Dit kan ’n mens laat skrik om iemand ’n paniekaanval te sien kry, en ’n mens is nie altyd seker wat om te doen nie. Om kalm en ondersteunend te bly kan ’n groot verskil maak. Deur Suzanne Kotzé
Wat is ’n paniekaanval?
’n Paniekaanval is ’n skielike vlaag van intense vrees of angs wat fisiese simptome soos ’n jaende hartklop, duiseligheid, bewerasie, benoudheid op die bors, sweet of kortasem kan veroorsaak. Alhoewel dit oorweldigend voel, is paniekaanvalle gewoonlik nie gevaarlik nie en gaan dit dikwels binne 10-20 minute oor.
Die persoon voel oorweldig
Sielkundige Gerda Kriel sê so ’n aanval gebeur gewoonlik wanneer jy oorweldig voel en jou senustelsel besluit dat wat ookal die eise op hierdie tyd is, is te veel en te groot en daarom ‘disconnect’ ons en dan is dit daardie gevoel van angs en dat jy buite jou liggaam is.
Hoe voel dit om so ’n aanval te kry?
Jeannie Badenhorst vertel dat sy al vanaf sy 21 is paniekaanvalle kry. “Dit het begin toe my pa siek geword het. Met my eerste aanval het ek glad nie geweet wat gebeur nie, maar daarna het ek opgelees daaroor. Hoe meer mense ingelig kan wees en “weet dit is ‘real’ en nie bog nie; hoe beter,” sê sy. Alles om jou raak te klein en jy haal al hoe vlakker asem. En soms weet jy nie eers waaroor die paniekaanval gaan nie.”
’n Anonieme vriendin deel: “Dit voel of jou hart en longe uit jou bors kas gaan bars. Dit voel of jy nie asem kry nie en probeer diep inasem om meer lug te kry. Maar dan snak jy juis na asem.
Dit voel soos om van lug te verdrink.”
Bly kalm en gerusstellend
Praat in ’n kalm, sagte stem en herinner die persoon dat hulle veilig is. Vermy dit om vir hulle te sê om te “kalmeer” of “hou op paniekerig raak”, aangesien dit hulle meer ontsteld kan laat voel. Nog een wat mens erger laat voel is as mense sê “dis niks nie”, sê Jeannie.
Probeer eerder frases soos:
- Ek is hier saam met jou.
- Jy is veilig.
- Kom ons fokus daarop om stadig saam asem te haal.
Bly by die persoon en bly kalm totdat die fisieke simptone ’n hoogtepunt bereik en begin afneem. Jeannie deel dat jy die persoon nie alleen moet los nie. “Wees net die heeltyd daar, jy hoef nie te praat nie, wees net daar.”
Gebruik grondingstegnieke
’n Welbekende tegniek wat deur sielkundiges gebruik word is die 5-4-3-2-1 tegniek.
- 5 dinge wat hulle kan sien
- 4 dinge wat hulle kan voel
- 3 dinge wat hulle kan hoor
- 2 dinge wat hulle kan ruik
- 1 ding wat hulle kan proe
Sielkundige Gerda Kriel sê egter dat sy dikwels net ’n 3-2-1 metode gebruik, want vyf goed is baie en veral as dit by proe en ruik kom kan dit dikwels oorweldigend voel. “Die maklikste sintuie om te gebruik is dit wat jy
- 3 dinge wat jy hoor
- 2 goed wat jy sien en
- 1 iets wat jy voel
Ek begin gewoonlik met die verste sintuig.”
Hoor
Is daar drie verskillende goed wat jy kan hoor? Watter vêr geluide hoor jy? Iets wat dalk buite die vertrek is (verkeer, of natuurgeluide) en dan goed wat binne die vertrek is.
Sien
Twee goed wat jy sien sien.
Voel
Een ding wat jy kan voel. ’n Tekstuur of een stukkie klere waarvan jy bewus is of die sonlig op jou gesig en.
Die doel van hierdie tegniek is om jouself te ‘ground’ en meer teenwoordig te wees. Om jouself weer tuis te bring na jou liggaam, na daardie gevoel van ‘disconnect.’
Kom ons sit jouself weer terug, kom ons gebruik jou sintuie terug na jou lyf toe.”
Haal stadig asem saam met die persoon

Paniekaanvalle veroorsaak dikwels vinnige, vlak asemhaling. Deur diep asem te haal kan jy jou liggaam truuk deur te dink jy ontspan.
Moedig stadige asemhaling aan. Boks-asemhaal is ’n maklike tegniek om te gebuik
- Asem in deur die neus vir vier tellings.
- Hou vir vier tellings.
- Asem stadig uit vir vier tellings.
- Hou vir vier tellings en herhaal.
Lees ook: Wat is boks-asemhaal, hoekom is dit so goed vir jou en hoe doen jy dit?
Nog ’n anonieme vriendin vertel dat graag die Wim Hof tegniek gebruik. Lees gerus hier hoe om die metode te gebruik.
Gee spasie
Neem die persoon buitentoe, of weg van baie mense en gee hulle spasie. Te veel vrae of mense wat gelyktydig praat, kan gevoelens van oorweldiging verhoog. Om bloot naby te bly en gerusstelling te bied, is dikwels genoeg.
Moenie die persoon probeer aanraak nie. “Geen aanraking of drukkies of vashou nie; nul, die persoon kort spasie om die situasie te verwerk,” sê Jeannie. Tensy jy spesifiek weet dat die persoon wel aanraking verkies. ’n Anonieme vriendin vertel dat om baie styf vasgehou te word, ‘soos ’n staande doodsgreep’ vir haar gehelp het. Maar hierdie kan slegs gedoen word as jy die persoon goed genoeg ken om te weet dit is wat hy/sy nodig het.
Weet dit is nie aansit nie
Nadia Prins, ’n skoolsekretaresse vertel dat daar veral baie hoërskooldogters by hulle skool is wat angs/paniekaanvalle kry.
“Ek het eintlik nie besef hoe erg dit is en dat dit regtig n “attack” is en nie aansit nie. Dis asof hulle nie genoeg asem inkry nie.”
Nadia Prins
Buitelug
“Ons ontvangsdame het noodhulpopleiding en sy neem gewoonlik die persoon uit die gebou in die buitelug.”
Raak ontslae van warm klere
Sy sal die kind se baadjie of trui of serp afhaal en dan tel sy saam met hulle van 10 af na nul. En dan haal sy die asem saam met hulle.
Natuurlik as dit baie erg raak bel die ontvangsdame die ouers. Maar die dogters wat dit gewoonlik kry, ken sy al, en weet sy dadelik hoe om te hanteer. Meeste kere wil hulle net alleen wees en net tot “verhaal” kom.
Suur lekkergoed of koue temperature kan help
Sommige mense vind dat die eet van ’n baie suur lekkerding help. Die intense suur smaak stimuleer die sintuie en lei die brein se aandag weg van die panieksimptome. Geestesgesondheidsdeskundiges sê sterk sensoriese ervarings; insluitend suur geure, koue temperature (soos ysblokkies) of sterk reuke; kan help om die persoon te grond tydens oomblikke van akute angs.
Weet wanneer om mediese hulp te soek
As die persoon borspyn het wat anders voel as vorige paniekaanvalle, bewussyn verloor, probleme ondervind om asem te haal wat nie verband hou met angs nie, of as jy onseker is of dit ‘n paniekaanval of mediese noodgeval is, soek onmiddellik professionele mediese hulp.
Nadat die paniekaanval verby is, moedig rus en hidrasie aan en, as paniekaanvalle gereeld voorkom, ondersteun hulle om hulp van ’n dokter of sielkundige te soek.





