Sukkel jy soms met jou blommerangskikkings en wonder jy of jy die regte ding met jou blomme doen? Ons het vir kenner en medestigter van Flourish Urban Flower Farm Susie Harris-Leblond raad gevra oor hoe om blomme te rangskik. Lees Susie se beste wenke hier; Deur Justine Kroes
07/04/2023
Susie se 8 beste blommerangskikking wenke
Dit is maklik genoeg om jou eie rangskiking tuis te skep, vertel blomkenner Susie Harris-Leblond “of jy nou blomme gebruik wat jy in die winkel gekoop het of blomme wat jy self gepluk het, volg ek gewoonlik die volgende stappe:
1. Besluit op ’n kleurpalet
Jou kleurpalet kan jou rangskikking maak of breek. As jy van bont en helder rangskikkings hou kan jy skakerings meng, maar indien jy (soos ek) ’n harmonieuse kleurpalet in ’n rangskikking verkies, verdeel dan liefs jou blomme volgens skakering. As daar teenoorgestelde kleurskakerings is, byvoorbeeld geel en pers, skei ek hul eerder en stel kleiner rangskikkings saam.

2. Knip stamme af
Deur die onderste gedeelte van jou blomme en loof se stamme af te snoei, sal jou rangskikking vir langer vars bly. Die metode laat toe dat die blomme en loof meer water absorbeer. Trek ook gerus blare van die stamme af wat onder die water gaan wees, dit verhoed dat die water en blomme slykerig raak.
3. Moet nie bang wees vir “forage” nie
Indien jy toegang het tot ’n tuin of groen spasie, moet nie bang wees om te “forage” nie (natuurlik met toestemming!). Wees op die uitkyk vir interessante teksture soos gras of verskillende groottes blomme of blare om by jou rangskikking in te werk. Ons kyk partykeer skatte in ons eie tuine mis wat iets unieks toevoeg tot ’n winkel gekoopte bos blomme.

4. Kies jou houer/vaas of blompot
Susie verduidelik “Ek probeer so ver moontlik wegbly van lang blomhouers, wanneer jy dit op ’n tafel plaas, is die stamme omtrent al wat jy kan sien. Ek verkies dit om korter blompotte of keramiekhouers te gebruik. Jy kan selfs klein bakkies gebruik vir ’n interessante rangskikking.”

5. Hou so blomme regop en bymekaar
’n Handige truuk om te verhoed dat blomme omval – gebruik kleeflint (sticky tape) en plak dit in ’n roosterpatroon (grid) bo oor mekaar oor die nek of opening van jou vaas of blompot en plaas blomme een vir een in elk van die openinge. Nog ’n truuk is om ’n stuk hoenderdraad in ’n balletjie te rol en binne jou keramiekhouer te gebruik om blomme se stamme in te druk en regop en bymekaar te hou. Die bonus van hierdie metodes gebruik is dat dit meer eko-vriendelik en minder toksies as blommeskuim is.


6. Loof eerste dan blomme
Verdeel jou loof en jou blomme om die rangskikkingsproses makliker te maak. Begin deur eers jou loof in jou blompot te sit en gebruik dit as die basis van jou rangskikking. Dit word dan die “raamwerk” van jou rangskikking verduidelik Susie. Volg hierna met jou blomme een vir een. Maak seker jou blomme verskil in hoogte en moet nie bang wees om om korter blomme in die middel van die rangskikking te plaas nie, en weer langer blomme op ander hoogtes. Dit skep interessante hoeke en diepte op jou blommerangskikking.
Loer hier hoe Susie dit doen:



Kyk hier na Susie se Instagram video
Van die gewilde blommerangskikking “trends” tans, is sag en romantiese tuinrangskikkings eerder as stywe formele rangskikkings. So kies enige blare en loof wat dalk afhang langs die kant om die sagte voorkoms te skep, is Susie se raad.

7. Moet nie van die water vergeet nie!
Wanneer jy tevrede is met jou rangskikking, moet nie vergeet om skoon water by te voeg nie. Dit is ideaal om daagliks die water te verander, dit sal jou rangskikking vir langer vars hou. Onthou, afhangend van vanwaar jou blomme af kom, is daar ’n wisselende vaaslewe. Blomme wat vars in jou tuin of van ’n plaaslike blomtuin af kom, sal gewoonlik nie so lank hou soos die blomme wat jy in die winkel koop nie, weens minder chemikalieë wat op die blomme gebruik word.
8. Plaas jou blommerangskikking op die regte plek
Hou jou rangskikking weg van lugreëling en uit direkte sonlig om die vaaslewe van jou rangskikking te verleng. Kombineer jou rangskikking met ’n gegeurde kers en geniet dit!
Susie Harris-Leblond en Tarryn Martin van Flourish Urban Flower Farm

Leer meer oor Flourish Urban Flower Farm hier.