Wintermoegheid (selfs al slaap jy genoeg?) Hier’s dalk hoekom:

Indien jy hierdie winter ongewoon moeg, ongemotivieerd of emosioneel uitgeput voel is jy nie alleen nie. Dit is nie ongewoon om ’n verandering in jou energievlakke op te merk tydens kouer wintermaande nie, minder sonlig het ’n direkte impak op jou bui, gemoed en energievlakke, en in sommige gevalle kan bydra tot SAD (seasonal affective disorder) of SAV Seisoenale Affektiewe Versteuring

Ons loer na die oorsake van wintermoegheid en SAD, hoe om die verskil uit te ken en 6 klein veranderinge wat jou gevoel van moegheid tydens die winter kan verbeter. Deur Justine Kroes

Wat is SAV?

Navorsing dui daarop dat korter dae en minder sonlig die liggaam se interne klok kan versteur, serotonienvlakke wat beïnvloed word en melatonienproduksie kan verander, wat alles ’n rol speel in jou gemoed, slaap en energievlakke.

“Seisoenale Affektiewe Versteuring is ’n werklike biologiese reaksie weens die verandering van seisoen en verminderde blootstelling aan sonlig,”

So verduidelik psigiater dr. Norman Rosenthal, wat SAV in die 1980’s vir die eerste keer beskryf het. “Lig, veral sonlig, is een van die kragtigste reguleerders van ons gemoed, energie en slaap-wakker word-siklus.”

Sukkel ek met wintermoegheid of SAV? En wat is die verskil?

Om gedurende wintermaande effens meer moeg te voel is heeltemal normaal. Sodra die son begin sak en die ure van daglig verminder, sal ons liggame natuurlik stadiger begin funksioneer en meer melatonien begin produseer, jou hormoon wat help om jou slaap te reguleer.

SAV behels egter gewoonlik meer aanhoudende simptome wat ’n invloed op jou daaglikse funksionering het.

  • Aanhoudende moegheid, selfs ná genoeg slaap
  • ’n Somber bui, swaar gemoed en herhalende gevoelens van ongelukkigheid.
  • Jy sukkel om te konsentreer
  • Jy slaap heelwat meer as gewoonlik
  • Aanhoudende behoefte om soet kos of kosse hoër in vir koolhidrate te eet
  • Ongewone gebrek aan motivering
  • Onttrekking van sosiale aktiwiteite
  • Simptome begin tipies gedurende herfs en verbeter weer wanneer die dae langer, ligter en helderder word.

Hoekom gebeur dit?

Wetenskaplikes glo dat sonlig ’n belangrike rol speel in die regulering van die liggaam se sirkadiese ritme, die interne klok wat slaap, waaksaamheid en verskeie biologiese prosesse beheer.

Wanneer dagligure verkort, kan hierdie ritme versteur word. Minder blootstelling aan sonlig kan ook serotonien beïnvloed, ’n neurotransmitter (senu-oordraer) wat boonop jou bui en emosionele welstand en gemoed beinvloed, terwyl dit terselfdertyd melatonienproduksie reguleer.

Die gevolg? Jy voel meer slaperig, minder energiek en selfs emosioneel af.

Eenvoudig gestel: minder sonlig kan seine aan jou brein stuur wat dit laat dink dat dit tyd is om stadiger te beweeg en af te skakel om energie te bespaar.

6 Klein veranderinge wat wintermoegheid kan help

Hoewel ernstige simptome altyd met ’n gesondheidspraktisyn bespreek moet word, is daar verskeie eenvoudige strategieë wat kan help om jou gemoed en energievlakke gedurende die winter te ondersteun.

Baie gesondheidskenners beklemtoon dat die kombinasie van meer lig, gereelde beweging, voldoende slaap en sosiale kontak dikwels die grootste verskil maak wanneer dit kom by die bestuur van wintermoegheid en ligte simptome van SAV. Soms is klein, konsekwente gewoontes die kragtigste medisyne.

1. Kry vroegoggend sonlig

Oggendsonlig speel ’n belangrike rol in die regulering van die liggaam se interne klok.

Wanneer jy opstaan, maak dadelik jou gordyne oop, geniet jou eerste koppie koffie buite.

Selfs ’n baie vinnige stappie van 15 tot 20 minute kort nadat jy wakker geword het, kan voordelig wees.

Maak jou huis so lig as moontlik, hou gordyne bedags oop, skuif jou werkspasie nader aan ’n venster en benut elke straaltjie natuurlike lig. Selfs hierdie klein veranderinge kan help om jou blootstelling aan daglig te verhoog.

Ligterapielamp

Indien die son nog nie uit is wanneer jy opstaan nie, oorweeg ’n ligterapielamp

Ligterapie is een van die mees nagevorste behandelings vir Seisoenale Affektiewe Versteuring. Hierdie spesiale lampe boots natuurlike daglig na en word gewoonlik vir 20 tot 30 minute in die oggend gebruik. Dit kan help om jou liggaam se interne klok te ondersteun en simptome van wintermoegheid te verminder.

Hier is ’n paar opsies:

2. Begin jou dag met beweging

Jy hoef nie ’n marathon te hardloop nie. Vyf tot tien minute se strekke, joga of ’n vinnige stap in die vars lug kan help om jou liggaam wakker te maak en energievlakke te verhoog.

Fisiese beweging en aktiwiteit help om goedvoel chemikalieë in die brein te stimuleer wat ’n direkte impak het op jou bui en kan gevoelens van moegheid verminder.

3. Prioritiseer ’n konsekwente slaaproetine

Probeer om saans elke aand ongeveer dieselfde tyd te gaan slaap en soggens dieselfde tyd wakker te word. Konsekwente slaapgewoontes ondersteun ’n gesonde sirkadiese ritme.

4. Laat toets jou vitamien D vlakke

Minder sonblootstelling gedurende die winter kan by sommige mense tot laer vitamien D-vlakke lei.

Indien jy vermoed dat dit die geval kan wees, gesels met jou dokter of gesondheidspraktisyn oor ’n toets en ’n moontlike vitamien D aanvulling.

5. Bly sosiaal

Een van die maklikste slaggate gedurende die winter is om jouself af te sonder. Ons ken die gevoel, min lus om in die koue uit te gaan en sosiaal te wees. Maar moenie die impak van sosiale konneksie afskryf nie. Om tyd saam met vriende en familie deur te bring, of selfs net gereeld met ander mense in te skakel, kan ’n reuse positiewe verskil aan jou emosionele welstand maak.

En indien jy dit moeilik vind, beplan iets om na uit te sien. Winter kan vinnig eentonig en vaal voel. Die uitsien en afwagting na iets aangenaams, ’n koffie-afspraak, naweekuitstappie of vakansieplanne kan ’n positiewe uitwerking op jou gemoed hê.

6. Eet meer voedsame kos en minder trooskos

Hoewel dit aanloklik is om in die koue na koolhidrate en happies vol suiker te gryp, kan dit energievlakke mettertyd laat daal.

Fokus eerder op die inname van proteïene, gesonde vette, groente en volgraanprodukte wat help om jou energievlakke meer konsekwent en stabiel te hou.

Stylvol

Handige ekstra wenke en raad, spesiale afslag en wenke, slegs vir die binnekring.

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Oor ons

Stylvol sosiale media

Nog Stories
11 Wintergewoontes om jou gemoed te streel
error: Content is protected !!