Die 2021 grimeer-trends wat vir ons hierdie seisoen uitstaan is die groot fokus op die vel (wat tog net nie toegesmeer en perfek moet lyk nie) en pret, veral met ooggrimering. Tydens inperking het baie van ons begin rondspeel en kreatief geraak met grimering terwyl ons net tuis moes bly. Juis om hierdie rede is grimering en trends minder voorskriftelik en gaan dit oor pret hê met jou grimering. Deur Suzanne Kotzé
2021 Grimeer-trends
Glansende vel (wat nie vlekkeloos en perfek hoef te lyk nie)
Een van die beste lesse wat ons al oor die jare by verskeie grimeerkunstenaars geleer het, is dat jy vir die grootste hoeveelheid van jou grimeertyd op jou vel moet fokus. ’n Goedbevogtigde (en afgeskilferde) vel is noodsaaklik voordat jy grimering aanwend. Hierna volg verskeie stappe van setsproei (make-up setting spray), ’n voorbereidingslagie (een wat glans gee is veral nou in), onderlaag en beklemtoner. Dit terwyl die eindproduk moet lyk asof jou vel net natuurlik so lyk.
“Dolphin skin” is nie verniet die afgelope paar maande ’n gonswoord nie. Verbeel jou hoe glansend ’n dolfyn se vel lyk as dit uit die water kom, dit is glo hoe jou vel ook moet lyk,” het grimeerkunstenaar Reneé de Witt ons so rukkie terug vertel.
Gelukkig is die klem nie op ’n perfekte vel of grimeervoorkoms nie. Tydens ’n onlangse MAC Cosmetics internasionale meesterklas wat ons aanlyn bygewoon het, was een van ons gunsteling trends “Rawness & Imperfection” soos aangebied deur die internasionale senior grimeerkunstenaar Baltasar González.
Marco Louis Ackers, senior grimeerkunstenaar vir MAC Afrika sê: “Wat deurslaggewend is van al die grimeer-trends en -voorkomste vir hierdie seisoen is rou (raw) vel. Vel wat soos vel lyk. Vel wat nie te veel toegemaak is nie, maar glansend en natuurlik lyk.”
Ook by Chanel se Cruise 2021/2022 versameling het kreatiewe-kleurdirekteur, Lucia Pica, gefokus op glansende vel. Die vel is eers goed voorberei en bevogtig met Chanel Hydra Beauty Micro Sérum en Hydra Beauty Camellia Water Cream en daarna is subtiele kleur en effense dekking gegee met Les Beiges Healthy Glow Foundation. Kyk net hoe mooi is die model se sproetjies wat deurskyn. Geen toegesmeerde, perfekte vel nie!
Blosser a la Bridgerton
“As ek kyk na hoe Baltasar blosser geplaas het, is dit vir my baie interessant. Ek dink TV reekse soos Bridgerton het ’n groot invloed op ons. Die blosser is amper “English lad” en lyk byna koorsig, asof jy dalk griep het,” sê Marco.
Speel veral met jou (oog-)grimering
“Met Covid soek ’n mens nie nog drama nie en daar is nie baie tot ons beskikking waarmee ons net kan pret hê nie. Grimering is egter een van die dinge wat mens kan gebruik om pret te hê ,”sê Marco.
“Hierdie seisoen se grimeer-trends is nie voorskriftelik nie; dit gaan oor pret hê en grimering geniet.
Marco Louis Ackers
Rooi lippe gaan natuurlik altyd in wees, maar speel! As jy jou rooi lipstiffie op jou oë wil sit, doen dit. Hê pret met jou grimering en speel.”
Dik swart oogomlyner – in dubbel strepe
By die Chanel Cruise 2021/2022 vertoning se grimeervoorkomste was dit nie net ’n glansende vel wat aandag getrek het nie, maar ook die pikswart oogomlyner wat rondom die hele oog getrek is om die oë te beklemtoon. Die swart lyne word gekomplementeer deur aarbeikleurige blosser en Chanel se nuwe hidrerende Rouge Coco Bloom lipstiffie.
Lees ook: Die mooiste nuwe grimeer-trends plus hoe om dit langer te laat aanbly onder jou masker.