Kapenaars sal die gesukkel ken – dae se aaneen reën, als bly nat en klam, dan volg die ongewenste winter-skimmel. Skimmel in jou badkamer, teen die mure en selfs teen jou dak. Hier is meer oor die onaangename en ongenooide gas in jou huis, wenke om die verskillende tipes skimmel te identifiseer, hoe om dit veilig skoon te maak en te verhoed dat dit weer gebeur. Deur Justine Kroes
08/08/2025
Wat veroorsaak winter-skimmel?
Skimmel/muf floreer in ’n donker, klam omgewing met oormatige vog en beperkte lugvloei. Tydens koeler wintermaande hou ons deure en vensters meer toe om die koue uit te hou, wat veroorsaak dat ekstra humiditeit vasgevang word. Al die warm stoom van baddens, storte en selfs kos kook en klere droogmaak dra by tot die verhoogde humiditeit binne-in jou huis.

Risiko’s van skimmel:
Behalwe dat die skimmel aaklig lyk, kan dit potensiële risiko’s inhou:
Gesondheids-risiko
Skimmel kan allergieë en asma-simptome vererger en respiratoriese probleme veroorsaak.
Sktrukturele-risiko
Indien jy jou skimmel onbehandeld laat, kan dit skade aan verf, pleister, hout en selfs insulasie aandoen.
Onaangename reuke:
Skimmel gee ’n klam, muwwe reuk af wat aan materiale en meubels bly vaskleef.
Verskillende tipes skimmel
Volgens The Allergy Foundation South Africa en Panthera Technologies word die volgende tipes skimmel gereeld in Suid-Afrikaanse huise geïdentifiseer:
Cladosporium: Swart, groen of bruin. Word gevind op hout, materiale en matte. Kan respiratoriese irritasie, asma en selfs ’n vel-uitslag veroorsaak.
Aspergillus: Groen, wit, grys skimmel Meestal gevind op lugpype, insulasie en kan allergieë en longprobleme veroorsaak.
Penicillium: Blou of groen skimmel, gereeld op muurpapier, matrasse en klam materiale; kan sinusprobleme veroorsaak.

Stachybotrys (Black Mould): is ’n gevaarlike een, ’n slymerige donker groen (amper swart) wat op waterbeskadigde oppervlakke groei.
Kan mikotoksiene veroorsaak: moegheid, hoofpyn, respiratoriese en neurologiese simptome.
Hierdie kom ook gewoonlik voor waar daar klam areas is as gevolg van ’n pyp wat lek byvoorbeeld. Muwwerige reuke kan jou help om hierdie tipes skimmel te identifiseer.
Wenke om winter-skimmel te voorkom:
Weg met jou muwwerige skimmel, doen dit so:
Lugvloei is belangrik
Maak daagliks vensters en deure oop vir ten minste 10 tot 15 minute, veral tydens oggendure sodat vars lug deur vertrekke kan sirkuleer om vars lug deur te laat en klam lug te verwyder.
Verbeter ventilasie
Installeer ’n waaier wat lug uit ’n vertrek suig (extractor fan), hierdie sal veral goed werk in jou badkamer en kombuis. As dit nie moontlik is nie, plaas ’n waaier in die spasie, om die klam lug by ’n venster te help uitsirkuleer.
Probeer ’n ‘dehumidifier’ of vog-absorbeerders
Veral belangrik in klam vertrekke. Daar is talle verskillende elektriese dehumidifiers beskikbaar wat jy kan rondskuif van kamer tot kamer soos nodig. Hierdie slim masjien verwyder enige vog in die lug wat jou spasie skimmelvry laat.
Natuurlik vog absorbeerders soos sout, koeksoda of silicajel-houers kan ook ’n verskil maak.
Hou oppervlakke droog
Nadat jy gestort het, of in die kombuis gekook het, vee die klam en nat mure, spieëls, en teëls droog. Gee aandag aan hoekies waar water geneig is om bymekaar te poel.

Doen inspeksie vir versteekte of onsigbare lekkasies
Kyk onder wasbakke, agter toilette en naby vensterrame vir enige tekens van klamheid of water wat lek.
Skuif meubels weg van mure
Laat ten minste 5 tot 10cm tussen die muur en meubelstukke om lugvloei te verbeter; wanneer klam lug in hierdie spasies vasgevang word, is die kans goed dat skimmel hier sal groei.
Gebruik ’n “anti-mould” verf
Indien skimmel ’n gereelde probleem op ’n spesifieke area is, oorweeg dit om die area met ’n “anti-mold” of “mildew resistant” verf oor te verf.
Seël gapings en krake
Gebruik ’n waterdigte seëlmiddel rondom vensters, baddens en wasbakke om seker te maak water lek nie in die mure in nie.
Maak so jou winter-skimmel skoon:
Voordat jy begin skoonmaak:
Hou rubber handskoene, ’n gesigmasker en ’n beskermende bril byderhand.
Maak seker die kamer is goed geventileer en maak deur en vensters oop.
Opsie 1; Eko-vriendelik en effektief
Meng gelyke hoeveelhede wit asyn en water in ’n spuitbottel.
Sproei dit direk op die skimmel aan.
Los vir ten minste 1 uur
Skrop hierna met ’n borseltjie of spons.
Vee die area skoon met ’n lappie en droog dit goed af.

Opsie 2: Bleikmiddel of waterstofperoksied 3%
Meng een gedeelte bleikmiddel (soos jik) met 9 gedeeltes water.
Wees versigtig met klere en verwyder enige lap of materiale.
Sproei dit op die area aan en los 10 minute
Skrop die area hierna skoon en maak dit goed droog.
Toets eers ’n klein gedeelte van die area om seker te maak dit vlek of verkleur nie die oppervlak nie.
Opsie 3: Kommersiële anti-skimmel skoonmaakmiddels
Lees noukeurig die instruksies deur. Wees versigtig vir dampe in asem.

Professionele hulp:
Weet wanneer dit tyd is vir professionele en kudige hulp. Skimmel kan gevaarlik wees vir jou en jou gesin, indien jy onseker is kontak eerder ’n kundige op die gebied. Hierdie maatskappye kan help om die verskillende tipes skimmel te identifiseer met behulp van toetse, en hul span kundiges kan veilig jou skimmelsituasie onder beheer kry.
Die volgende kundiges bied skoonmaakdienste, laboratoriumtoetsing van lug, skimmel monsters en bied na besoek ’n verslag en plan van aksie vir jou spasie.
Home Inspection Services SA
Property Inspect 4u
Mold Detection SA
The Mould Medics The Mould Medics
Imperial Cleaning Services (Cape Town):







