Al ooit gewonder hoe gereeld jy sonroom deur die dag moet aanwend? ‘n Skoonheidskenner deel haar top sonslim wenke om jou en jou gesin sonveilig te hou hierdie seisoen. Lees hier vir alles wat jy moet weet om sonslim te wees. Deur Justine Kroes
07/01/2025 opdateer
13 Sonslim wenke
1. Vermy hierdie produkte voor sonblootstelling:
Skoonheidskenner en velspesialis Sonette Donker verduidelik “wend eerder jou AHA’s wat vel effens afskilfer (alfa-hdroksisure) saans aan, hierdie produkte mag foto-sensitiwiteit van die son op jou vel veroorsaak.”
Sonette sê “moet ook eerder nie jou parfuum aanspuit as jy weet jy gaan in die son wees nie – dit kan moontlik sensitiwiteit en hiperpigmentasie veroorsaak op die areas waar jy aangespuit het tydens sonblootstelling. Dus is dit belangrik om jou reukwater aan te spuit op areas wat jy weet nie aan die son blootgestel sal word nie.
2. Anti-oksidante is een van jou sonslim vriende!
Anti-oksidante soos vitamien C en E asook Feruliensuur en Polyfenole behoort deel te vorm van jou velsorgroetine. Hierdie anti-oksidante dien as belangrike beskerming en beveg die vrye radikale van sonblootstelling.
3. Hidrasie is belangrik
Oormatige sonblootstelling is geneig om jou vel te dehidreer, dus is produkte wat silikone en hialuroonsure bevat goeie opsies om in jou velsorg-arsenaal in te sluit oor ’n somervakansie, verduidelik Sonette.
4. Wag ‘n rukkie na sonroom-aanwending
Het jy geweet jy moet minstens 30 minute voor sonblootstelling jou sonroom aanwend, sê Sonette. Dit beteken dit help nie om vinnig langs die swembad of voor jy in die see spring sonroom aan te smeer nie. Maak ’n gewoonte daarvan hierdie somervakansie om soggens na ontbyt almal met sonroom in te smeer voordat julle die huis verlaat, en dan weer aan te wend op die strand of gedurende ’n sonnige uitstappie.

5. Sonroom-aanwending, hoe gereeld?
Wanneer jy buite in die son is, veral as jy swem, is dit belangrik om elke een tot twee ure weer sonroom aan te wend. Nes ander produkte weer die effektiwiteit van jou sonroom deur die loop van die dag af. Dus is dit uiters belangrik om gereeld weer sonroom aan te wend (ja selfs die waterweerstandige sonrome!).

Dit is dalk ook ’n goeie idee om ’n tydhouer te stel om jou te herinner – want as ’n mens eers besig is om in die son en swembad te baljaar kan ’n mens vinnig vergeet hiervan, is Sonette se raad.
6. UPF klere bied nie genoeg beskerming nie
Klere of swemklere met ’n UPF (Ultraviolet Protection Factor) beskermingsfaktor is deesdae ’n gewilde sonbeskermingsmetode, veral onder dermatoloë. Sonette verduidelik hierdie metode help met beskerming teen die son maar behoort nie jou sonskerm wat jy fisies steeds moet aansmeer, te vervang nie. Veral op gedeeltes wat dalk nie deur die klere beskerm word nie.
Sonskerm en UPF klere saam is ’n beter idee.
7. Kies jou son-ure reg
Sonette sê, wees sonslim met die tye van die dag wat jy beplan om in die son deur te bring. Ek sou voorstel om direkte sonlig tussen 10:00 en 16:00 te vermy waar moontlik.
Probeer hierdie oulike toets, verduidelik Sonette – hoe langer jou skaduwee, hoe veiliger is dit om in die son te wees. Hoe korter jou skaduwee, hoe harder sal die UV-strale op jou vel wees.

8. Moet nie van jou kopvel vergeet nie
Sonette sê dit is uiters belangrik dat jy nie van jou kopvel moet vergeet nie, veral as jy kort of dun hare het. Gebruik ’n sonskermsproei wat aanwending op ’n kopvel baie makliker maak.
9. Wenke vir sonbrand
Sonbrand laat jou vel droog, seer en gedehidreerd, dink daaraan as inflammasie van die vel, sê Sonette. My beste wenk sal wees om ’n strelende Aloe Vera jel aan te wend (hou dit sommer in die yskas) wat inflammasie sal verminder.
Sonette gee nog ’n wenk – “gebruik ys om die inflammasie weg te streel. Ek gebruik sommer ’n ysblokkie op my vel in die stort, dit bring verligting aan hierdie songebrande areas.”
Vir minstens 7 tot 14 dae na ’n sonbrandsessie is dit belangrik om ’n goeie bevogtiger oor jou vel aan te wend (vir gesig en lyf). Maak seker hierdie vogroom bevat een of meer van die volgende bestanddele: Aloe Vera, Panthenol, Silikoon, Xylitol, Gliserien, Urea en Galambotter, is Sonette se raad. Probeer gerus die room:
10. ’n Hoed, sonbril en sambreel is nie genoeg nie
Sonette verduidelik, selfs al dra jy ’n hoed, jou sonbril en sit onder die sambreel sal dit steeds nie genoeg beskerming teen die son bied nie. 90% van UV strale kom van reflekterende oppervlakke, soos water en sand byvoorbeeld.

11. Moet nie van jou ore en nek vergeet nie!
Baie mense ontwikkel velkanker op hul ore, bloot omdat hulle vergeet om daar ook sonskerm aan te wend, sê Sonette. “Vandat ek my hare korter geknip het, is ek baie meer bewus van sonbeskerming agter in my nek en bo-op my ore.

Ek gebruik ’n wonderlike SPF 50 poeier wat ek deur die loop van die dag aanwend. Ek het ook ’n hele klompie oorbelle wat ek nie maklik kan verwyder nie, en hierdie maak die aanwendingsproses net soveel makliker, verduidelik Sonette.
12. Gaan vir gereelde besoeke
Sonette sê, wees vooraf sonslim en gaan vir gereelde velondersoeke. “Elke liewe Suid-Afrikaner behoort minstens een keer per jaar ’n dermatoloog te besoek om enige moontlike tekens van velkanker te ondersoek. “Mole mapping”is nog ’n moet en word gedoen om seker te maak al jou moesies is nog gesond en het nie gegroei nie.
13. Velsorg na vakansie
Na meer as gereelde aanwending van sonskerm (met al die olies daarin) oor die somervakansie, mag jou vel dalk ’n goeie afskilfering en skoonmaaksessie benodig. Sonette sê, besoek ’n professionele velterapeut om ’n “deep cleanse” en “extraction” te beoefen om seker te maak jou vel is mooi skoon en puisievry.

Sonette Donker is ‘n spesialis velsorgkundige, met meer as 25 jaar ondervinding. Sy het al saam met verskeie plaaslike en internasionale skoonheidshuise gewerk om produkte bekend te stel.