kouwaterswem
kouwaterswem

Die voordele van kouewaterswem en ysbaddens

Die van ons wat ‘mal’ genoeg is om reg deur die winter in ysige seewater te swem of in ysbaddens te sit, weet watter dopamine-‘rush’ jy het na die tyd, en wetenskaplike studies bewys ook hoe voordelig hierdie gewoonte is. Deur Suzanne Kotzé

Die kouewaterswem ondervinding

Ek swem self al vir twee jaar saam met ’n vriendin reg deur die winter in ’n koue seeswembad en mense vra my gereeld of ek ‘mal’ is en hoe ek dit doen. Min dinge kom egter hoegenaamd naby hoe goed jy na die tyd voel! Soos die bloed en hitte terugvloei in jou are, word jy gevul met energie en waardering. Alles lyk sommer ook mooier en helderder (en kos proe ook lekkerder hierna;-) Hierdie effek staan bekend as die koue water ‘high’ as gevolg van endorfiene wat vrygestel word nadat jou liggaam in skok ingaan.

Bekende juwelier Janine Binneman stem saam.

Sedert Covid is ons ses vriendinne (ons noem onsself die ‘Golden Vaginas’) wat weekliks hardloop en trappe (Jacobs Ladder met 1000 trappe) uithardloop gevolg deur ’n swem by Dalebrook seeswembad in Kalkbaai. Vier van ons duik in, terwyl die ander twee stadig inklim. Ons swem van die een kant na die swembad na die ander en bring seker so 10 minute in totaal in die water deur. Aanvanklik was die saamkom na Covid se ingehoktheid en alleenvoel die verskoning, maar die koue water het gou die eintlike verskoning geword.

Dit is ons weeklikse terapie-sessie wat ons forseer om op te staan en daar te wees vir mekaar.

Janine Binneman

Die ysige water laat jou lewendig voel, laat seer en stywe spiere beter voel en maak ons imuunstelsels sterker.  En natuurlik dink ons ook ons lyk jonger en maerder na elke swem. 

Hoe koud moet die water wees?

Oor hoe koud die water moet wees, kry ons geen klinklare bewyse nie. Volgens die Internasionale Winterswemvereniging se standaarde moet die temperatuur van die water van +5.1 tot +9°C wees. Maar oor die algemeen word daar van kouewaterswem gepraat as enigiets onder 15°C.

0-6°C Balties

Volgens The Outdoor Swimming Society word water tussen 0-6°C as Balties beskou. Jy spring in, snak na jou asem, dit voel asof jy ’n ys nekstuk dra en jou vel word rooi. 1-2 minute in die ysige water is voordelig.

6-11°C vriesend

6-11°C word as vriesend beskou met min of meer dieselfde effek as Balties, minder pynlik, maar ook minder ‘breathtaking’. Wintermaande se vroegoggende (tussen 6-8) in Kaapstad se Cliftonwater is soms gelykstaande hieraan. Die water in die Blouberg-omgewing is dikwels nog kouer. Op vroeg-oggende van koue dae is die temperatuur van die Suidelike strande soos Kalkbaai en Muizenberg ook soms so rondom 11°C.

12-16°C vars

12-16°C word as vars beskou. Dit is koud, maar doenbaar vir meer geharde winterswemmers. Die meeste oseane in die Kaapse- en Tuinroete-omgewing se gemiddelde temperatuur val hier onder gedurende die winter.

17-20°C somers

17-20°C word as somerswemtemperature beskou. Durban en omgewing se watertemperature is selfs gedurende die winter so lekker warm. Die Oos-Kaap en Transkei se temperature val ook hieronder.

As jy nuuskierig is oor die water waar jy swem of wil swem loer gerus hier

Die gesondheidsvoordele van kouewaterswem en kouewateronderdompeling

Volgens ’n wetenskaplike studie Health effects of voluntary exposure to cold water – a continuing subject of debate is hierdie van die voordele. Die studie beklemtoon egter dat meer gekontroleerde studies nodig is om daarvan te bewys.

Jy verbrand selfs na die tyd energie

Selfs die koue bewerasies na die tyd verbrand ook energie op ’n passiewe manier terwyl jou liggaam sy kerntemperatuur weer probeer bereik.

Dit kan help met gewigsverlies

Kouewaterswem help om jou bruin vet (goeie vet wat kilojoules help verbrand) te aktiveer. Hierdie is volgens die studie een van die grootste voordele van kouewaterswem. Ons het van nature nie veel bruin vet nie, maar volgens ’n ander studie kan blootstelling aan koue (minstens twee ure in temperature onder 18) ons moontlik help om wit vet in bruin vet om te skakel. Die studie is egter op muise, en nie mense nie, gedoen.

Dit kan help met insulien-weerstandigheid en diabetes

Blootstelling aan koue water of lug kan help om jou bruin vet se produksie van adiponektien te vermeerder. Hierdie is ’n proteïen wat ons help beskerm teen insulienweerstandigheid, diabetes en ander siektes.

Dit kan help met kardiovaskulêre gesondheid

Sommige studies wys dat kouewaterswemmers oor die algemeen ’n verbetering in hulle algemene kardiovaskulêre gesondheid ondervind. Een van die redes hiervoor is die skok-reaksie wat jou hart vinniger laat klop sodra jy onderdompel word in die koue water. As jy egter reeds hartprobleme het, moet jy hierdie eers met jou dokter bespreek, want té koue water en té groot skok mag dalk die teenoorgestelde effek op jou hê.

Die geestesgesondheidsvoordele van kouewaterswem en onderdompeling

Dit is moeilik om wetenskaplike bewyse te kry vir hierdie omdat dit dikwels so subjektief is en geharde wetenskaplike navorsers is nie noodwendig oortuig van al hierdie volgende voordele nie. Maar as jy kyk na mense wat gereeld swem en deel is van kouewater sosiale- mediagroepe, praat die meeste mense van hoe goed die ondervinding hulle laat voel. Van die grootste klagtes toe sommige seeswembaddens gesluit was vir ’n ruk weens E-coli- besmetting deur van die swemmers, was dat hulle geestesgesondheid daaronder gely het om nie te kon swem nie. Gedurende hierdie tydperk het ons self die skiereiland platgery en die oopsee aangedurf om ons weeklikse dosis vitamiene see in te kry. Van die geestesgesondheidsvoordele waaroor medeswemmers gereeld praat is

  • Verminderde spanning
  • Minder angstigheid
  • Algehele goedvoel effek
  • Beter slaap

Wenke om te volhard met jou kouewaterswemroetine

  • Begin swem gedurende die somer wanneer die water warmer is.
  • Maak dit deel van jou roetine. Gaan op dieselfde dag/dae en min of meer dieselfde tyd. Swem minstens een keer per week.
  • Kry iemand om dit saam met jou te doen, sodat julle mekaar verantwoordbaar kan hou.
  • Hou al jou swemgoed bymekaar sodat dit maklik is om te gryp en gaan (veral as jy sonsopkomsswem verkies en haastig by die deur moet uit).
  • As jy verkies om te swem eerder as om net op asemhaling te fokus, swem vir vier lengtes – daarna is jou lyf so koud dat jy nie die koue voel nie.
  • Dit help om jou gesig ook onder water te sit, veral as jy ingaan en jy voel of jy wil begin hiperventileer. Dit veroorsaak ’n duikrefleks wat ons liggame help om suurstof te spaar, en bloedvloei na ons belangrike organe te stimuleer.
  • Fokus daarop om jou asemhaling onder beheer te bring. Veral nadat jy eers ingespring het, en skerp inasem van die skok. Deur te fokus om ritmies asem te haal, verminder jy die skok.

My winterswem-staatmakers

kouewaterswem uggs
  • ’n Swemsak waarin alles was jy nodig het is, sodat jy dit net kan gryp (en nie tyd het om aan verskonings te dink nie).
  • Warm wolstewels. My UGGS was die beste ‘cost per wear’ skoene wat ek in ’n lang tyd gekoop het en niks maak jou voete so lekker warm nie. (Onthou net sokkies, want koue en natterige voete sukkel om in te kom).
  • Leë melk/koeldrankbottels vol warm kraanwater. Hierdie werk wonderlik om jou koue lyf mee af te spoel na die tyd. Dit koel genoeg af terwyl jy swem dat dit nie te warm voel op jou koue lyf nie.
  • Twee handdoeke, een vir afdroog en een op op te staan.
  • Sommige swemmers staan in ’n plastiekbadjie met warm kraanwater in om hulle voete op te warm terwyl hulle aantrek (ek het nog nie so vêr gekom om dit te doen nie).
  • ’n Plastiek of waterdigte sakkie vir jou nat swembroek.
  • ’n Oorgroot jas in die winter (waaronder jy sommer kan aantrek, ek het ’n lekker groot puffer wat wonderlik werk) of ’n handdoekjapon vir die somer.
  • ’n Bra is baie moeilik om vas te maak met koue, stywe vingers. ’n Toppie met ’n ingeboude ‘bra’ in werk die beste.
  • Kies ’n losserig broek wat maklik aantrek.
  • Los jou skaamte by die huis. Die meeste gereelde swemmers trek sommer langs die swembad of op die strand aan en uit, en die kans is daar dat jy nou en dan iemand gaan ‘flash’.
  • Warm koffie of tee vir die na die tyd.
  • ’n Warm watersak vir wanneer die bewerasies jou na die tyd tref (dikwels in die kar op pad huis toe) en dit hou jou klere lekker warm.
  • Handskoene

NS Vermy ’n warm stort te gou na die tyd, want dit kan jou lighoofdig laat voel. Hou die water eerder louwarm.

Wat is ‘afterdrop’?

‘Afterdrop’ is algemeen nadat jy in koue water geswem het. Jy klim uit en voel goed en dan so 10-40 minute daarna kry jy die bewerasies en sommige mens voel selfs lighoofdig of naar. Dit gebeur omdat jou liggaamstemperatuur aanhou daal, selfs nadat jy uit die water geklim het. Van die wenke hierbo kan help om dit te voorkom.

Ysbad-terapie en die Wim Hof-metode

Gedurende inperking het die Wim Hof-metode groot gewildheid geniet. Vandag is dit so gewild dat jy selfs ysbadterapiesessies kan doen en bespreek onder leiding van Wim Hof-kundiges.

The Real Housewives of the Winelands en die ysbad

Mariska van The Real Housewives of the Winelands het opnuut weer die ysbad bekend gemaak toe sy Dr. Michelle bekendgestel het aan hierdie terapie. Ons het vir Mariska gevra oor hoe gereeld sy self die ysbad doen en watter voordele sy ondervind en sy sê: “Dis great, ek doen dit gereeld, verseker en juis vir die ongelooflike voordele wat dit bied!

Meer oor Wim Hof

Die Nederlandse Wim Hof is onder andere bekend as ‘The Iceman’. ’n Bynaam wat hy gekry het deur ’n paar koue blootstellingsuitdagings te doen, van Mount Kilimanjaro te klim in ’n kortbroek tot ’n halfmarathon kaalvoet te hardloop in die Arktiese sirkel.

Die charismatiese Wim Hof gebruik ’n spesiale asemhalingsmetode wat jou outonome senustelsel beheer deur hard in te asem, ontspanne uit te asem en jou asem op te hou vir ’n paar tellings. Hy kombineer hierdie met ysbaddens of kouewateronderdompeling. (Soos in die Goop Lab episode 2). Die Wim Hof-metode is so gewild dat daar verskeie Wim Hof- afrigters reg oor die wêreld is.

Volgens Wim Hof sluit die voordele in:

  • Meer energie
  • Minder spanning
  • Beter slaap
  • Sterker immuunstelsel

Ysbaddens het ook so gewild geword dat verskeie ysbaddens vir tuisgebruik te koop is. Dit is dalk egter wys om dit eers onder leiding van ’n terapeut te doen voor jy dit alleen tuis doen.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
avontuur lugballong
Drie redes waarom avontuur goed is vir jou
error: Content is protected !!