Sodra die eerste herfsblare begin val, haal die meeste van ons, ons wintersklere uit en pas ons klerekaste aan by die seisoen. Min van ons dink egter daaraan dat ons ook ons velsorgroetines moet aanpas by die kouer wind en weer. Hier is algemene wintervelsorg-foute wat jy dalk maak. Deur Suzanne Kotzé
Sewe algemene wintervelsorg-foute wat jy dalk maak
1. Jy gebruik dieselfde produkte as in die somer
Gedurende die somer gebruik ons gewoonlik ligter bevogtigers, maar vir die wintermaande is ryker, meer bevogtigende formules nodig. Soos die lug kouer word, en die wind meer waai, verloor ons vel vog, en dit moet teruggesit word.
Oorweeg gerus die volgende
- gesigwas wat hidreer
- meer hidrerende room
- hidrerende gesigmasker





2. Jy drink nie genoeg water nie
Die meeste van ons drink veel meer koffie en tee of rooiwyn voor die kaggel en vergeet van water. Koffie, tee en wyn kan jou juis nog meer dehidreer. Probeer eerder ’n koppie rooibostee drink om warm te bly.
Wenk: gooi lemoenskyfies en heel kaneel in ’n beker water vir heerlike ‘winterwater’.
3. Jy is te wild met jou afskilferaar
Dit is goed om ’n afskilferaar te gebruik om van dooie velle ontslae te raak, maar as jou vel dalk reeds rooi, gedehidreerd of senstief voel, kan die oorgebruik van afskilferaars dit erger maak. Vermy afskilferaars met growwe korreltjies wat mikro-skeurtjies in jou vel kan veroorsaak of afskilferaars met hoë vlakke suur of alkohol.
Kies eerder afskilferaars wat sagkens werk. Mense dink dikwels verkeerdelik dat chemiese afskilferaars jou vel meer sal irriteer, terwyl baie tuisgebruik chemiese afskilferaars juis minder irriterend is as afskilferaars met growwe korreltjies.


4. Lang warm baddens en storte

Kyk, min dinge is so lekker soos om ’n warm bad te lê om op te warm en te ontspan. Te lang en te warm baddens en storte kan egter jou vel verder dehidreer. Hou die lang, warm bad vir ’n bederf en probeer eerder ’n louwarm bad of stort aangesien te warm water jou vel van natuurlike olies stroop. Druk jou vel liggies droog met ’n handdoek en smeer lyfroom aan terwyl jou vel nog klam is.
5. Jy bevogtig nie dadelik nadat jy gewas het nie
Dit geld vir lyf en gesigroom. Net nadat jy gestort/bad/gesig gewas het, is die optimale tyd vir hidrasie. Wend jou room aan terwyl jou vel nog klam is en seël die vog in. Maak dit ’n gewoonte om room aan te smeer terwyl jou vel nog klam is.
6. Jy vergeet van sonskerm
Net omdat dit nie warm is nie, beteken dit nie dat die son onskadelik is nie. UV strale is steeds teenwoordig, veral op helder wintersdae.
7. Jy vergeet van jou hande en lippe
Jou hande en lippe word aan meer wind en weer blootgestel. Smeer gereeld handeroom aan en dra handskoene as jy lank in die buitelug spandeer. Smeer lipsalf of bevogtigende lipstiffie aan.








