Omdat ons byna ’n derde van ons lewe slaap, maak dit sin om aandag te gee aan die slaapklere wat ons bed toe dra.
Het jy geweet die regte pajamas kan help om jou liggaamstemperatuur te reguleer, wat ‘n direkte impak het op jou slaapkwaliteit.
Hier is ons beste wenke om winterslaapklere te kies om elke oggend meer uitgerus wakker te word. Deur Justine Kroes
Ons 4 beste wenke vir winterslaapklere kies:

Jou materiaalkeuse het ‘n direkte impak op slaapkwaliteit
Ons is almal sintuiglike wesens, party meer as ander, daarom is die materiaal van jou slaapklere belangrik. Die materiaalstof wat jy kies reguleer jou liggaamstemperatuur, ’n belangrike aspek vir ’n goeie nagrus.

Katoen
Katoen is ’n sagte materiaal en lig op die vel, ’n goeie opsie in warmer weer omdat die materiaal goeie lugsirkulasie bied. Vir die winter, kyk uit vir ‘n “brushed cotton” wat ’n warmer en meer snoesige gevoel teen jou vel gee.

Bamboes
Bamboes is ’n syagtige sagte materiaal wat uit plantmateriaal gemaak word. Die materiaal word ook geken as “bamboo viscose”.
Dit is anti-bakterieël, veral goed vir die wat sukkel met ’n sensitiewe vel. Bamboesmateriale beheer vogtigheid baie goed, byvoorbeeld as jy sweet word dit vinnig deur die materiaal geabsorbeer en die materiaal word ook blitsvinnig droog.

Dit is boonop termoregulerend, wat beteken dit hou jou koel tydens warmer somermaande en warm in die koeler wintermaande.

Egte sy
Egte sy is ’n termoregulerende materiaal, wat beteken dit hou jou warm wanneer jy koud is en koeler wanneer dit warm is.
Rayon
Rayon is ’n ligte en rekbare materiaal wat ook lugregulerende eienskappe het. Die rek (stretch) van hierdie lap sorg vir gemak soos g’n ander.

Swaarder materiale soos satyn en poliëster is beter opsies vir koeler wintermaande eerder as hoogsomer, hoewel hulle lugregulerende eienskappe nie so goed is nie.
Kies gemaklike slaapklere
Let op na aspekte soos die soom en kraag en of dit krapperig voel. Dit sal ook help om ’n pajamastel met minder versierings te kies. Slaapklere wat effens rek sonder te veel elemente soos ritse, tossels en tientalle knope is ’n beter opsie. Veral as jy verkies om op jou maag te slaap, dan is pajamas sonder knope ’n beter opsie.
Jou pajamagrootte is belangriker as wat jy dink
As dit te groot en lospassend is, verloor jy dalk al die hitte-isolerende voordele van jou pajamas.

Te styfpassend, voel dit ongemaklik en kan ook sirkulasie negatief beïnvloed, ongemaklik sit en jou slaappatroon versteur.
Dit is belangrik dat jy maklik genoeg kan rol, draai en rondbeweeg in jou pajamas.
Koop die beste kwaliteit wat jy kan bekostig
Goedkoop koop is duur koop, en ons het al ’n bloutjie met slaapklere geloop. Jy koop pajamas omdat dit dalk vir jou mooi is, maar jy dra dit een keer omdat dit krapperig voel en jou dalk saans laat sweet terwyl jy slaap.
Of na een was is jou nuwe stel pajamas of uitgerek of gekrimp. Selfs met slaapklere koop is die “cost per wear” gedagte belangrik om in jou agterkop te hou.

Dink aan hoe baie ure jy in jou nagklere deurbring en hoe gereeld jy dit dra. Dit maak vir ons sin om goeie kwaliteit slaapklere van goeie materiale te koop. En ons sien dit eerder as ’n belegging wat nie net jou slaappatroon kan help verbeter nie, maar ook vir ten minste ’n paar jaar lank hou.
Winterslaapklere op ons wenslysie:











