Belemmer jy jou gesondheidsdoelwitte? Hoeveel keer het jy al aan die einde van ’n week of maand gesê “Môre gaan ek op ’n dieet” of “Môre gaan ek begin gesonder leef.”? En dan hou dié voorneme slegs ’n paar dae (of soms slegs ‘n paar uur!), totdat die eerste versoeking of uitdaging sy kop uitsteek en jy besluit die “gesond-eet-ding” is nie vir jou nie, en dan sommer alle goeie voornemens laat vaar. Jy is nie alleen nie en hier is hulp. Deur dieetkundige Liezel Engelbrecht
Dieetkultuur en jou gesondheidsdoelwitte
“Dieetkultuur” is ’n gonsword in baie gesondheidskringe.
“Dieetkultuur” verwys na ’n kultuur wat wat alewig op ’n “dieet” is en behep is daarmee om kilojoules te tel, kosse in ‘goeie’ en ‘slegte’ boksies te sit, en liggaamsvorm en -gewig belangriker as algehele gesondheid te ag.”
Baie mense is deel van die dieetkultuur, en blaas meer wind in dié kultuur se seile, sonder dat hulle dit dalk eers besef. Dink byvoorbeeld aan mense wat foto’s deel op sosiale media van al die “skoon” kos wat hulle eet, na sjokolade verwys as “sondige plesier”. Of selfs net iemand wat aanmerkings maak oor iemand se (of hul eie) voorkoms of liggaamsbou. Deur ons ore (en oë) uit te leen aan die tipe inhoud of geselsies, dra dit onbewustelik by tot die geloof dat slegs sekere kosse en liggaamsvorme aanvaarbaar is. Dit kan daartoe lei dat ons dink om gesond te leef net oor voorkoms, spesiale kosse en onthouding gaan. Dit laat ons ook voel dat dit buite die bereik van normale mense soos ons, is.
Die waarheid is, jy hoef nie perfek te eet om gesond te wees nie. Jy hoef ook ook nie elke dag te oefen om gesond te wees nie. y hoef beslis ook nie sogenaamde “superkosse” te eet om gesond te wees nie Dis die groter prentjie wat belangrik is.
Dis goed om die meeste van die tyd jou vyf groentes en vrugte per dag te probeer eet, volgrane te kies bo verfynde kosse, maer proteiene of plant proteïene bo verwerkte vleis, aktief te wees en baie water te probeer drink. Maar beteken dit jy mag nooit weer skyfies, roomys, sjokolade, malvapoeding, melktert, vis en tjips of pizza eet nie? Of dat jy elke dag ’n uur in die gim moet deurbring? Beslis nie!
10 foute wat jou gesondheidsdoelwitte kan belemmer
As jy egter voel jy het vir té lank té veel van hierdie kosse geniet en té min beweeg, is dit dalk ’n goeie idee om te begin aandag gee aan die kort- en langtermynuitwerking wat dit op jou liggaam en gesondheid het. As jy dan besluit jy is reg vir ’n verandering in jou kos- of oefengewoontes, pak dit verantwoordelik aan. Hier volg ’n paar algemene kwessies wat mense dikwels pootjie in hul gesondheidsplanne:
1. “Goeie kos” vs “slegte kos” mentaliteit
As jy hierdie mentaliteit het, kan dit sielkundig daartoe lei dat die “slegte kos” se waarde verhoog word, en dus as iets meer begeerliks as die “goeie kos” gesien word.
2. Jy beskou oefening as ’n taak
As jy slegs oefen om gewig te verloor, kan dit jou daarvoor verblind om sekere aktiwiteite as pret te beskou. Daar is deesdae ’n groot verskeidenheid aanlynklasse (baie daarvan is gratis!) wat oefeninge van ballet en dans tot joga en boks aanbied. Vind iets wat jy geniet.
3. Vaste kosreëls laat jou afgeskeep voel
Dit kan lei daartoe dat jy nét dink aan die kosse wat nie “toelaatbaar” is nie, wat dan kan lei na die uiteindelike ooreet aan dié kosse wanneer jy jouself weer toelaat om dit te eet.
4. Jy hou nie tred met jou vordering nie.
As jy dink daaraan om jou gewoontes te verander, is dit dikwels ’n goeie idee om dagboek te hou van wat jy eet, hoeveel jy oefen en hoe jy voel (emosioneel en fisiek).
Dit is nie om tred te hou van die kilojoules wat jy eet of verbrand nie, maar om te sien watter uitwerking sekere kosse en oefening het op hoe jy fisiek voel en hoe jou gemoedstoestand is.
Dit laat jou ook toe om tred te hou met hoe jy vorder in terme van mikpunte, soos om byvoorbeeld vyf porsies groente en vrugte te eet, of agt glase water te drink, of om minstens 3 keer per week te gaan stap.
5. Jy sny hele voedselgroepe uit.
Behalwe dat jy die risiko loop om voedingstekorte te ontwikkel en ongesond te wees as jy dit nie reg aanpak nie, is dit vir die meeste mense nie volhoubaar nie. Omdat dit moeilik is om te onderhou, val ’n mens dan maklik om terug op ou gewoontes. Mik eerder vir balans.
6. Jy is onrealisties en ongeduldig.
Dit neem tyd om nuwe gewoontes te vorm en ’n nuwe ingesteldheid teenoor koskeuses en jou lewenstyl te ontwikkel. Gewoontes wat jy vir twee dekades (of langer) gehad het, gaan nie oornag verander nie. Wees vriendelik en geduldig met jouself.
7. Jy ignoreer jou emosies, omgewing en stresvlakke.
Al dié dinge het ’n reuse-invloed op jou gesondheidsreis. Elke dag gaan nie dieselfde wees nie, en dis normaal. Bestuur jou doelwitte en verwagtinge na gelang van wat die dag, week of maand vir jou inhou. Jy gaan dalk nie dieselfde keuses maak op dae wat jy by vriende kuier, baie hartseer is of baie gespanne is nie. Deur kennis te neem van hoe dié faktore jou eet- en oefengewoontes beinvloed, kan jy aanleer om meer bewustelike keuses te maak.
8. Jy raak verveeld.
Vind nuwe resepte en/of nuwe aktiwiteite terwyl jy jou gesondheidreis voortsit. Vra jou dieetkundige vir raad, of sonder tyd af om navorsing te doen en te beplan vir die week wat voorlê.
9. Jy dink dit gaan oor wilskrag.
Wilskrag is vir die meeste van ons van korte duur. Probeer eerder volhoubare gewoontes te kweek (soos om altyd jou waterbottel saam met jou te dra, nie voor jou rekenaar te eet nie, jou etes vir die week te beplan, of minder suiker in jou koffie te drink). As dit dink dit gaan alles oor wilskrag, voel jy dalk soos ’n mislukking die oomblik as nie 100% by jou doelwitte hou nie.
10. Jy vra nie vir ondersteuning nie.
Ondersteuningsgroepe, familie, vriende, jou dieetkundige of dokter kan almal ’n belangrike rol speel om jou gemotiveerd te hou om by jou gesondheidsdoelwitte te hou. Moenie in die strik van dieetkultuur trap en jouself met ander vergelyk nie. Elke persoon se situasie is uniek, en sommige van ons het meer ondersteuning nodig om ons gesondheidsdoelwitte te bereik.
- Liezel Engelbrecht is ’n geregistreerde dieetkundige van Kaapstad. www.liezelthedietitian.com.
- Besoek adsa.org.za vir ’n dieetkundige in jou area.
- Vrywaring: Hierdie hulpbron is slegs vir opvoedkundige doeleindes en is nie bedoel om ’n individuele assessering of behandeling deur jou dokter of dieetkundige te vervang nie.
Lees ook