Vandag op 4 Maart is dit Wêreld Vetsugtigheidsdag en die tema vanjaar is “Everybody needs to act.” Deur dieetkundige Liezel Engelbrecht, RD (SA)
04/03/2022
Wêreld Vetsugtigheidsdag; om gesonde keuses makliker te maak.
Suid-Afrika se Gesondheidsdepartment het dit een stappie verder geneem, deur die boodskap by te voeg “to make healthy choices easier.”
Dit beklemtoon die feit dat dit ons almal se verantwoordelikheid is om vetsugtigheid te help bekamp. Dis maklik om mense wat oorgewig of vetsugtig is te stigmatiseer, deur te dink dis net bloot ‘n probleem van “te min oefen en te veel eet.”
Die komplekse oorsake van vetsugtigheid
Behalwe vir die rol wat ons gene en fisiologie speel wat sommige van ons meer vatbaar maak vir vetstugtigheid, dink bietjie aan die omgewings waarin ons woon en in leef: daar is ’n wegneemete-restaurant om elke hoek en draai, ons en ons kinders word bombardeer met advertensies vir ultraverwerkte kosse en drankies, en daar is gedurige 3-vir-1 winskopies op sjokolade, tjips en koekies (wat dikwels veel goedkoper is as die groente en vrugte vir aanbiedinge!).
By ons werkplekke en ons kinders se skole is daar dikwels min of geen gesonde versnaperinge by die snoepies te koop nie, en by die kantien is daar dikwels veels te baie diepgebraaide, lae-vesel middagete-opsies en te min gesonder opsie om van te kies.
In woongebiede waar werkloosheid hoog is, elektrisiteit bykans onbekostigbaar is, en water-aanleg en winkels ver van inwoners se woonplekke is, is dit selfs nóg meer verstaanbaar dat keuses gemaak word op grond van prys, gerief en beskikbaarheid.
Vetsugtigheid en verhoogde risiko vir siektes
Vetsugtigheid gaan egter nie oor ydelheid of liggaamsvorm nie, maar oor die verhoogde risiko vir siektes soos hartsiektes en tipe 2 diabetes, twee van die hoofoorsake van sterfte in Suid-Afrika. Dit beïnvloed die werking van ondermeer ons pankreas, ons lewer en ons hart, en verhoog ook die risiko vir sekere kankers. Dit kan ook ons slaap beïnvloed, en ons vermoë om optimaal produktief te wees. Al dié siektes beïnvloed natuurlik lewenskwaliteit en kan dikwels tot ongeskiktheid of sterftes lei. In ‘n land waar 7 uit 10 vroue oorgewig of vetsugtig is, en meer as 13% van kinders onder 5 jaar vetsugtig is (meer as dubbel die globale gemiddeld), is dit dus nodig dat ons dié probleem ernstig opneem.
Beveg en voorkom vetsugtigheid
Ons kan egter almal ons deel doen om vetsugtheid te help voorkom en te beveg. Dink na oor hoe jy in jou werkplek, jou kind se skool of in jou huisgesin ‘n verskil kan maak. Dit kan dalk so eenvoudig wees om te begin bewustheid skep vir die skade wat seker kosse aan ons gesondheid kan aanrig, of dalk kan jy en ‘n paar ma’s saam ‘n motivering skryf en aan planne probeer dink vir gesonder opsies by jou kind se skool. Borsvoeding help ook om vetsugtigheid te voorkom, so dalk kan jy ‘n borsvoedingsbeleid by jou werkplek aanvoer as een nog nie bestaan nie. Dit is baie makliker om vetsugtigheid te voorkom as om dit te behandel.
Ons kan ook probeer saamstaan om teen te staan as groot kosmaatskappye en winkelgroepe skaamteloos aan ons kinders probeer bemark – sosiale media is ’n magtige instrument!
Veranderinge gebeur dalk nie oornag nie, maar daar is oplossings. Dit vra egter dat elkeen van ons doen wat ons kan, waar ons kan.
Besoek www.worldobesityday.org vir meer inligting.
Aanvullende bronne:
- Statistics South Africa. Demographic and Health Survey 2016: Key indicator report. Pretoria: Statistics South Africa; 2017. https://www.statssa.gov.za/publications/Report%2003-00-09/Report%2003-00-092016.pdf
- Statistics South Africa. Mortality and causes of death in South Africa, 2017: Findings from death notification. Statistical release P0309.3. https://www.statssa.gov.za/publications/P03093/P030932017.pd