Hierdie 9 top truuks gebruik stiliste byna elke dag op stel om modelle en bekendes foutloos te laat lyk. Gebruik gerus van hierdie handige stiliste truuks om te lyk asof jy deur ʼn professionele stilis aangetrek is!

Ons het vier bekende, kundige modestiliste in die industrie gevra om hul top stileerwenke en modestyl- kennis met ons te deel, die Stylvol span deel graag ook hul wenke wat werk.  Deur Justine Kroes

1. Lyk netjies en afgerond

Pippa Heiman, SAFTA-bekroonde kostuumontwerper en stilis sê, “ʼn Denim moet altyd afgerond word met ʼn gordel daarby. Omdat daar verskeie denim trends op die oomblik is, soos die wat hoog in die middel sit en ander wat weer losser sit – is dit die moeite werd om ʼn gordel-pons aan te skaf. So kan jy gaatjies inpons waar nodig.  

Cathi Trevor, hoof-modestilis by Woolworths Aanlyn, en stigter van haar eie stylblad www.cathitrevor.com sê “knip daardie onnodige hanger toutjies (die wat gewoonlik onder jou arms uitkruip) van jou klere af, dit lyk altyd onnet as die toutjies per ongeluk uitsteek, ’n mens sien dit dadelik op ʼn foto raak. Leer sommer die gewoonte aan om etikette (labels) van jou klere af te knip ingeval hul maklik uitsteek of selfs net die vel irriteer.”

Stylvol se raad: Vee jou skoene (veral wit tekkies!) en handsak af, vuil bykomstighede laat jou dadelik minder netjies en meer verslons lyk.

2. Stylvolle bykomstighede

Voormalige moderedakteur en geakkrediteerde voorkomskonsultant Susra Matthee se raad: “Jou bykomstighede is dalk die kleinste items in jou klerekas, maar dit skep ʼn groot indruk en rond jou uitrusting af. Om bykomstigheidmodes na te volg is die maklikste en goedkoopste manier om in die mode te wees. ʼn Haar-scrunchie of haarband in plaas van ’n gewone rekkie skep die indruk dat jy weet wat in die mode is en jy lyk sommer meer afgerond.”

“Bykomstighede verander blitsvinnig ʼn doodgewone uitrusting, ek hou veral van klein syserpies, bind dit om jou nek, in jou hare of selfs om jou handsak. Het jy dalk jou gesigmasker vergeet? Gebruik jou sy-serpie as ʼn stylvolle alternatief!”

Cathi Trevor

3. T-hemde is ‘n mode-moet

ʼn Kraakvars plein wit T-hemp pas omtrent by alles, steek dit in by jou boyfriend-styl denim, rompe wat hoog om jou middel sit en selfs onder ʼn spaghettibandjie-rok – die stylopsies is eindeloos:

Annchen Lategan, vryskutstilis en persoonlike voorkomskonsultant deel haar top T-hemp wenk: “Gee jou T-hemp ʼn meer edgy voorkoms deur dit net bo die stiklyn van die moue en die soomlyn te knip. Doen dit sommer ook as jy die lengte van jou T-hemp wil verander, partykeer is T-hemde te lank of jy wil dalk ʼn cropped effek skep.  Knoop ook jou hemde om jou middel te beklemtoon by ʼn langbroek of romp met ’n hoë middellyn.”

Pippa gaan hiermee akkoord, “’n T-hemp is ʼn veelsydige mode-item om te stileer – Rol jou kortmou T-hemp se moue op om jou uitrusting ’n funky en stylvolle aanslag te gee”.

4. Probeer ander kombinasies

“Kry die volle waarde van jou klerekas deur nie altyd dieselfde kombinasies saam te dra nie. Dra ʼn somer-styl blazer by jou rokke en rompe in plaas van die ʼn denimbaadjie. Deur die moue van die baadjie op te stoot gee jy dit ’n gemaklike en moderne voorkoms” is Susra se stylraad.

Dink aan meer veelsydige maniere om jou klere te stileer, byvoorbeeld trek jou korter styfpassende rokkie (wat agter in jou kas lê!) aan en dra dit as ʼn hemp. Kombineer dit dan met ʼn los romp bo-oor wat om jou middel pas. In die winter kan jy ʼn baadjie of ʼn jas ook hierby dra.

Annchen Lategan

5. Die regte onderklere en vormdrag bewerk wonders

Annchen sê: “Daar moet altyd ʼn stel onderklere in jou kas wees wat by jou velkleur pas en wat naatloos is. Dit vertoon glad onder jou klere en is nie onder ligte of wit klere sigbaar nie. ’n Mens is geneig om wit onder wit, of pienk onder pienk te dra. Maar dit moet eintlik die kleur van jou vel wees om dit te verbloem.”

“Goeie vormdrag soos Spanx en ʼn toppie met spaghettibantjies bied ekstra ondersteuning en hou jou magie en borste mooi stewig op hul plek; jy lyk nie net beter in jou klere nie, jy voel sommer beter”

Pippa Heiman

“Belê in ʼn goeie bra wat die regte ondersteuning bied” Is Cathi se wenk. Ons stem beslis saam, as jou bra nie reg sit nie, kan jou hele voorkoms daaronder ly. Borste wat hang kan jou groter laat vertoon as wat jy werklik is. Jy het geen gedefinieerde middel nie en daarom lyk jou liggaam buite proporsie. Dieselfde geld vir vormdrag – die geheime wapen wat niemand kan sien nie. Dit sorg vir plat magies, verbloem selluliet en laat klere net sommer foutloos aan enige lyfvorm sit.

6. Hou hierdie altyd byderhand:

Nat weggooilappies:

Nat lappies is ʼn moet, al die stiliste stem hiermee saam. Justine sê “Ek het as stilis (en Ma) altyd een of ander vorm van ʼn wet-wipe byderhand, veral wanneer ek op stel werk. Hierdie vlekverwyderende lappies van Woolworths hou ek in my handsak, motor en stileringsak. Hulle werk wonderlik om enige vlekkie vinnig weg te vee, veral onderlaag op ʼn kraag!”

Woolworths Stain Removing Wipes (R14,99)

Haakspelde of double-sided kleefband

Annchen sê “As jou gunsteling bloes of rok net te oop voel rondom jou neklyn, gebruik ʼn haakspeld aan die binnekant om die materiaal bymekaar te hou of dubbelkantige kleefband wat die lap teen jou vel vasplak. Pippa glo ook hieraan “dubbelkantige kleefband is ʼn kitsoplossing om enige liggaamsdele te verbloem wat nie met jou uitrusting wil saamspeel nie. Die meeste klerewinkels verkoop body-tape, maar daardie doodgewone groot rolle van die hardewarewinkel werk net so goed!”

stiliste truuks
Forever New Stick It Rescue Tape (R249)

Pluisroller (lint roller)

“Om van enige dierehare, stof en wolletjies onstlae te raak, dra altyd ʼn pluisroller in jou handsak. As jy nie een byderhand het nie, gebruik sommer gewone breërol kleefband om hare van jou klere te verwyder” sê Cathi.

stiliste truuks
Mr Price Home Lint Remover Roller (R49,99)

Babapoeier

“Het jy geweet as jy babapoeier aan jou bene vryf sal dit verhoed dat jou rompe teen jou lyf vasklou!” is Pippa se raad.

stiliste truuks
Johnson’s Baby Powder (R49,99 Clicks)

Klerestomer

“Ek kan nie gekreukelde klere verdra nie, en ek gaan nêrens sonder my reisgrootte stomer nie. ʼn Handige sakpas item vir elke klerekas, hulle hou byna vir ewig en werk vinniger as ʼn strykyster. Boonop kan jy jou stomer op byna enige materiaaltipe gebruik” sê Cathi.

Milex Pro Garment Steamer (R499 Clicks)

7. Ken jou kleure

“Alhoewel dit lekker is om die nuutse modes na te volg, glo ek dit is beter om klere aan te trek wat by JOU velskakering pas. Eerder as die gewildste kleur van die seisoen. Deur die verkeerde kleur te dra is jou donker kringe meer sigbaar, jy lyk moeg en selfs ouer.”

Susra Mathee

Stylvol stem saam, en as jy huiwerig is om sekere skakerings te probeer – toets dit met ʼn serpie of ander bykomstighede van die skakering naby aan jou gesig. Selfs ʼn lipstiffieskakering kan werk om te sien of jy werklik die skakering sal kan dra

8. Hou dit klassiek

Onthou dat klassieke items, soos ʼn figuurvleiende denim, ʼn wit kraaghemp, swart broek en leerbaadjie altyd tydloos sal bly.

Annchen se raad “ʼn Sagte wit kraaghemp is altyd lekker om in jou kas te hê. Stileer ʼn vroulike voorkoms met ʼn paar boonste knope losgeknoop en die moue opgerol vir ʼn gemaklike gevoel. Jy hoef nie perfek te lyk nie! Druk die voorste deel van die hemp in en los die agterste gedeelte om uit te hang” Hierdie tegniek word die French Tuck genoem, en as ons iets by die Franse dames geleer het – hulle bly altyd klassiek!

Susra se raad stem hiermee saam “Moenie die klassieke wit-hemp-en-denim onderskat nie. Maak net seker jou T-hemp is nog kraakvars en jou denim reg vir jou figuur. Steek die voorpunt van jou T-hemp in (met die res wat uithang) om jou lyf langer te laat vertoon en vir ʼn netjieser voorkoms. Die eenvoud van ʼn klassieke styl gee jou die kans om rond te speel met jou bykomstighede sonder om oordoen te lyk.”

9. Vlei jou lyfvorm

Vind altyd balans in ʼn uitrusting. Maak seker die boonste en onderste gedeeltes van jou uitrusting komplementeer mekaar. As jy ʼn lospassende hemp dra, kombineer dit dan met ʼn noupassende broek of romp. En dieselfde geld vir andersom – as jy ʼn wyepypbroek of A-lyn romp dra, kies ʼn noupassende bloes of hemp wat jou proporsies balanseer.

ʼn Maklike manier om enige lyfvorm te vlei – dra ʼn gordel om jou middel. Dit aksentueer dadelik die kleinste gedeelte van jou lyf en trek mense se oë soontoe.

Pippa sê “kies uitrustings wat werk by jou liggaamsbou. ʼn Veilige uitrusting-idee wat by die meeste liggaamstipes pas is ʼn blazer met ʼn eenvoudige T-hemp, denim en tekkies, dit is veelsydig en funky”.

Lees ook: Moet-he mode items

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Kies koel linnemodes vir warm somersdae, hier’s hoekom;
error: Content is protected !!