Meer as 50% van mense sukkel deesdae met ’n sensitiewe vel. Is jy een? Verlig die ongemak van ’n rooi, jeukerig vel met hierdie wenke. Deur Suzanne Kotzé
Hoe weet jy of jy ’n sensitiewe vel het?
Baie eenvoudig gestel: as jou vel jeuk, brand en/of rooi word van goed wat geen uitwerking op iemand anders se vel het nie, en jy het nie ’n velsiekte soos ekseem of rosacea nie, het jy waarskynlik ’n senstiewe vel.
“Velsensitiwiteit beïnvloed 50% van alle mense en oor die algemeen meer vroue (60%) as mans (40%),” vertel dermatoloog dr. Ian Webster en eienaar van dermastore.co.za
1. Lees die bestanddele lysie
Jou vel toon ’n reaksie wanneer dit iets vreemds identifiseer wat nie in jou liggaam behoort te wees nie. Soms kan die die bestanddele in jou velsorgprodukte wees. “Hierdie reaksie of irritasie veroorsaak inflammasie wat die vel se herstelvermoë beïnvloed, kollageen afbreek (wat ons ouer kan laat lyk) en verswak die oppervlak,” sê skoonheidskrywer Paula Begoun. Die feit dat inflammasie ons vroeër kan laat ouer word is so algemeen dat daar selfs ’n woord daarvoor is; “inflammaging” of inflam-veroudering in Afrikaans.
Vermy daarom produkte met bestanddele wat moontlik jou vel kan irriteer, soos parfuum, kleurmiddels, bloekom, kamfer, kaneel, sitrus, laventel, peperment, natrium C14-16-olefien-sulfaat, natriumlaurylsulfaat en TEA-laurylsulfaat.
2. Toets nuwe produkte voordat jy dit gebruik.
Hierdie klink dalk soos moeite, maar dit is minder moeite as om ’n rooi vel te probeer kalmeer of toesmeer met onderlaag! Toets altyd eers ’n nuwe produk op ’n onopsigtelike plek op jou vel, soos agter jou oor. Wag 24 uur en as daar tekens van rooiheid of irritasie is, vermy die produk.
3. Was minder en sagter
Was droog jou vel uit, want saam met vuiligheid kan jy ook natuurlike olie (wat help bevogtig) van jou vel stroop. Probeer om daarom nie jou gesig meer as twee keer per dag te was nie en nie meer as een keer per dag te stort of bad nie. Hou die water louwarm en moenie te lank te stort of bad nie. Kies bevogtigende gesig-en lyfreinigers wat vir sensitiewe velle geformuleer is.
4. Bevogtig baie
Die sperfunksie van sensitiewe velle is gewoonlik beskadig. Die funksie voorkom dat allergene jou vel binnedring en ook dat vog onstnap (en hou dus jou vel vogtig). Die gereelde gebruik van ’n vogroom versterk jou sperfunksie.




(R700)

(R315)

5. Minder is beter
Minder bestanddele en minder produkte. Hoe minder bestanddele jou velsorgprodukte bevat hoe kleiner is die kanse dat jy vir een van die bestanddele sensitief kan wees. Hou jou velsorgroetine eenvoudig sodat jy kan weet watter produk die reaksie veroorsaak het.
6. Werk saggies
Probeer om jou vel nie te hard te vryf of te skrop nie as jy ’n sensitiewe vel het nie. Druk na ’n was jou gesig met ’n handdoek droog; onthou om nie te vryf nie! Vermy ook skroprome met korreltjies wat jou vel kan irriteer as jy reeds sensitief is. Vermy eerder alle afskilferingsprodukte terwyl jou vel sensitief voel.
7. Vermy uiterste temperature
Baie warm en baie koue weer is veral nadelig wanneer jy met ekseem sukkel. Oplossings daarvoor, soos lugversorging, is nie ideaal nie, want dit kan jou vel uitdroog en die sensitiwiteit vererger. Probeer dit vermy – slaap met oop vensters of spuit jou vel met ’n verfrissingssproei om koel te bly.
8. Kies katoen
Sintetiese materiaal en wol kan jou vel irriteer; kies eerder suiwer katoen as jy ’n sensitiewe vel het. Dit geld ook vir jou beddegoed.
9. Moenie net jou skoonheidsprodukte blameer nie.
“Hou in gedagte dat dit nie noodwendig die bestanddele is nie, want baie ander faktore kan tot velsensitiwiteit bydra, soos spanning, dieet en die humiditeit in die omgewing,” sê Karen Bester, velspesialis by Lamelle. Dermatoloog Dr. Heinrich van Rensburg stem saam. Hy sê een van die algemeenste wanopvattings oor sensitiewe velle is dat dit altyd ’n produkallergie is.
“Daar is gewoonlik ’n kombinasie van faktore. ’n Droë, gedehidreerde vel en produkte wat te sterk is, of wat te veel aktiewe bestanddele bevat, is wel belangrike oorsake.”
10. Kies aktiewe bestanddele versigtig
Ons is groot retinol liefhebbers, maar onthou altyd wanneer jy retinol produkte begin gebruik, jy stadig daarmee moet begin. Elke tweede of derde aand tot jou vel dit gewoond raak. Vermy dit ook om meer as een produk met retinol te gebruik. Moet eerder nie bensielperoksied saam met retinol gebruik nie. “Probeer ook liefs om Vitamiene C en Retinol op verskillende tye van die dag te gebruik,” sê dermatoloog dr. Ian Webster.
Lees ook: Raad vir ekseem gedurende somer