Wenkbroue is nou meer belangrik as ooit vantevore – dit en jou oë is omtrent al wat uitsteek agter jou gesigmasker. Jou wenkbroue dien as ’n raam vir jou oë, daarom is dit ’n uiters belangrike stap in jou grimeerroetine. Maak seker jou wenkbroue is reg gevorm, gevul en gestileer met hierdie handige wenke. Deur Justine Kroes
7 Goue wenke vir jou wenkbroue
1. Werk versigtig met jou haartangetjie
Moet nie jou wenkbroue al hoe dunner en dunner pluk nie, en werk versigtig met jou haartangetjie.
Grimeerkunstenaar Cheryl Parker het onlangs vertel hoe sy tydens inperking die haartangetjie weggebêre het en nie eenkeer aan haar wenkbroue gepluk het nie. Nou spog sy met voller, welige wenkbroue “Dit was nie altyd maklik nie en ek het myself soms, in die spieël vermy maar nou is ek dankbaar ek het deurgedruk”.
2. Kam wenkbroue opwaarts
Kam altyd jou wenkbrouhare opwaarts en dan na die kant toe, dit leer jou haartjies om in daardie rigting netjies te val en ook te groei.
3. ’n Goeie haartangetjie is belangrik
Belê in ’n goeie haartangetjie vir wanneer jy van die fyn ongewenste haartjies ontslae wil raak , met ’n goeie haartangetjie sal jy makliker die fyn haartjies kan raakpluk.
4. Vul altyd jou wenkbroue
Vul altyd jou wenkbroue in, dit gee jou ’n natuurlike ‘ontrimpeling’ en ook meer definisie aan jou gesig. ’n Grimeerkunstenaar het eenkeer vir my gesê, “jou wenkbroue is sussies, maar nie ’n tweeling nie”. Hulle is nie identies nie en hul hoef ook nie te wees nie, maar met die regte gereedskap (poeier, potlode ens) kan jy maklik meer simmetrie tussen die twee skep.
5. Poeier om te vul, potlood om te vorm
Gebruik jou wenkbroupoeier om gaatjies in jou wenkbroue in te vul en jou wenkbroue voller te laat lyk, en jou wenkbroupotlood om jou wenkbroue te vorm.
6. Kry die skakering reg
Kry die skakerings reg – Kies ’n wenkbroukleur so na moontlik aan jou haarkleur sodat dit natuurlik lyk. Jou wenkbroukleur behoort in dieselfde kleurfamilie as jou haarkleur te wees, maar altyd ’n ligter, valer, of koeler weergawe daarvan:
Grys of blonde hare – gebruik ’n bruingrys wenkbroupoeier.
Bruin of rooi hare -’n ligbruin wenkbroupoeier is hier die beste,
Donkerbruin of swart hare, gebruik ’n mediumbruin wenkbroupoeier – nooit swart nie.
Die wenkbroue moet ’n paar skakerings ligter as jou haarkleur wees sodat jou wenkbroue jou gesig sagkens omraam. Te donker wenkbroue is onvleiend en vestig die aandag op plooie om jou oë.
7. Tem hare met ’n jel
Gebruik ’n wenkbroujel om jou wenkbrouhare te tem en op hul plek te hou. Wenk: As jy nie ’n wenkbroujel byderhand het nie, gebruik ’n skoon maskaraborseltjie, spuit ’n klein bietjie haarsproei daaraan en kam jou wenkbroue netjies.
Kry die vorm reg:
Dit is ’n goeie idee om eerstens jou wenkbroue te laat vorm “shape” deur ’n wenkbrou-kundige, daarna kan jy self jou wenkbroue instandhou.
Die meeste vroue het van nature die regte wenkbrouvorm. Jy moet die wenkbroue net hier en daar ’n bietjie invul of verbloem om dit te beklemtoon; gebruik hierdie as riglyn:

- Die begin van jou wenkbrou moet in lyn met die buitekant van jou neus wees.
2. Die boog van jou wenkbrou moet in lyn met die buitenste deel van jou pupil wees.
3. Die buitekant van jou wenkbrou hou geleidelik op in lyn met die buitehoek van jou oog.
Vul wenkbroue so:
- Gebruik ’n borseltjie (wat lyk soos ’n maskara-borseltjie) en kam die haartjies opwaarts

2. Omlyn jou wenkbrou effens met ’n wenkbroupotlood, onthou, gebruik altyd die kleur die naaste aan die kleur van jou wenkbroue.

3. Gebruik ’n wenkbroupoeier en wenkbroupotlood om gate te vul, met kort opwaartse hale. Kam nou weer netjies met jou wenkbrouborseltjie om te keer dat dit oneweredig en streperig lyk. Die kam sal ook help om die kleur te versag en sodoende sal dit meer natuurlik lyk.

Probeer gerus hierdie:
Wenkbroupotlood
Met ’n potlood is dit altyd belangrik om ligter hale aan die begin van die wenkbrou te gebruik en harder te druk namate jy meer na die middel beweeg.
Wenkbroupoeier
Wenkbroupoeier gee die mees natuurlike voorkoms, druk die wenkbrou-borseltjie saggies in die poeier en wend met kort opwaartse bewegings oor jou wenkbrou aan, hierdie effek verseker dat die poeier (of potlood) soos haartjies lyk.
Wenkbroujel
Deursigtige wenkbroujel pas by almal, en dit hou daardie ontembare haartjies op hul plek.
Wenkbroumaskara
Werk so goed soos die jel maar bevat kleur wat hare netjies hou maar ook effens donkerder kleur.

