Hierdie tyd van die jaar sukkel baie van ons met droë lippe. Hier is kundige raad en wenke. Deur Suzanne Kotzé
Droë, gebarste en seer lippe is vir baie mense deel van die winter. Dit word dikwels veroorsaak deur die droër hitte binneshuis en laer temperature buite. Griep en verkoue, wat dikwels ook deel is van die winter, maak dat ons meer deur ons monde asemhaal en dat jou lippe as gevolg hiervan ook droër word.
5 Wenke vir droë lippe
Kaapse dermatoloog dr. Suretha Kannenberg en somatoloog Naomie Groenewald deel die volgende. Droë, gebarste en seer lippe is vir baie mense deel van die winter. Dit word dikwels veroorsaak deur die droër hitte binneshuis en laer temperature buite. Griep en verkoue wat dikwels ook deel is van winter, maak dat ons meer deur ons monde asemhaal en dat jou lippe as gevolg hiervan ook droër word.
1. Moenie droë lippe lek nie
Hierdie is ’n gewoonte wat jy moet breek. Alhoewel dit dalk aanvanklike verligting bring, vererger dit net die droogheid.
2. Vermy menthol, kamfer en bloekom
Baie lipbalsems het woorde soos ‘medicated’ of ‘cooling agents’ op die beskrywing. Dit sluit dikwels menthol, kamfer en bloekom in wat jou lippe kan uitdroog of droër kan maak. Vermy hierdie bestanddele en ook parfuum, geurmiddels, lanolien en salisielsuur.
3. Gebruik ’n vogsproeier (humidifyer)
Een van die hoofoorsake van droë lippe is droë lug. Om ’n vogsproeier tuis te gebruik kan voordelig wees. Dit help nie net om die lug minder droog te maak nie, maar kan ook help om verkouesimptome, wat droë lippe vererger, te verlig.
4. Drink genoeg water
Dehidrasie maak droë lippe erger en daarom is dit belangrik om water te drink gedurende die dag.
5. Smeer lipbalsem aan
Die gereelde aanwending van lipbalsem wat versagtingsmiddels bevat en vog inseël is die beste manier om droë, gebarste lippe te behandel.
Hierdie selfsorg-tegnieke kan help om droë, gebarste lippe te heel binne twee tot drie weke. Droë, gebarste lippe kan egter ook deur ’n allergiese reaksie, ’n gis infeksie of iets meer ernstigs veroorsaak word. ’n Voorganger van kanker, genoem actinic cheilitis kan ook die oorsaak wees van droë, velletjiesrige lippe en daarom is dit belangrik om ’n dokter te spreek as jou lippe nie beter raak nie. As jou mondhoeke die heeltyd kraak kan dit ook ’n teken van Sjogren’s sindroom (’n outo-imuunsiekte waar jou liggaam se immuunstelsel sy vogkliere aanval en gekenmerk word deur droë oë, mond en lippe) wees.
Kan jy verslaaf word aan lipbalsem?
Hierdie is seker een van die mees algemene vrae wat mense het. En soms wonder ons self hieroor. Die meeste navorsing en antwoorde wat ons al teegekom het sê nee. Hierdie verduideliking deur die Beauty Brains podgooi-aanbieders en wetenskaplikes in die die skoonheidsbedryf Perry Romanowski en Valerie George beantwoord dit nog vir ons die beste.
Jou vel stuur ’n sein vir nuwe selle
Jou vel is ’n baie gekompliseerde orgaan met veelvoudige lae. Die boonste lagie (die stratum corneum) bestaan meestal uit dooie, droë selle. Soos wat daardie selle afskilfer stuur dit ’n sein vir die dieper laag van jou vel (die basale laag) om nuwe vars velselle te vervaardig. Hierdie is ’n baie vereenvoudigde beskrywing van sellulêre hernuwing.
Lipbalsem kan die sein stadiger maak
As jy lipbalsem aanwend, skep jy ’n lagie wat keer (of verminder) dat vog verdamp vanaf die binneste lagies van jou vel. As jou boonste lagie nie droog is en afskilfer nie, kry die basale laag nie die boodskap om nuwe velselle te maak nie.
Jou vel moet opvang
As jy ophou om lipbalsem te gebruik, voel jou lippe skielik droog en jou basale laag moet vinnig weer nuwe selle begin vervaardig. Omdat jou lippe dan egter droog voel, wend jy weer lipbalsem aan wat vir die basale laag sê; “ alles is reg hier op die oppervlak, ons het nie nog nuwe velselle nodig nie.”
Die siklus herhaal
Sodra jou lipbalsem afgesmeer is en daar geen vogtige velselle is om die velselle wat uitdroog te vervang nie, voel jou lippe weer droog en jy wend nog lipbalsem aan.
En dit is The Beauty Brains se verduideliking hoekom jy “verslaaf” voel aan jou lipbalsem; jy het jou liggaam geleer om staat te maak daarop.
Stylvol-wenke vir droë lippe
Wend lipbalsem aan wanneer jy dit nodig het
Moet dit nie ’n gewoonte maak wanneer jy byvoorbeeld verveeld is en jou lipbalsem op jou lessenaar lê nie.
Wees versigtig vir lang-aanbly lipstiffies
Sommige lipstiffies (veral die tipe wat beloof om heeldag aan te bly) is geneig om jou lippe uit te droog. Let wel sommiges en nie almal nie.
Bevogtigende lipstiffies
’n Mens kry deesdae vreeslik baie lipstiffies wat meer soos ’n balsem werk. Kies dit eerder as mat lipstiffie as jou lippe droog en velletjiesrig voel. Soveel soos wat ons van mooi mat lippe hou, so min hou ons daarvan as die mat lipstiffie die velletjies net beklemtoon.
’n Ou tandeborsel en lipbalsem
As jy regtig baie dooie velletjies op jou lippe het (veral voordat jy ’n mooi rooi lipstiffie wil dra), neem ’n ou (skoon) tandeborsel, wend lipbalsem aan en borsel baie liggies oor jou lippe. In plaas van die tandeborsel kan jy ook ’n grimeerverwyderingslappie of sagte waslap gebruik. Let wel doen dit baie liggies! Daar is ’n hele paar ‘lipspkrop’ produkte op die mark, maar wees versigtig hiervoor. Van die wat ons al gebruik het, se korreltjies is te grof en kan seer lippe erger maak.