Oosterse gesigsdiagnose (Chinese Face-Mapping) is ’n metode wat deur velspesialiste en kenners gebruik word om die area waar puisies op jou gesig voorkom te analiseer wat aanduiding mag gee waar ’n moontlike wanbalans in jou liggaam bestaan. Byvoorbeeld puisies tussen jou oë kan ’n wanbalans in jou lewer aandui. Velfoendie Sonette Donker verduidelik die konsep aan ons (met prentjies daarby!), lees gerus hier: Deur Justine Kroes
25/03/2022
Meer oor die Oosterse gesigsdiagnose:
In tradisionele Oorsterse medisyne word die gesig gesien as die aanwyser vir gesondheid of siekte.
Die oorsterse gesigdiagnose glo dat elke area op die gesig verband hou met ’n interne liggaamsarea. Wanneer ’n uitbraak van puisies ontstaan, gebruik Oosterse medisyne die area waar die puisies opduik as riglyn om enige wanbalans in jou liggaam vas te pen.
Sonette Donker
Die Oosterse konsep van Yin en Yang speel hier grotendeels ’n rol. Wanneer die Yin en Yang energie goeie harmonie handhaaf, is daar ’n goeie balans tussen die twee. As daar ’n uitwerking van seer puisies op die gesig ontstaan, is die balans van Yin en Yang iewers in die liggaam onderbreek.
Sonette verduidelik “Natuurlik is dit belangrik om te onthou dat puisies in sekere areas van jou gesig bloot kan ontstaan as gevolg van ander oorsake soos wrywing (masker dra) of selfs komedogeniese produkte soos sekere grimering te gebruik.”
Die informasie is nie noodwendig vir gebruik vir mediese doeleindes nie, bloot ter illustrasie van die Oosterse aanslag tot gesigbehandeling.
Sonette sê “Ek het hierdie metode al ’n paar keer gebruik op kliënte wat aanhoudende “breakouts” op dieselfde areas op hul gesigte gekry het. In die meeste van die gevalle kon ons na ’n paar leefstyl-veranderinge die puisies laat minder raak”
Puisies op hierdie gedeeltes word gekoppel aan interne liggaamsareas:
Neus
Die opbou van puisies op die neus kan ’n wanbalans in die sirkulasie van jou hart aandui.
Puisies op jou neus kan ook voorkom as gevolg van gereelde neusblaas of gebruik van vetterige salf op droë vel, of selfs net die wrywing van ’n masker oor jou neus.
Onderste gedeelte van jou lip aan die kante
Puisies op hierdie gedeelte van jou gesig kan ’n wanbalans in jou eierstokke of testes aandui.
Sonette sê “Ek sien baie hiervan in my Skin Studio – baie van my vroulike kliënte sukkel met volwasse aknee as gevolg van stres. Hierdie stres veroorsaak ’n wanbalans in hul hormone wat lei tot die uitbreek van puisies op die gedeelte”.
Haarlyn, voorkop en wenkbroue
Puisies op hierdie area dui op ’n wanbalans in die volgende interne liggaamgedeeltes aan: jou blaas, spysverteringstelsel en jou niere. Byvoorbeeld as jy nie genoeg water drink nie, kan jou voorkop vol puisies of swartkoppies uitslaan.
Hoewel dit ook ’n moontlikheid is, kan sweet tydens oefening met ’n keps aan ook die puisies veroorsaak. Dit kan ook wees dat jy jou haarprodukte verander het of dat jy nie goed genoeg afgespoel het rondom jou haarlyn nie.
Onderste gedeelte van wang, kakebeen en nek
Puisies op die areas kan aandui dat daar ’n moontlike probleem mag wees met jou tande of tandvleis. Daar kan byvoorlbeeld ’n abses vorm onder ’n tand wat jy nie noodwendig eers voel nie. As puisies op die area anhoudend voorkom besoek jou tandarts.
Stres puisies kom ook gewoonlik net onder die kakebeen en nekarea voor.
Maskne, is ook ’n moontlikheid vir puisies op die area – veral as jy dalk ’n buff dra terwyl jy hardloop en sweet.
Tussen wenkbroue en onder oë
Puisies tussen jou oë dui aan dat jou lewer moontlik hard werk – veral as jy ryk kosse en alkohol geniet het. Jou lewer probeer dan hierdie kos- of drankkeuses “detoks” en jy mag dalk ’n “lewer puisie” ontvang in ruil daarvoor!
As jy sukkel met donker kringe onder jou oë kan dit ’n moontlike wanbalans in jou niere aandui. Probeer gerus meer water op ’n dag inneem.
Onderbroke slaap of min slaap kan natuurlik ook die oorsaak van jou donker kringe wees.
Wange
“Breakouts”, rooiheid, swelling en vergrote kapillêre op die wange kan sinusprobleme of long-sensitiwiteit aandui. Daar word ook geglo as longsensitiwiteit ontstaan sal daar heel moontlik ook vel-sensitiwiteit wees.
Dan natuurlik- om heeldag masker te dra kan ook irritasie op die wange veroorsaak deur aanhoudende wrywing en hitte.
Boonste gedeelte van jou lip
Puisies op die boonste gedeelte van jou bo-lip kan moontlik aandui dat jou voortplantingsorgane nie in balans is nie.
As jou lippe droog is kan dit aanduiding gee dat jou maag of kolon ongelukkig is. Verhoog jou vesel- en waterinname vir ’n beter balans in jou kolon.
Maak seker dat jou leefstyl en dieet nie ekstra druk op jou maag plaas nie – dit kan lei tot ’n ongewenste maagseer.
As jy sukkel met swartkoppies rondom jou liplyn, kan dit eenvoudig beteken jou lipsalf/stiffie/glans bevat te veel komedogeniese bestanddele.
Ken
Puisies, of selfs swartkoppies op die ken-area kan moontlik aandui dat jou hormone nie in balans is nie. Gewoonlik sigbaar rondom jou menstruele siklus. Oortollige androgene hormone hits ’n oorstimulering van oliekliere aan wat dan verstopte porieë veroorsaak.
Meer oor Sonette:
Sonette is die eienaar van die bekende velsorgkliniek Skin iD in Johannesburg. Sonette is ’n velspesialis met meer as 25 jaar in die industrie – daarby het Sonette ’n begeerte om nooit op te hou leer en innoveer nie. So is die konsep van “Skin Fundi” haar nuwe webtuiste en aanlyngemeenskap wat dien as ’n spasie vir opleiding en advies vir beide beginners en professionele velkundiges om meer te leer.
Sonette se vermoë om moeilike velkundige konsepte maklik verstaanbaar te maak is beslis haar gawe – volg haar op Instagram hier en Facebook hier, glo ons met elke “post” leer selfs ons iets nuuts!
Besoek Sonette se webtuiste www.skinfundi.co.za