Blomme is nie net mooi om na te kyk nie, maar wetenskaplikes het ook bewys dat dit goed is vir jou gemoed en selfs jou geheue kan verbeter. Deur Suzanne Kotzé
Wetenskaplike bewyse oor hoe blomme jou beter laat voel

1. Verminder spannning en angstigheid
Volgens ’n studie deur professor Erin Largo-Wight kan blomme in jou huis spanning verminder. Tydens die studie het 170 vroue vir 12 dae kerse, blomme of niks ontvang nie en moes vraelyste invul oor hul spanningsvlakke.
Op die dae wat hul blomme ontvang het, was hulle algemene spanningvlakke 9% laer.
’n Ander studie deur Ikei et al. het bevind dat, wanneer ons aan vars blomme ruik, spanning in ons liggame afneem, wat help dat ons brein (en ons) meer ontspanne voel.
Professor Jeannette Haviland-Jones se studie An Emotional Approach to Positive Emotions: Flowers (2005) wat oor ’n tydperk van 10 maande vir 147 deelnemers een van drie geskenke gestuur het; blomme, kerse of ’n vrugtemandjie.
Deelnemers het vir tot drie dae na hulle blomme ontvang het, minder angstig en depressief gevoel het.
2. Beter verhoudings
Professor Jeannette Haviland-Jones se bogenoemde studie het ook gevind dat blomme help om konneksies en verhoudings te bou. Deelnemers wat blomme ontvang het, het meer kontak met vriende en familie gehad nadat hulle blomme ontvang het.
3. Verbeter geheue in ouer persone
Die episodiese geheue van ouer persone het verbeter nadat hulle blomme ontvang het tydens die studie Secondary Effects of Flowers on Senior Retirees: Social and Cognitive Consequences Aangesien blomme luim verbeter, het dit bygedra tot die verbeterde episodiese geheue. Tydens die studie is blomme gestuur aan 113 persone met ’n gemiddelde ouderdom van 73 jaar oud. 81% van die deelnemers het minder depressief gevoel nadat hulle blomme ontvang het.
72% van die deelnemers wat blomme ontvang het, het beter gedoen in algemene geheue-toetse teenoor die wat nie blomme ontvang het nie.
4. Beter werksplek produktiwiteit en kreatiwiteit
Werknemers se vermoë om met idees vorendag te kom, kreatief te werk en probleme op te los, is hoër as daar blomme en plante in die werkplek is. So het navorsing van die Texas A&M Universiteit bevind.
Blomliefhebbers deel hoe blomme hulle beter laat voel
Susie Harris Leblond

Sielsalig en tevrede
Ek kry ’n diep, sielsalige gevoel van tevredenheid wanneer my blomme begin blom. Dit dit dui natuurlik op die begin van lente en dit lig dadelik my luim geweldig. Dit bring my soveel vreugde om my plante te sien groei.
Blommerangskik laat my gelukkig en kreatief voel
My familie kom beslis agter as ek my ‘Vrydagblomme’ doen.
Ek voel gelukkig, vrolik en kreatief, en dit is aansteeklik.
Ek is nie seker hoeveel my tieners werklik die blomme self raaksien nie, maar ek glo wel dat hulle op ’n diep vlak die sorg en aandag waardeer wat daaraan verbonde is om ons huis mooi te maak met vars pluksels uit die tuin.
Kim Black

Blomme weerspieël die diversiteit van die Skepping
Om vars blomme te sien herinner my altyd aan die pragtige diversiteit in die Skepping en die oneindige kleurpalet wat ons te sien kry
Blomme skep die gevoel van vryheid
Ek is mal daaroor om blomme te verf; blomme dra ’n gevoel van vryheid oor en dit inspireer my om dit op my skilderdoek te probeer vasvang. Dit is ook ’n manier om hulle altyd lewend te hou.
Blomme is ’n uitdrukking van liefde
Daar is verskillende redes hoekom blomme mense aanraak, en dit is so wonderlik om deel daarvan te kan wees deur skilderye vir my kliente te kan maak.
Blomme is waarlik ’n wonderlike uitdrukking van liefde in al sy glorie.