Sukkel jy met kondensasie op vensters, koue vloere, donker vertrekke en onaangename klam reuke wat skielik verskyn? Hier’s goeie nuus, die meeste winterhuisprobleme is makliker om op te los as wat jy dink.
Ons deel vyf algemene winterhuisprobleme waarmee ons self sukkel en slim maniere om jou huis warmer, droër en meer leefbaar te maak hierdie winter. Deur Justine Kroes
5 Wenke vir jou winterhuisprobleme
1. Kondensasie
As jou vensters konstant wasem, is oortollige vog in die lug gewoonlik die oorsaak. As dit nie behandel word nie, kan dit tot muf en skimmel teen jou mure/dak lei.

Vee droog:
Nadat jy gestort het, of in die kombuis gekook het, vee die klam en nat mure, spieëls, en teëls droog.

Gee aandag aan hoekies waar water geneig is om bymekaar te poel.
Verbeter lugvloei:
Maak daagliks vir ’n kort rukkie vensters oop, selfs wanneer dit koud is

Installeer ’n waaier wat lug uit ’n vertrek suig (extractor fan), hierdie sal veral goed werk in jou badkamer en kombuis.
As dit nie moontlik is nie, plaas ’n waaier in die spasie om die klam lug by ’n venster te help uitsirkuleer.
Hou gordyne oop en laat lig in:
Hou gordyne effens oop gedurende die dag vir beter lugvloei en sonlig.

2. Klam of muwwerige reuke
Wintervog en minder ventilasie en reënweer kan vinnig daardie “klamhuis”-reuk veroorsaak.
Vermy die nat winter reuke so:
Was veral gereeld jou linne, handdoeke en badkamer matjies:
Was sagte meubels soos oorgooikomberse en kussinglope gereeld. Indien jy kan, maak dit droog in jou tuimeldroer om te verseker als word mooi droog.

Spasie tussen meubels en mure:
Moenie meubels heeltemal teen mure druk nie, spasie tussen meubels en mure help met lugvloei. Laat ten minste 5 tot 10 cm tussen die muur en meubelstukke om lugvloei te verbeter; wanneer klam lug in hierdie spasies vasgevang word, is die kans goed dat skimmel hier sal groei en onaangename reuke sal ontwikkel.
Probeer ’n ‘dehumidifier’ of vog-absorbeerders:

Veral belangrik in klam vertrekke. Daar is talle verskillende elektriese dehumidifiers beskikbaar wat jy kan rondskuif van kamer tot kamer soos nodig. Hierdie slim masjien verwyder enige vog in die lug wat jou spasie skimmelvry laat.
Jy kan natuurlik ook houtskool of vogabsorbeerders in kaste plaas.
Nog ’n opsie is absorbeerders soos sout, koeksoda of silikajel-houers wat ook ’n verskil maak. Strooi koeksoda oor matte voordat jy stofsuig, hierdie help om vog te absorbeer en neutraliseer onaangename reuke.
Doen inspeksie vir versteekte of onsigbare lekkasies
Kyk onder wasbakke, agter toilette en naby vensterrame vir enige tekens van klamheid of water wat lek.
3. Daklekkasies en drupplekke
Winterreën wys vinnig lekkasies uit waarvan jy dalk nie eers bewus was nie. Klein druppels kan vinnig in duur skade verander indien dit geïgnoreer word.

Hou ’n ogie oop vir:
Watermerke of borrelende verf op plafonne

Maak geute gereeld skoon om oorloop en oorspoeling van water te voorkom

Seël klein krake voordat swaar reën begin.
Loer veral na hoekies en areas rondom deure, vensters en versterrame na swaar reën en storms om moontlike lekkasies te identifiseer.

As ’n lekkasie erger raak of versprei, is dit beter om vroegtydig ’n professionele persoon te kontak om te verhoed dat enige strukturele skade aan jou huis gebeur.
4. Koue Vloere
Teëls en laminaatvloere kan ’n vertrek yskoud laat voel gedurende die winter.
Hier is wenke vir warmer vloere:
Gebruik groot matte:
Matte help om hitte te behou en maak teël- of laminaatvloere baie warmer onder voete.
Laag op laag:
Plaas kleiner matte bo-oor groter matte vir ekstra tekstuur en isolasie.

Oorweeg lopermatte (runners):
Oorweeg lopermatte (runners) in gange en in jou kombuis om sodoende groter spasies van jou koue vloer te bedek.

Kies dikker teksture matte:
Wol-, shaggy tipe matte gee ’n warmer gevoel as dun geweefde matte.
Hou gordyne saans toe:
Dit help om warmte en hitte binne die vertrek te hou en koue vanaf vensters te beperk.
Skuif meubels effens nader aan mekaar:
’n Meer kompakte uitleg van meubels laat ’n vertrek warmer en meer knus voel gedurende die winter.
5. Donker en koue vertrekke
Gelukkig kan ’n paar slim dekorveranderinge ’n groot verskil maak sonder ’n volledige oormaak en mooimaak projek.
Hier’s wenke om ’n donker vertrek warmer en ligter te maak:
Gebruik warmer ligte:
Verruil koel wit gloeilampe vir warmwit lig om onmiddellik ’n sagter, geselliger atmosfeer te skep.
Werk met lae van beligting:
Gebruik tafellampe, vloerlampe en kerse eerder as net een helder plafonlig. Verskillende lae van beligting bied diepte en tekstuur aan ‘n donker vertrek.

Voeg tekstuur by:
Maak gebruik van strooikomberse en strooikussings vir tekstuur en ’n warmer gevoel. Onthou weereens die gebruik van matte help ook ’n vertrek warmer lyk en meer uitnodigend voel.
Gebruik spieëls slim:
Plaas spieëls oorkant vensters of ligte om lig deur die vertrek te weerkaats.

Kies warmer skakerings:
Kleure soos karamel, olyfgroen, terracotta en sagte roomkleure laat ruimtes warmer voel as koue grys of spierwit skakerings.
Hou vensters lig:
Vermy swaar donker gordyne gedurende die dag en laat soveel natuurlike lig moontlik inkom.
Sluit hout- en natuurlike elemente in:
Hout, geweefde mandjies en natuurlike teksture en materiale voeg onmiddellik warmte by ’n ruimte en laat ’n spasie meer knus voel.
Soms is dit die klein veranderinge wat ’n vertrek van koud en donker na knus en uitnodigend transformeer.





