glimmers
glimmers

Maak glimmers só deel van jou lewe

Glimmers. Het jy al ooit ‘n oomblik beleef wat jou asem wegneem? Waarin jou hart stadiger klop, jou siel gevul met verwondering. ’n Oomblik, net ‘’n oomblik, waarin alles in die wêreld net reg voel? Indien jou antwoord ja is, het jy waarskynlik al ’n ‘glimmer’ beleef. Deur sielkundige Gerda Kriel

Glimmers is die teenorgestelde van “snellers”. 

Snellers word afgevuur wanneer iets in ons omgewing (intrapsigies of eg) ons aan ’n slegte of traumatiese ervaring in ons lewe herinner, en ons dan gevul word met ongemaklike emosies soos vrees, skaamte of hartseer. Ons liggaam se veg- of vlugreaksie word aangeskakel, ons liggaam skei kortisol af en ons ervaar emosionele disregulering. 

Glimmers, daarenteen, is oomblikke, bewustelik of onbewustelik, waar ons iets beleef wat ons veilig en geborge laat voel. Ons liggame reguleer ons emosies, en ons ervaar gemakliker emosies, soos liefde, warmte en geluk. As ons bewustelik leef van glimmers, kan ons meer intensioneel wees daarmee om dit in ons omgewing uit te soek, en kan ons op so ’n manier ons welstand verbeter. 

Vyf maniere waarop jy jou sintuie kan gebruik om glimmers intensioneel deel van jou lewe te maak.

1. Om beter te kan sien

Kyk om jou rond en soek intensioneel skoonheid uit.

glimmers-blomme

Ons kan so maklik vaskyk in ons omgewing se foute en dan mis ons die kans om dit wat mooi is te sien. Sielkundiges wat trauma bestudeer, het bevind dat blootstelling aan skoonheid kort na trauma, die brein help buffer teen die negatiewe effekte wat trauma op ’n persoon kan hê. Skep ook ’n mooi omgewing vir jouself – tuis en by die werk! Deur items te sien wat vir jou kosbaar en betekenisvol is, skep jy ’n veilige hawe waarin jy intensioneel welstand kan vind. 

2. Om beter te kan hoor

Ek is seker jy het een of twee liedjies wat jou oombliklik terugneem na jou jonger dae. Dalk jou studentedae, of jou eerste liefde.

Om na musiek te luister wat gekoppel is aan positiewe herinneringe, kan blitsvinnig gemaklike emosies ontlok, wat jou goed en gekoester kan laat voel.

Probeer dit gerus die volgende keer wanneer jy oorweldig voel: speel ’n lekker goedvoel-liedjie wat vir jou mooi herinneringe het, en voel hoe jou gemoed draai!

3. Om alles te kan ruik

Reuk is ’n sintuig wat uniek gekoppel word met herinneringe. Omdat die reukreseptore in die brein, reg onder die limbiese sisteem van die brein lê (wat verantwoordelik is vir o.a. emosionele ervaring en vaslegging van herinneringe), is reuk een van die kragtigste maniere om positiewe herinneringe te herroep – en die emosies wat met hulle gepaard gaan te beleef!

Dink aan die reuk van kaneel op ’n reënerige dag, of jou ouma se parfuum. Die reuk van vars gras of grond net na ’n Hoëveldse donderstorm.

Deur te weet watter reuke vir jou positiewe emosies herroep, kan jy werklik jou omgewing so struktureer dat jy maklik toegang het tot reuke wat jou goed laat voel.

4. Om iets sags om jou te voel

Een van die dinge wat ek in trauma-terapie opleiding geleer het, is die waarde daarvan om altyd ’n sagte kombers, sagte kussing of gemak-item naby te hê. Wanneer ons sekere teksture voel op ons vel, ervaar ons ‘n belewenis van welstand en veiligheid.

Dink maar daaraan hoe jy voel wanneer jy na ’n lang dag jou snoesige japon om jou draai. Let op watter teksture jou gemaklik en veilig laat voel, en dra meer daarvan!

5. Om beter te kan proe

As jy al ooit by iemand ’n gereg geëet het wat jou herinner aan ’n gunsteling gereg toe jy ’n kind was, sal jy weet dat kos ’n kosbare snoes-vermoë het wat min dinge het!

Maak dus seker jy het jou ma en ouma se gunstelingresepte, sodat jy op dae wanneer jy jou eie glimmers moet skep, vir jouself Ouma se tamatiebredie en malvapoeding kan maak. 

Al hierdie maniere, help ons om glimmers te beleef, maar die sleutel van elk is, dat ons intensioneel met die lewe moet omgaan, deur meer bewustelik te leef. En ons omgewing rondom ons in te neem. 

Gerda Kriel

Gerda Kriel is ’n kliniese sielkundige wat in Somerset-Wes praktiseer. Besoek gerus haar webwerf helderbergpsychology.com

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Lagom
‘Lagom’ jou lewe; wenke vir balans
error: Content is protected !!