Selfs die mees stylvolste kamer kan oorweldig en klein voel mits die inhoud nie goed deurdink word nie. As daardie spasie meer beknop as snoesig en knus voel, al is die spasie nie noodwendig klein nie, maar die manier waarop die inhoud gestileer word skep visuele chaos, maak jy moontlik een van hierdie dekorfoute. Deur Justine Kroes, Foto’s Pinterest
13/06/2025
5 Dekorfoute wat ’n kamer kleiner en meer geklotter laat voel (jy kan dit regstel!)
1. Te veel klein dekor-items:
Die probleem:
Jy het te veel klein dekor-items wat rondstaan, klein blompotte, kerse en en kershouers of BAIE klein ornamentjies. Jy mag dalk dink dit is oulik en bekoorlik, maar in relaiteit tel al die klomp dekor-tems saam en maak baie vinnig “visuele geraas” – soos geraas wat jy hoor – maar vir jou oë.
Stel dit so reg:
Groepeer kleiner items in onewe getalle (soos 3’s en 5’s bymekaar) en kombineer dit met ’n groter ankerstuk/dekorstuk.


Jy kan ook jou klomp klein items uitruil vir een groot dekorstuk wat al die aandag trek en ’n stelling maak.

2. Jy ignoreer skaal en proporsie
Die probleem:
Oorgrootte, te groot meubels, of te veel klein meubels kan die balans van ’n kamer of spasie afgooi. Dit laat die spasie besig of beknop voel.
Stel dit so reg:
Kies meubelstukke wat by die grootte van jou spasie pas. ’n Goeie wenk is om klein, medium en groot meubels en dekorelemente in ’n spasie te gebruik. Verskillende groottes bied proporsie en balans.

Dit gee die oë kans (en spasie) om te rus en help dat die vloei van die spasie beter is.
3. Te veel kompeterende kleure en patrone
Die probleem:
Jou spasie het ’n oormaat van sterk patrone en en botsende kleure – hierdie saam kan ’n spasie chaoties en ongekoördineerd laat voel. Hierdie is natuurlik nie die geval indien jou styl meer maksimalisties is nie – maar selfs dan word patrone en kleurpalet goed deurdink.
Stel dit so reg:
Kies ’n ooreenstemmende kleurpalet en hou daarby.

Gebruik enige patrone op ’n spaarsamige manier, byvoorbeeld een patroonkussing of patroonmat – en “ground” hierdie patrone met gebruik van neutrale skakerings wat die oë laat rus en die spasie laat asem skep.
4. Nie genoeg versteekte stoorplek nie
Die probleem:
Wanneer boeke, selfoonlaaiers, kabels, skoonheidsprodukte oop en rondstaan vir enigiemand om te sien kan dit ’n kamer onnet, besig en geklotter laat lyk.
Stel dit so reg:
Belê in funksionele meubels – meubels wat mooi lyk, gemaklik is en die ekstra voordeel van versteekte stoorplek het.

Kyk na opsies soos beddens met laaie aan die onderkant, ottomans of bankies wat oopmaak of selfs net boekrakke met deurtjies wat kan toetrek.


Daar is talle slim oplossings – Spieëls wat oopskuif met versteekte kassies agter die spieël. Elke spasie is natuurlik anders – kyk rondom jou na wat rondstaan en identifiseer wat jy graag wil wegpak vir die spasie om skoon en ongeklotter te lyk. Dit kan so eenvoudig wees soos mandjies vir speelgoed of kombersies.
5. Muur tot muur dekor
Die probleem:
Elke sentimeter van jou mure is bedek met kuns, rakkies, foto’s en slagspreuke. Net omdat daar ’n spyker is, beteken nie die spasie hoef noodwendig met ’n “live, laugh, love” prent gevul te word nie. Die kan veroorsaak dat mure oorweldig voel eerder as curated – en goed deurdink.
Stel dit so reg:
Omhels die idee van negatiewe spasie – gee die kuns teen jou muur spasie om asem te haal en verminder die hoeveelheid prente, fotos en slagspreuke wat willekeurig rondhang en nie by mekaar pas nie. Minder is meer.

Indien jy graag ’n gallerymuur wil probeer – wees intensioneel en volg die wenke.

Om ’n geklotterde spasie groter te laat voel gaan nie net oor die verwydering van items nie, maar ook om intensioneel te wees oor die stilering van die spasie en die items wat oorbly, Gee jou gunsteling dekoritems aandag en stal hul uit (nie als gelyktydig nie) en moenie bang wees vir ’n klein bietjie oop spasie nie.








