10 goed wat jy van dopamien moet weet 

Dopamien is omtrent ’n gonswoord, vanaf dopamienmode na -dekor en selfs -naels. Hierdie ‘motiveringsmolekule’ of ‘goedvoelhormoon’ is egter veel meer as iets wat jou net laat goed voel as jy helder kleure aantrek. Deur Suzanne Kotzé

1. Dopamien is ’n kort- en langafstand chemiese boodskapper

Dis beide ’n neurogeleier (wat kortafstand-boodskappe in jou brein oordra) en ’n hormoon (wat langafstand-boodskappe na die res van jou liggaam oordra) 

As ’n neurogeleier in jou brein stuur dopamien boodskappe uit na neurone (senuselle in jou brein). As ’n hormoon (wat deur die liggaam se byniere en hipotalamus vervaardig word) dra dopamien boodskappe oor deur middel van jou bloedstroom. So bereik dit verskeie organe in jou liggaam en beheer hoe jy voel en hoe sekere dele van jou liggaam funksioneer. 

2. Daar is ’n skakel tussen lae dopamienvlakke en Parkinsons

Parkinson se siekte is volgens The American Association of Neurological surgeons is ’n progressiewe siekte wat deur die degenerasie van senuselle (neurone) in ons brein, genoem substantia nigra, veroorsaak word. Hierdie deel van ons brein is verantwoordelik vir beweging. Die senuselle is beskadig of dood en kan dan nie dopamien vervaardig nie. Studies wys dat Parkinsons ontwikkel in pasiënte wat 80% minder dopamienproduserende selle in die substantia nigra het. Dopamien werk saam met ander neurogeleiers om beweging te bewerkstellig, maar sonder genoeg dopamien kan regte beweging nie plaasvind nie. Vandaar die skudbewegings. 

3. Dopamien word as een van die ‘goedvoel-hormone’ beskryf

Dopamien is maatjies met serotonien, endorfien en oksitosien en die bynaam vir hierdie groepie hormone is die ‘goedvoel-hormone’.  Saam wakker dit gevoelens van geluk en selfs euforie aan. 

4. Dit is ook beken as die motiveringsmolekule

Nog ’n bynaam vir dopamien is ‘motiveringsmolekule’.  Dopamien is deel van jou pryssisteem. Hierdie sisteem ‘prys’ jou wanneer jy iets goeds (van basiese goed wat jy moet doen om te oorleef tot ‘lekker’ goed) doen deur ’n groot hoeveelheid dopamien af te skei wat jou laat goed voel. Jy voel goed en is gemotiveerd om weer en weer daardie gevoel te probeer kry. 

Dit skep ’n dopamiensiklus van 

  1. aksie
  2. prys
  3. motivering 

Wanneer ons gemotiveerd voel, gaan ons tot aksie oor. 

5. Dit kan help met fokus

Deurdat dopamien soos bo genoem help met motivering, kan dit ook help om meer gedrewe en gefokus te wees sodat jy ’n ‘prys’ kry om byvoorbeeld ’n taak af te handel. Daar is ’n skakel tussen aandagafleibaarheid en lae dopamienvlakke. 

6. Die dopamien ‘rush’ en die verslawingsgevaar

As gevolg van die ‘goedvoel’ gevoel wat jy kry wanneer dopamien vrygestel word, en omdat ons meer daarvan soek, is dit geen wonder dat dopamien ook met verslawing geassosieer word nie. Jy eet ’n baie lekker koekie, dopamien word afgeskei en jy soek nog (van die koekie en die lekker gevoel). Dieselfde met byvoorbeeld dwelmmiddels, nikotien, alkohol ens. Dit gee dan aanleiding tot kompulsiewe gedrag. Wanneer jy ongesonde maniere gebruik om ’n dopamienhupstoot te kry, soek jou brein al hoe meer dopamien. Dit kan jou brein se natuurlike funksie om dopamien te vervaardig en af te skei, verhinder en so aanleiding daartoe gee dat jy lae dopamienvlakke het. Dan word dit ’n bose kringloop van dopamien soek op ander maniere. 

7. Gereelde oefenining verbeter dopamienafskeiding

’n Studie wys dat oefening (fisiese aktiwiteit) kan help met die die afskeiding van neurogeleiers soos dopamien en serotonien wat jou bui kan verbeter en jou goed kan laat voel. Oefening het natuurlik ook vele ander gesondheids- en geestesgesondheidsvoordele. 

8. ’n Koue stort of swem is goed vir jou

Begin jou dag met ’n koue (minder as 14 grade Celcius) stort of kouewaterswem, want dit kan jou dopamienvlakke tot 250% verhoog. Dit is wat Tsjeggiese navorsers in ’n studie bevind het. 

Lees meer oor die voordele van kouewaterswem hier:

9. Genoeg slaap is belangrik vir die afskeiding van dopamien

Soggens skei jou liggaam gewoonlik ’n hoër hoeveelheid dopamien af (as ‘prys’ vir slaap) en saans skei dit minder dopamien af. Dit help met jou sirkadiese ritme sodat jy byvoorbeeld wakker voel soggens en slaperig voel saans. (Hierdie is ook ’n rede waarom kardiovaskulêre oefening saans vermy moet word, want die dopamien ‘high’ kan jou wakker hou). As jy te min slaap, kan dit hierdie natuurlike afskeiding van hoë oggend-dopamien omverwerp. 

10. Meditasie

Wanneer jy mediteer, styg die vlakke van dopamien, serotonien (bekend as die ‘geluk’ neurogeleier) en GABA (die ‘kalmte’ neurogeleier). Dit help dat jy oor die algemeen meer positief en ontspanne voel. So sê kliniese professor Angela Lumba-Brown van die Stanford Brain Performance Center.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
Soetmelksvlei; ’n kuier op ’n 19de eeuse plaaswerf
error: Content is protected !!