Wanneer dit by modepatrone kom is daar nie juis ’n patroon wat ons nog nie gesien het nie. Modetendense word wel elke paar jaar herhaal – maar wat dit elke seisoen opwindend maak is hoe jy dit opnuut dra en stileer. Hier is ses van ons gunsteling modepatrone wat hierdie somer groot nuus is en ’n paar wenke oor hoe om elkeen te dra. Deur Justine Kroes
25/10/2024
1. Dieremotiewe
Ons het nog nie ’n dieremotief ontmoet waaroor ons nie gaande is nie!
Luiperd- en sebrapatrone neem behoorlik vanjaar die modewêreld oor. Neutrale luiperdmotiewe bly ’n tydlose gunsteling, daarby ook natuurlik die sjiek en tydlose swart-en-wit sebrapatroonstrepe. Dra dit in ’n bypassende stel, ’n lospassende somersrok of selfs net ’n tikkie daarvan in skoen of handsak ontwerpe.
Pssst … helderkleurige dierepatrone is hierdie somer veral ’n gunsteling – indien jy graag kleur dra is hierdie benadering tot dieremotiewe dra beslis vir jou.
As jy nie braaf genoeg is daarvoor nie, kombineer jou swart-en-wit sebramotief of luiperdmotief met kleur, byvoorbeeld ’n helderkleurige gordel, skoene of handsak (selfs ’n helder oranje of pienk lipstiffie!). Dit is nou ’n vars, moderne en vreugdevolle aanslag.
2. Strepe
Strepe mag dalk soos ’n ou tendens klink, maar glo ons, strepe in alle skakerings (veral reënbooghelder skakerings so bymekaar) is in.
Dié seisoen verg strepe aandag met bypassende stelle, somersrokke en vertikale strepe is veral ’n gunsteling.
Strepe as ’n modepatroon het die vermoë om die oog te mislei en die figuur te vlei mits jy dit reg stileer. Strepe kan jou verleng, langer en slanker laat vertoon, maar die tenoorgestelde is ook waar. Strepe kan ook die aandag vestig op gedeeltes wat jy eerder wil verbloem.
Wees versigtig om horisontale strepe oor die wydste deel van jou lyf te dra. Onthou, met horisontale strepe beweeg jou oë van links na regs (nie op en af soos met vertikale lyne nie).
Vertikale strepe en lyne laat jou oë op en af beweeg, wat jou oë truuk om daardie verslankende en verlengende effek te gee.
3. Bont en helder eilandpatrone
Hierdie modepatroonstyl maak ons lus om na ’n tropiese eiland te ontsnap! ’n Patroon wat oornag die somerpatrone oorgeneem het. Helder, bont en gelukkig met een patroon meer uniek as die ander is hoe ons hierdie patroonstyl die beste kan beskryf.
Daar is talle verskillende kleure, grafiese ontwerpe en uitrustingstyle van rokke, bloese, bypassende stelle en nog meer beskikbaar.
Die patroon kan vir party taamlik oorweldigend en besig voel. Mits dit vir jou geld, hou die res van jou uitrusting meer simplisties en kies minimalistiese skoene en bykomstighede om die voorkoms vars en modern te hou.
4. Blompatrone
Die winter wat verby is se blompatrone was klein, fyn en effentjies, maar vir die somer en lente is hulle groter, meer duidelik, bont, kleurvol en helder.
Indien jy huiwerig is vir ’n blompatroon, begin klein. Dra ’n bykomstigheid met blompatrone of dalk net ’n blompatroon bloes of T-hemp om te toets hoe jy daarin voel wanneer jy dit dra.
Onthou as jy ʼn patroon op ʼn spesifieke gedeelte dra, sal dit juis daardie gedeelte beklemtoon. So as jy nie daarvan hou dat jou borste beklemtoon word nie, moet nie ʼn bloes dra met twee groot rose op die bors nie. Of as jy nie graag aandag wil trek na jou heup- of boudarea nie, bly weg van groot blompatrone hier.
5. Gingang
Gingang (gingham) oftewel die ruitjiespatroon, is vanjaar nog een van die groot modevoorkomste. Elke paar jaar kom hierdie patroon weer terug in die mode, so dit mag dalk net hierdie jaar die moeite werd wees om in ’n ruitjiespatroon-item vir jou klerekas te belê. Daar is beslis ’n gingham daar buite met jou naam op – hier is 5 wenke om hierdie trend soos ’n modekenner aan te pak:
Lees meer hier:
6. Polkakolle
Vanjaar is die polkakol kleiner en meer klassiek as vorige jare se groot en dramatiese polkakolle. Dit is veral duidelik dat die polkakolle vanjaar in moderne snitte met romantiese afwerking soos valle (ruffles) en driedimensionele blomme gedra word.
Polkakol patrone bymekaar? Beslis! Die goue reël is natuurlik dat die polkakolle verskillend genoeg moet lyk – dit hoef nie ’n reuseverskil te wees nie maar die een kledingstuk se polkakolpatroon moet effens groter of kleiner as die ander kledingstuk se polkakolpatroon wees. Skakerings moet natuurlik ook ooreenstem.
Het jy geweet jy kan patrone meng en saam dra, ja, jou polkakol kan by ’n streep- of blompatroon gedra word. Mits jy seker maak dat daar kleurskakerings in elke patroon is wat ooreenstem met die ander item.