Hierdie tydspaarwenke vir haastige ma’s wat soggens kosblikke pak, maskers moet onthou en rondhardloop, help dalk net dat jy nie nog ’n oggend die kinders aflaai met nat hare en ’n bleek gesiggie nie. Noudat die meeste van ons van die huis af werk, is ’n mens ook geneig om dadelik te begin werk en as jy weer sien is dit tyd vir kinders gaan haal en jy het steeds niks aan jou voorkoms gedoen nie. Deur Suzanne Kotzé en Justine Kroes
15 Tydkspaarwenke vir haastige ma’s
Suzanne se raad
Hierdie tydspaarwenke vir haastige ma’s gebruik ek self, want ek is daardie ma wat my kinders aflaat met hare wat nog nat is.
1. Hou jou elke-dag-grimering apart
Ek het heeltemal te veel grimering, daarom hou ek my ‘elke dag grimering’ apart in ’n houertjie in my grimeringlaai. My onderlaag, maskara, blosser en natuurlike skakering oogskadu’s.
2. Kleur jou wimpers
Ek kleur my wimpers sommer self. Dit maak ’n groot verskil aan jou voorkoms vir dae wanneer jy geen grimering aanhet nie.
3. Moenie van jou sonskerm vergeet nie.
Bêre jou sonskerm langs jou dagroom, anders vergeet jy dalk om dit aan te smeer.
4. Gebruik jou roomblosser ook as lipstiffie
’n Roomblosser gee nie net jou gelaat ’n ekstra hupstoot nie, maar jy kan dit sommer aan jou lippe ook aantik. Ek gebruik graag ’n roomblosser soos Chanel Les Beiges Healthy Glow Sheer Colour Stick (R1090) of Sisley Phyto Blush Twist (R1000) wat amper soos ’n groot lipstiffie lyk, wat ek op my wange en lippe gebruik. Dit is nie goedkoop nie, maar myne hou vir langer as ’n jaar.
5. Kies lipvlek vir natuurlike kleur
Vir waneer jy nie ’n masker aanhet nie, is ’n lipvlek ’n goeie keuse.
- Jy hoef dit nie perfek aan te wend nie.
- Dit smeer nie sommer af aan jou masker nie.
- Dit gee kleur, maar lyk subtiel.
- Jy kan dit ook as blosser gebruik.
6. Romerige oogskadu
Hierdie bly my beste en vinnigste manier om oogskadu aan te wend. ’n Vinnige smeersel oor jou ooglid en jy’s klaar.
7. Spandeer geld aan ’n haarsnit wat maklik is om te stileer
Maak seker jou haarkapper weet dat jy nie baie tyd het om te stileer nie en kies ’n styl daarvolgens.
8. Was en blaas jou hare droog saans.
Hierdie werk vir my hare, want dis baie reguit. Soggens sit ek net tekstuursproei of tekstuurpoeier in vir bietjie volume op my wortels.
9. Keps en maskara
Maak seker jy het ’n mooi keps vir wanneer jou hare nie meer heeltemal skoon is of goed lyk nie. Saam met ’n oorgroot sonbril en lipvlek lyk dit sommer glansryk en asof die die voorkoms is wat jy gekies het.
Justine
10. Spandeer die meeste tyd aan jou vel
Jou onderlaag, verbloemer en verhelderaar moet foutloos lyk, dit maak die ander grimeer stappe net soveel makliker en vinniger. Ek gebruik ’n grimeerkwas om my onderlaag aan te wend (na my sonskerm), ek buff die onderlaag uit totdat ek gelukkig is met die dekking. Daarna wend ek my verbloemer aan die donkerder areas (soos in die hoekie van my oë) en enige puisies of merkies wat ek wil wegsteek. Gebruik ’n spons of grimeerkwas, of selfs jou vingerpunte – wat ookal die vinnigste en maklikste vir jou gaan werk.
11. Vals wimpers
Ek het jare gelede geleer om vals wimpers self aan te wend. Ek hou van hoe dit lyk, maar het nie altyd die tyd om ’n paar uur uit te sit vir wimperverlengings nie. Ek is vandag so dankbaar vir hierdie skoonheidstruuk wat ek aangeleer het, dit spaar tyd, geld en verminder die moeite wat ek soggens aan my grimeer-roetine hoef af te staan.
12. Droë Sjampoe
Ek kan eenvoudig net nie daarsonder klaarkom nie. Ma’s hierdie is ’n moet vir jou smuktassie, ek het nie altyd tyd om my hare te was en te blaas nie (selfs al is dit haarwasdag maar jy het dwarsdeur daardie wekker geslaap!). Paar spuite aan my wortels, vryf dit in soos jy sou doen met sjampoe – en siedaar die aaklige olierigheid is weg. Boonop gee droë sjampoe lekker volume aan my hare ook.
13. Haarserpie of haarbolla
’n Haarserpie verbloem vuil hare en dit lyk sommer stylvol waar die hoë (of lae) bolla afgerond en netjies lyk.
14. Kies een grimeer fokuspunt
Vir min tyd, kies altyd jou lippe, dit is die vinnigste fokuspunt wat jou gelaat (en selfvertroue) dadelik opkikker. Indien jy nie lipstiffie wil dra nie gebruik jou verbronsingspoeier op jou oë, dit gee ’n effense glans en sagte kleur. ’n Room-oogskadu wat jy sommer met jou vingerpunte oor jou oë kan vee werk net so goed.
15. Kleur jou wenkbroue
Maak seker jou wenkbroue is altyd netjies of ingevul, dit maak jou gesig oop en gee meer definisie aan jou gesig.
As jy weet daar lê ’n besige tyd voor, kleur jou wenkbroue met ’n wenkbrou tint. Dit neem tyd om jou wenkbroue netjies te vul met ’n poeier of potlood. As jou wenkbroue reeds gekleur is gebruik eenvoudig net ’n wenkbrou-kammetjie of wenkbrou-jel om jou wenkbrou-haartjies te tem en netjies te hou. As jy ’n meer permanente oplossing vir jou wenkbroue verkies, kyk ook na microblading as ’n opsie.
Hoop hierdie tydspaarwenke vir haastige ma’s help jou om so paar minute te spaar soggens.
Lees ook: Oorkom jou mom-guilt