Is dit eindelik tyd om ons jasse en wintersklere te begin wegpak? Hier is kundige winterklere-wegpawenke van huis-organiseerders. Deur Suzanne Kotzé
1. Ontklotter eers
“Hierdie is iets wat ek self elke winter doen en ook altyd vir my kliënte vra om te doen. Maak minder. Het jy regtig 20 swart baadjies nodig?”
Kyk na die items wat jy nie eens gedra het hierdie winter nie. As jy dit nie gedra het nie, is die kanse skraal dat jy dit volgende jaar sal dra.
“Jy ontgroei van jou klere, dit pas dalk nie meer by jou ouderdom of lyf nie,” sê Kasia Wojciechowska van die huis-organiseringsbesigheid MK Method (met organiseerders in Johannesburg en Kaapstad).
2. Was voor wegpak
Maak seker jou klere is heeltemal skoon voordat jy dit wegpak. Laat maak gerus die wintersjasse wat jy gedra het droogskoon, voor die groot wegpak. Lyf-olies, sweet, parfuum en mikroskopiese kosoorblyfsels kan motte aantrek.
3. Mandjies met min gebruik goed

“Bêre die goed wat jy eers weer volgende jaar gaan gebruik, soos jou serpe, handskoene en mussies in mandjies wat jy hoog in jou kas bêre,” sê Kasia. Hou eerder jou somerskepse en hoede byderhand.
4. Gebruik jou garage

“Een van ons kliënte het baie min stoorruimte en haar huis gehad, en toe het ons vir haar kaste ingebou aan die een kant van die garage. Dit is ideaal om min dra/seisoenale items hier te stoor.”
5. Vou op
Vou jou klere, veral jou wol-items op, in plaas daarvan om dit te hang, aangesien dit kan uitrek en vorm verloor. Vermy dit ook om stoorbokse oorvol te maak.
6. Hou dit koel en droog
Vermy areas wat klam is of in direkte sonlig is, wanneer jy klere stoor.
7. Kies jou houers slim en merk dit
“Groot plastiekhouers met etikette van wat binne in is,” werk goed, sê Kasia. Natasja Mostert van Orden verkies groot swart plastiekkratte, veral as jy dit in die garage stoor, waarop jy sommer met bordkryt op kan skryf wat binne in is.
En wat van al die plastiek kompressie sakke wat mens nou oral sien? Kasia sê sy en haar kliënte het nog min sukses daarmee gehad. Daar is altyd lug wat tog op ’n manier inkom en dan word dit net weer ‘groot’.
Onthou ook om jou spasie te meet voordat jy houers koop. Anders sit jy met houers wat te groot of klein is.
Lees ook: Wegpakwenke en bêrehouers vir jou wintersklere
8. Benut ekstra kaste
Kasia sê dat daar ekstra kaste is in hul kinders se kamers waar sy en haar man hul wintersklere in wegpak. “Ons het sulke lekker deursigtige dik plastiek-sakke waarin ek my klere opvou en bêre,” vertel sy.
9. Oorweeg dit om stoorspasie te huur
“Ons het ses kinders, en ’n gesin van agt het baie goed en ons huis is nie besonders groot nie. Daarom huur ons stoorspasie met items soos dik wintersjasse, sneeuhandskoene en ook branderplanke en ander min-gebruik items,” sê Kasia.





