Probeer dié wenke en eet bewustelik om meer genot uit jou kos te put die winter. Deur Liezel Engelbrecht
Hoeveel keer het jy jouself al gevang dat jy ‘n hele pak Chuckles of pretzels verorber het terwyl jy werk of voor die TV sit? Of dat jy na die kombuis toe loop as daar ’n moeilike taak op jou tuiskantoor se tafel lê en wag?
In die winter hunker ons dikwels ook meer na trooskos (“comfort food”) as gevolg van uiteenlopende redes. Sommige navorsers skryf dit toe aan evolusie, terwyl ander meen dis omdat daar minder son is wat ’n invloed het op die hoeveelheid “goedvoel”-hormone wat ons afskei omdat ons dan ook dikwels minder aktief is. Sekere kosse laat ons ook dié hormone afskei. Ander skryf dit weer toe aan aangeleerde gedrag. Maar hoe dit ookal sy, dit is heel normaal. En dit is nie verkeerd om trooskos te wil eet nie. Ja, om te eet is funksioneel en ons het kos nodig om te oorleef, maar ons eet ook vir plesier!
Dit is egter goed om bewus te wees van die interne redes (soos spanning, verveeldheid of hartseer) wat ons koskeuses beïnvloed, asook die eksterne faktore wat dit beïnvloed. Navorsers het in ‘n artikel in die Critical Reviews in Food Science and Nutrition joernaal juis gekyk na die eksterne faktore wat ons interne eetlusbeheerstelsels uitdaag.
Hulle het
- gewoontes,
- sigbaarheid van kos,
- sosiale norme,
- verpakkings- en porsiegroottes,
- eetgerei,
- etikette,
- tekstuur,
- smaak,
- afleiding tydens maaltye en
- atmosfeer geidentifiseer as van die eksterne faktore wat ons eetgewoontes beïnvloed en ons aandag kan aflei van ons interne eetlusbeheerstel.
Wat beteken eet bewustelik of mindful eating?

Al dié interne en eksterne afleidings is een van die redes hoekom “mindful eating” (eet bewustelik) so gewild begin raak.
In praktyk beteken dit om meer bewus te raak van hoekom jy eet, en om kos meer sintuiglik waar te neem.
Dit behels ook dat jy bewus raak van die uitwerking van sekere kos op jou liggaam en jou gemoed. Dit moedig ook ’n neutrale verhouding met kos aan sodat ons kos nie oordeel as “goed” of “sleg” nie. Deur “mindful eating” toe te pas kan jy dan ook leer om meer in te skakel op jou fisiese gevoelens van honger en versadiging, oftewel jou interne eetlusbeheerstel.
Werk dit om bewustelik te eet?
Verskeie studies dui daarop dat ’n “mindful” of bewustelike benadering tot eet ’n gesonder verhouding met kos kan kweek en kan gebruik word as ’n tegniek om emosionele eetgewoontes aan te spreek. Suksesvolle “mindful eating” beteken in praktyk om
- meer bewus te wees van die hongerseine van jou liggaam,
- in staat te wees om op te hou om te eet sodra jy versadig voel,
- minder van die tipe kos te eet wat jou liggaam nie voed (“nourish”) nie, en laag is aan voedingstowwe (wat jou oor die lang duur kan laat sleg voel)
- meer bewustelik te reageer op emosionele en omgewingsfaktore wat kossinname beïnvloed.
Oor die algemeen kan dit help met beter algehele gesondheid en geestesgesondheid.
En nee, dis nie ’n kitsoplossing vir gewigsverlies nie. Die fokus is ook glad nie op gewig nie, maar eerder daarop om ’n gesonde verhouding met kos te skep deur meer bewus te raak van kos en hoe dit jou laat voel. Dit is wel moontlik op hierdie manier gewig te verloor, veral vir diegene wat voorheen ’n gewoonte van sinnelose (“mindless”) eet gehad het.
Oefening:
Om mee te begin, kan jy jouself dié vrae afvra as jy weer eet:
- Wat eet jy? Eet jy voedsame kos of verwerkte voedsel. Is jy bewus van jou porsiegrootte? Neem jy kennis van hoe die kos ruik, die temperatuur van die kos en die tekstuur van die kos? Probeer al jou sintuie inspan.
- Waar eet jy? Eet jy voor die televisie of rekenaar? Eet jy saam met jou gesin aan tafel, of eet jy alleen in jou motor? Afleidings kan jou koskeuse-en inname beïnvloed.
- Wanneer eet jy? Peusel jy regdeur die dag, eet jy op vasgestelde tye, of is jy altyd “on-the-go” as jy eet? Deur tyd te maak om jou te geniet sal jy meer bewustelik kan eet.
- Hoekom eet jy? Is jy honger, of eet jy omdat jy gespanne, angstig, gelukkig of kwaad is? Eet jy omdat jy in ander se geselskap is wat dit van jou verwag?
- Hoe eet jy? Eet jy stadig, en kou jy jou kos behoorlik? Geniet jy elke happie en ervaar jy die geure van die kos? As jy stadiger eet gee jy jou liggaam meer kans om jou te laat weet wanneer jy versadig is.
- Hoe voel jy? Is jy bewus van hoe versadig jy is? Hoe laat die kos jou voel? Moet jouself nie oordeel nie, maar skep ’n bewustheid wat jou kan lei tydens jou volgende ete.
Onthou…
Soos met elke nuwe vaardigheid, sal dit tyd neem om die gewoonte aan te kweek om bewustelik te eet, en dit sal nie elke dag of selfs elke maand perfek wees nie. Daar is baie aanlynhulpbronne (ek het ’n paar hier onder uitgelig om jou op die regte pad te sit). Jy kan ook ’n dieetkundige uitvra oor ‘n bewuste eetbenadering.
Webtuistes met meer inligting:
- https://www.thecenterformindfuleating.org/
- https://www.mindingthefoodspace.co.za/
- https://mindfulness.org.za/
Kontak
- Liezel Engelbrecht is ‘n geregistreerde dieetkundige van Kaapstad. www.liezelthedietitian.com.
- Besoek adsa.org.za vir ’n dieetkundige in jou area.
- Vrywaring: Hierdie hulpbron is slegs vir opvoedkundige doeleindes en kan nie ’n individuele assessering of behandeling deur jou dokter of dieetkundige vervang nie.
Aanvullende bronne:
- Els Bilman, Ellen van Kleef & Hans van Trijp (2017) External cues challenging the internal appetite control system—Overview and practical implications, Critical Reviews in Food Science and Nutrition, 57:13, 2825-2834
- Warren JM, Smith N, Ashwell M. A structured literature review on the role of mindfulness, mindful eating and intuitive eating in changing eating behaviours: effectiveness and associated potential mechanisms. Nutr Res Rev. 2017 Dec;30(2):272-283