue en soom van jou trui terug na hul oorspronklike grootte en vorm. As jou trui eers met ’n opgerolde soom droog word is dit moeilik om dit weer terug te kry soos dit hoort, is die Just Cruizin- span se topwenk.
3. Droogmaak
Vir die droogmaakproses, sê voorkomskonsultant Jeanne-Mari Hellig @jeanmariehelligimage op instagram “ek laat altyd my truie plat lê op ’n droograk vir die droogwordproses. ’n Trui is swaar wanneer dit nat is, en as jy dit gaan ophang gaan die ekstra gewig die materiaalvesels laat uitrek. Ek het al ’n nat trui opgehang en toe is die trui tot 3 groottes te groot uitgerek”.
Ek laat lê my truie sommer so plat op die bo-kant van ’n droograk, maak seker die moue en kraag lê mooi bo-op en hang nie af nie, anders sal dit uitrek
Voorkomskonsultant en stylkenner Lisa Mazaleni @thestyleup_lisa op Instagram stem hiermee saam “ek rol gewoonlik baie versigtig my trui in ’n handdoek op om van die ergste oortollige water ontslae te raak. Ek plaas dan ’n handdoek bo op ’n droograk en laat lê my trui bo op die handdoek neer. Ek maak ook seker ek laat staan nie my trui in direkte sonlig nie. Hierdie truuk sal verseker jou trui behou sy vorm en sal vir lang jare nog nuut lyk.
Onthou: Moet nooit jou trui in ’n hoë hitte tuimeldroër plaas nie.
4. Koebaai wolletjies:
Lisa se beste wenk vir “piling”: dit is die beskrywing vir daardie ongewenste wolletjies wat op jou trui opeenhoop; “gryp ‘n nuwe skeermes en skeer eenvoudig die sigbare wolletjies daarmee af. Jy sal nie glo hoe goed dit werk nie. ’n Materiaalskeerder werk ook, maar die skeermes “hack” is ’n gunsteling wat ek graag gebruik.
5. Stoomyster vir kreukels
Indien jou trui dalk ’n bietjie gekreukel is – maak gebruik van ’n ligte stoomyster om die ergste kreukels te versag. Jy kan ook ’n strykyster op ’n baie lae hitte gebruik om enige plooie uit te stryk.
6. Stoorwenke
Hierdie is seker die heel belangrikste stap in jou trui-sorg roetine – moet nooit, ooit jou truie aan ’n hanger ophang nie is Amanda van Just Cruizin se raad. Selfs langer “coatigans & cardigans” behoort nie opgehang te word nie. Wol en 100% katoen se vesels sal uitrek as dit hang.
Vou of rol eerder jou truie netjies, en pak dit plat in jou kas.